ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 100-jarige tannie Hettie Naudé is sekerlik een van die dorp en streek se oudste inwoners wat nog gretig is om aan vanjaar se algemene verkiesing deel te neem.

Op 100 is tannie Hettie nog gretig om haar kruisie te trek

Date: 25 May 2024 By: Andries van Zyl

Met baie mense wat wegbly van die stembus omdat hulle glo hulle stem gaan nie ‘n verskil maak nie, is min dinge in die lewe belangriker vir tannie Hettie Naudé van Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt. Sy het op 7 Maart vanjaar haar 100ste verjaarsdag gevier en is sekerlik een van die streek se oudste stemgeregtigdes wat aan vanjaar se verkiesing sal deelneem.

Tannie Hettie is natuurlik die ma van bekende en nou-afgetrede prokureur André Naude van Coxwell, Steyn, Vise en Naudé Ingelyf. Alhoewel die ore en oë al begin ingee het, is tannie Hettie nog geseënd met ‘n skerp geheue en onthou sy nog die eerste keer wat sy haar kruisie gaan trek het.

“Jy kon eers van 21-jarge ouderdom gaan stem; nie soos vandag nie,” het tannie Hettie gesê. Vandag kan jy vanaf 18-jarige ouderdom al gaan stem.

Die eerste verkiesing waaraan tannie Hettie deelgeneem het, was ‘n geskiedkundige een. Dit was in 1948, toe die Nasionale Party aan bewind gekom het. “Ek het by ‘n skool in Johannesburg gaan stem. Ons het die hele dag tougestaan. Laat die middag het ons eers kans gekry om te stem,” het tannie Hettie gesê.

Nog ‘n groot verkiesing wat sy onthou was die 1958 verkiesing toe Hendrik Verwoerd, wat deur baie beskou word as die argitek van apartheid, as Eerste Minister van Suid-Afrika verkies is. So ook onthou sy die dag toe hulle nuus ontvang het dat Verwoerd in ‘n sluipmoord aanval deur Grieks-Mosambiekse immigrant Dimitri Tsafendas op 6 September 1966 in die parlement doodgesteek is met ‘n mes. “Ek onthou dit nog baie goed. Ek was op die bestuur van die Lin Flora Blommekring in Johannesburg en ons het die middag ‘n vergadering gehad toe ons die nuus hoor. Ons was almal in ‘n vreeslik toestand. Ons het sommer die vergadering afgesluit en almal is huis toe,” het tannie Hettie gesê.

Sedert sy die eerste keer gaan stem het, het tannie Hettie nog nooit ‘n verkiesing “uitgesit” nie. Vir haar was die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 die grootste en belangrikste in haar lewe. “Ons was so op ons senuwees, want toe kom die ANC aan bevind. Ons het gedink hulle gaan ons almal die see injaag. Ons het blikkieskos gekoop, want ons het voorberei. Ons almal het gewonder wat gaan gebeur as die ANC aan bewind kom,” het tannie Hettie gesê.

Dertig jaar later gaan tannie Hettie vanjaar aan haar sewende demokratiese verkiesing ná 1994 deelneem. Maar hoekom vind sy dit so belangrik? “Omdat ek wil hê ‘n ordentlike en eerlike party moet aan bewind kom. Nie korrupte mense wat alles van ons wegvat nie. Daar moenie verkeerde mense in posisies sit wat nie opgelei is nie en nie ondervinding het nie ... dit is nou al 30 jaar en die armes het steeds nog nie skoon drinkwater of huise nie. Dit maak my seer,” het tannie Hettie gesê. Haar droom is vir ‘n skoon, eerlike land en regering.

Volgens tannie Hettie is die kans om op 100 nog haar kruisie te gaan trek ‘n voorreg. “Ek het vir die Here gesê dankie vir die genade dat ek nog lewe. Spaar my nog net hierdie rukkie dat ek nog my kruisie kan gaan trek. Miskien is daardie een kruisie net die kruisie wat die verskil maak,” het tannie Hettie gesê.

Mense wat nie wil gaan stem nie se optrede grens vir haar aan pligsversuim. Haar boodskap aan hulle was eenvoudig: “As jy nie stem nie, moenie kla nie. Dit is jou plig om te gaan stem,” het tannie Hettie gesê.

Op ‘n vraag of tannie Hettie kans sien vir die volgende algemene verkiesing ná die 29 Mei stemdag het sy uitbundig gelag en gesê: “O nee! Dan sit ek daar bo!” terwyl sy met haar wysvinger na die hemel beduie.

 

 
 
 

Viewed: 1020

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT