ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Willie de Beer (72) met sy nuwe kunsbeen wat kosteloos vir hom gemaak is.

Drie 'engele' gee vir oom Willie tweede kans in lewe

Date: 08 February 2024 By: Andries van Zyl

Agtien jaar gelede het die 72-jarige oom Willie de Beer van Louis Trichardt se lewe onherroeplik verander toe hy sy been net bokant die linkerknie verloor het en nou, vir die eerste keer in jare, is hy opgewonde om dalk weer redelik normaal en sonder die hulp van krukke te kan loop.

Oom Willie is 37 jaar gelede met terminale arteriosklerose gediagnoseer, wat daartoe gelei het dat sy linkerbeen 18 jaar gelede bokant die knie geamputeer moes word. Kort daarna het hy ‘n kunsbeen via ‘n staatshospitaal gekry. Dié het redelik goed gewerk vir so twee jaar, waarna oom Willie weer ‘n nuwe kunsbeen moes kry. Maar die tweede kunsbeen het vir hom eindelose moeilikheid veroorsaak en dié het in die pakkamer geëindig. “Hy het geloop waar hy wil en ek het geloop waar ek wil,” het oom Willie gesê.

Aan die begin van Desember het oom Willie ‘n opelugdiens van die AGS buite Louis Trichardt bygewoon. In die gehoor was Philip van Rensburg, ook ‘n kunsbeendraer. Oom Willie was daar sonder sy kunsbeen.

“Hier uit die bloute staan hy [Philip] tydens die diens op en sê: ‘Ons gaan hierdie oom help om ‘n been te kry.’ Ek dog toe by myself: Broer … dankie, maar jy weet nie waarvan jy praat nie. Daardie goed is baie duur!” het oom Willie gesê.

Nie lank daarna nie het oom Willie ‘n oproep ontvang van ortotis Johan Snyders nadat Philip vir Johan geskakel het. “Toe Johan my bel, het ek na hom toe gegaan daar by Elmien van der Goot se praktyk. Hy het vir my ‘n kwotasie gegee van hier by die R70,000,” het oom Willie gesê. Johan het hom ook gevra om sy ou kunsbeen saam te bring om te kyk of hulle hom nie weer reg kon laat werk nie. “Hy [Johan] het die been so gekyk en ‘n paar toetse gedoen en gesê ek sal dit nie maak nie,” het oom Willie gesê.

Oom Willie het herkou aan die idee van die nuwe kunsbeen oor Desember en Kersfees, maar hy het besef hy sou nie daardie tipe geld kon bybring nie. Hy is juis aanvanklik deur die Staatshospitaal gehelp, omdat hy nie ‘n mediese fonds het nie.

“Die agste Januarie toe bel ek vir Johan en sê vir hom ek dink ons moet maar verbyhou op die aanbod. Hy sê toe vir my hy sal kyk wat hy kan doen. Ek het aangeneem hy gaan vir my ‘n beter kwotasie uitwerk,” het oom Willie gesê.

Op 10 Januarie het oom Willie weer ‘n oproep van Johan ontvang. “Hy het gesê ek moet weer inkom, want hy wou mates neem. Weer dog ek dit is vir die nuwe kwotasie, maar twee dae later toe bel hy weer om te sê hy maak my been,” het oom Willie gesê.

Oom Willie het sy kunsbeen ontvang. “Ek kon dit nie glo nie. Hy het die been gemaak op sy koste. Is dit nie fantasties nie?! Hulle het my nie ‘n sent gevra nie,” het oom Willie gesê.

Nadat hy die nuwe kunsbeen ontvang het, moes oom Willie egter weer leer loop, omdat hy vir so lank net sy krukke gebruik het. Vir dié doel is hy na fisioterapeut Elmien van der Goot verwys. “Sy [Elmien] het vir my gesê die spiere in my onderlyf is nou so swak, ek sal uitmekaar val. Sy sal dit weer moet sterk maak. Elmien is so dierbaar. Hulle staan my by en is baie geduldig met my. Ek is vreeslik verstrooid. Met die eerste afspraak was ek ‘n uur laat. Die tweede afspraak het ek heeltemal vergeet van,” het oom Willie gesê. Hy was Maandag weer by Elmien. “Ek kan klaar voel dit werk,” het oom Willie gesê.

“Ek sê vir almal hierdie drie is drie engele in die dorp,” het oom Willie gesê. Hy het verwys na Philip, Johan en Elmien. “Saam met dit alles moet ek vir die Here dankie sê. Hy het, sonder dat ek eers daaraan gedink het, oor Philip se pad gekom om my te help. Ek is so dankbaar daarvoor,” het oom Willie gesê.

Volgens oom Willie is hy so bietjies-bietjies besig om die nuwe been in te loop en weer te leer loop. Oor watter impak die nuwe been op sy lewe gemaak het, het oom Willie gesê dit is ‘n geweldige aanpassing. “Die geleentheid om weer te kan loop … dit is amper soos ‘n tweede kans op die lewe. As ek by ‘n trap gekom het, het ek ‘n probleem gehad. Ek moet gaan sit en agteruit by die trappe op seil,” het oom Willie gesê. Die nuwe been gaan hopelik ook bestuur makliker maak.

Vir nou fokus oom Willie, met Elmien se hulp, om sonder die krukke weer te kan loop. “Ek is verskriklik opgewonde daaroor! Johan het my regtig wonderlik gehelp en Elmien ook,” het oom Willie gesê. Hy het ook weer sy dankbaarheid teenoor Philip uitgespreek, wat alles geïnisieer het.

 

 
 
 

Viewed: 1314

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT