ADVERTISEMENT:

 

 
 

Sannie Fourie (79) is Maandagoggend oorlede. Foto verskaf

Legendariese Tannie Sannie Fourie oorlede

Date: 14 June 2024 By: Nic Hoffmann

Familie, vriende, kennisse en almal wat haar geken het is dit eens – Sannie Fourie (79) se afsterwe Maandagoggend, 10 Junie om 11:00, is vir die Soutpansberg ‘n groot verlies. In lewe was sy nie net die matriarg van haar gesin en familie nie, maar ook die dryfveer agter een van die streek se grootste en mees suksesvolle besighede, Limpopo Melkery. Die leemte wat sy laat, kan nie gevul word nie en sal nog lank gevoel word in haar onmiddellike omgewing, en nie net onder haar naasbestaandes nie.

Susanna Maria (Ueckermann) is op 19 Oktober 1944 in die destydse Messina gebore en daar opgegroei. Haar pa was daar op die myn werksaam, maar het ook in die polisie diens gedoen. Sy het haar man, Tobie Fourie, daar ontmoet en hulle is in 1965 getroud – ‘n huwelik wat 59 jaar sou duur.  Vier kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Rona, Francis, Joubert en Tobias. Oudste dogter Rona het hulle egter ontval in ‘n motorongeluk.

Saam het hulle in daardie omgewing met sitrus en beeste geboer, met Tobie wat die boerdery behartig het en sy die administrasie, finansies en sommer alles wat nodig was om die boerdery suksesvol te laat verloop. Haar skoolloopbaan by die Handelskool in Pietersburg het haar voorberei vir die toekoms en sy was net wat Tobie nodig gehad het as ‘n maat.

In 1979 het die twee die groot stap geneem om ‘n melkery te koop. Van hulle 15 koeie het net sewe in daardie stadium melk gelewer, maar hulle sou spoedig uitbrei – tot so ‘n mate dat hulle in Desember 1984 die plaas Ledig buite Louis Trichardt gekoop het en stelselmatig die besigheid uitgebou het tot die suksesverhaal wat dit vandag is.

Al die Fouries – pa, ma, kinders en skoonkinders – was op een of ander manier by die boerdery betrokke. Oudste seun Joubert het in 1992 daar ingeval, terwyl Tobias in 1994 by hulle aangesluit het. Dogters Rona en Francis, asook skoondogters Martlie en Greta het almal hand bygesit, tot in 2011, toe die besluit geneem is dat die vrouens nie langer sou deel wees van die besigheid nie.

Ten spyte daarvan dat Sannie nie meer aktief deel van die daaglikse bedryf van die melkery was nie, was haar invloed oral duidelik sigbaar en voelbaar. Sy het respek afgedwing by almal wat met haar in aanraking gekom het en het nie nonsens geduld nie. Haar kinders beskryf haar as liefdevol maar streng en eerlik, reguit en op die man af.

Joubert lag as hy sê sy was “die kwaaiste ma op twee bene ... Ons het geweet my pa is die eienaar van die melkery, maar my ma was die baas.” Skoondogter Martlie is gou om by te voeg, “Ja, en sy moes niks nie...” (Niemand het vir haar gesê wat om te doen nie.) Vir dogter Francis staan haar ma se deernis en liefde vir haar kleinkinders en agterkleinkind uit. “Sy was die beste ouma. Sy het hulle nie bederf met aardse goed nie, maar met aandag en liefde. Sy wou net die beste vir hulle hê.” Kleindogter San-Marie, wat haar ouma se naamgenoot is, beaam dit heelhartig. San-Marie is ook die ma van Sannie se enigste agterkleinkind.

As gelowige kind van die Here het Sannie haar kant gebring in die kerk, op verskeie manier. Sy was beide ouderling en diaken oor ‘n lang tydperk en ‘n voorslag by die aanbied van funksies. Haar talente het ook verder gestrek en sy was lid van die VLU en die tuinbouklub. Daarby het sy moeite gedoen om te help sorg vir mense wat dit nie self kon doen nie. Ten spyte daarvan dat sy streng en reguit was, het sy ‘n hart gehad vir ander mense en genoeg omgegee om ‘n verskil te maak in hulle lewens.

In 2018 het Sannie ‘n beroerte gehad wat die linkerkant van haar liggaam verswak gelaat het. Toe nierkanker in 2019 by haar gediagnoseer is, het haar gesondheid ernstig begin agteruitgaan. Sy het nie chemoterapie ondergaan nie, maar verkies om eerder natuurlike middels te gebruik om dit te beveg. En geveg het sy, tot haar toestand in September 2023 drasties vererger het en sy bedlêend was. Nogtans het sy dapper en vol moed gestry, totdat sy Maandagoggend, met haar familie om haar, vir een keer in haar lewe die knie moes buig. Vir haar familie was dit ‘n voorreg om tot op die einde by haar te kon wees en hulle is, saam met die hartseer oor haar heengaan, dankbaar dat sy verlos is van die pyn en lyding.

Die begrafnis vind plaas op Vrydagoggend om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente in Louis Trichardt (Haantjiekerk) en sal gelei word deur haar oudste broer se seun, Ds Danie Ueckermann van Nylstroom.

Die familie het die gemeenskap en almal wat hulle meelewing betoon het bedank vir hulle boodskappe en woorde van vertroosting. Hulle is ook dankbaar teenoor almal wat op een of ander manier betrokke was by haar versorging en verpleging die laaste maande voor haar dood.

 
 
 

Viewed: 1154

 

 
 

Nic Hoffmann

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT