ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Desiré Lombard (63). Foto verskaf.

'Ystervou' van Beja Hengelparadys skielik oorlede

Date: 07 June 2024 By: Andries van Zyl

Hierdie was weer ‘n hartseer week vir inwoners van die Soutpansberg met die nuus van die skielike dood van die 63-jarige Desiré Lombard.

“Die plaaskuiers sal nooit weer dieselfde wees nie. Die lang aande om knetterende Bosveldvure, lekker lag met jou skerp sin vir humor en natuurlik met al twee honde op jou skoot,” het haar familie gesê.

Desiré was in murg en been ‘n boorling van die Soutpansberg wat op 16 Januarie 1961 by die Elim Hospitaal gebore is. Sy was ‘n leerling van Levubu Laerskool vanaf Graad 1 tot die destydse Standerd 5 (Graad 7) en gedurende haar laerskoolloopbaan was sy ‘n kranige atleet, netbalspeelster, tennisspeelster en swemmer. “Graag het sy saam gesing in die bus skool toe en terug saam met juffrou Bets,” onthou haar familie.

Desiré was vanaf Standerd 6 tot in 1978 toe sy gematrikuleer het ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt. Ná skool sou sy ‘n sekretariële kursus aan die destydse Pretoria Tegnikon voltooi.

Haar studierigting sou van haar die eertydse Brig. Van der Merwe van die Suid-Afrikaanse Weermag se persoonlike assistent maak vir 18 jaar. Sy was ook werksaam by Muirhead & Roux as persoonlike assistent vir 20 jaar en sy was deel van die suksesvolle span wat die Eurogap mark betree het. “Sy was ‘n mens met soveel integriteit wat nooit geskroom het om die ekstra myl te loop nie,” het haar familie gesê.

Die laaste paar jare sal inwoners, veral gereelde besoekers aan die Albasinidam, haar onthou as die “ystervrou” van Beja Hengelparadys. “Ieder en elk het jou geken en hier het jy ook spesiaal omgegee vir elke kliënt, bekend en onbekend. Dit laat ‘n groot leemte in die Soutpansberg-gemeenskap,” het haar familie gesê.

“Sy was ‘n omgee mens, ‘n oop-hand mens. Kindertjies wat swaar kry het haar so na aan die hart gelê. Sy het gegee, gegee en dit laat ons dink aan die lied van Johannes Kerkorrel: ‘Gee jou sente, jou drome, jou klere vol gate, gee jou hart vir Hillbrow’,” onthou susters Marlene en Vanessa hul sussie.

Wyle Desiré Lombard se gedenkdiens vind eerskomende Vrydag, 7 Junie, om 11:00 vanuit die AP Kerk te 29 Tshirululunistraat in Louis Trichardt plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Wynand van der Westhuizen.

“Liewe Desiré, jou mooi herinneringe sal ons vir altyd diep in ons harte koester,” het haar familie gesê. Sy word oorleef deur haar ma Anthea Lombard, susters Marlene en Vanessa, en swaer Hendrik. Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor almal vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hierdie tyd van hartseer.

 

 
 
 

Viewed: 1461

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT