ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 63-jarige Henk Breytenbach soos baie hom sal onthou. Foto verskaf.

Henk verloor dapper stryd teen Parkinson se siekte

Date: 02 February 2024 By: Andries van Zyl

“Dit is nie lekker nie, maar dit was tyd gewees. Ons was voorbereid gewees, maar toe dit gebeur, het dit ons steeds hard geslaan.” So het Freek Breytenbach, seun van die 63-jarige Henk Breytenbach wat Sondag, 28 Januarie, oorlede is, gesê.

Vir inwoners van Louis Trichardt het Henk geen bekendstelling nodig gehad nie. Jare gelede was hy vir lank verbonde aan die Universiteit van Venda. Hy was ‘n entoesiastiese motorfietsryer met sy kenmerkende driewiel-motorfiets en ook ‘n man wat ‘n passie gehad het vir kuns.

“Hy was ‘n baie rustige mens gewees en het ‘n heeltemal anderse siening oor die wêreld en mense gehad. Hy wou altyd die mense wat down in the dumps was, die ouens wat gesukkel het met dwelms of drank, probeer help. Sy hart was vir daardie mense gewees,” het Freek gesê.

Maar sy hulp het altyd met ‘n waarskuwing of les gekom. “Hy was ‘n harde ou gewees en sy woorde het altyd hard geval, maar hy het almal aangeraak met wie hy te doen gekry het. As dit nie met die biker-ouens was nie, was dit by die kerk. As dit nie by die kerk was nie, was dit in sy persoonlike hoedanigheid gewees. Hy het ‘n groot invloed op baie mense gehad, maar op verskillende manier,” het Freek gesê.

As mens het Henk baie passies gehad en voluit daarvoor gelewe. Sy grootste passie was sy liefde vir kuns. “Alles wat hier in die huis hang, die werke teen die mure, het hy geverf. Hy sou sy inspirasie kry in die oggend as hy wakker word en dan besluit: Vandag gaan ek dit doen!” het Freek gesê. Een van die dinge wat hy die liefste was om te verf, was kremetartbome. “Daar is ‘n hele paar van hulle wat ons teruggehou het wat ons onder die familie gaan uitdeel, dat almal ‘n ‘stukkie’ van hom het,” het Freek gesê.

Henk en sy vrou Marna is Soutpansbergers deur en deur. Die egpaar het mekaar ook hier op Louis Trichardt ontmoet, waar hulle familie woonagtig was. “As kind het hulle [Henk se ouers] die wêreld vol getrek en was hy omtrent in sewe verskillende skole gewees in ‘n baie kort tydperk, voordat hulle hier gevestig het. Van hier af is hy weermag toe gewees, waarna hy weer teruggekom het. Hier het hy my ma ontmoet en in 1991 is die twee getroud,” het Freek gesê.

Henk is aangestel by die Universiteit van Venda, waar hy ‘n lektor was in boutekeninge en -tegnici. “Hy was daar vir jare en dit is waar sy lewenspad begin het. Hy was ook baie goed bekend in die omgewing as ‘n uitmuntende teler. As ambagsman was hy ‘n baie goeie bouer gewees. Voltyds was hy by die universiteit en deeltyd het hy vir mense geteel,” het Freek gesê.

Henk-hulle het in 2005/6 na Nelspruit verhuis, nadat hy ‘n besigheid daar gekoop het. Daar het hy aangegaan tot en met 2012, toe hulle weer teruggekeer het na Louis Trichardt. Kort hierna is hy met Parkinson se siekte gediagnoseer.

“Hy het maar gesukkel met sy gesondheid weens die Parkinson’s. Ten spyte hiervan was hy ‘n sterk man gewees. Ons het altyd gesê hy probeer almal se laste op sy skouers dra. Hy was altyd die kalm ene gewees. Stadig gewees om kwaad te word en altyd op sy plek gewees,” het Freek gesê.

Baie sal vir Henk ook onthou weens sy besigheid Omega Drain Cleaning. Heel behendig het hy mense se verstopte dreine met die nuutste tegnologie gaan oopmaak met sy driewiel-motorfiets en klein sleepwaentjie agterna.

Henk se gesondheid het die afgelope paar maande skielik en dramaties begin agteruitgaan. “Van dag een af, ná hy met Parkinson se siekte gediagnoseer is, het die dokters ons gewaarsku dat hy met tyd al hoe meer en meer agteruit sal gaan. Die laaste twee jaar het hom heeltemal uitgeput. Dit het net erger geword en die medikasie het nie meer gewerk nie ...  op die einde was dit die Parkinson’s wat hom gevang het. Van Kersfees af het hy dramaties agteruit gegaan,” het Freek gesê. Vir hulle as familie was dit ook erg om die demensie te ervaar wat saam met die Parkinson’s gekom het.

‘n Herdenkingsdiens vir wyle Henk se lewe vind Vrydag, 2 Februarie, om 11:00 vanuit die PPK-gemeente in Louis Trichardt plaas. Hy word oorleef deur sy vrou Marna, seuns Johannes, Freek en Benjamin en dogter Karien.

“Ons wil as familie graag vir Nick en Rita Mienie spesiaal bedank. Hulle het absoluut uit hulle pad gegaan om my ma en ons as familie in alle opsigte by te staan. Hulle was om die beurt hier om te help,” het Freek gesê. So ook het hulle die gemeenskap van Louis Trichardt bedank vir die woorde van vertroosting en ondersteuning.

 

 
 
 

Viewed: 1569

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT