ADVERTISEMENT:

 

 
 

Elizma Dafel, Graad 9-leerling van CVO Skool Zoutpansberg, met haar koerantrok wat uit ou Zoutpansbergers gemaak is. Foto verskaf.

Koerantrok laat koppe draai tydens 'Kuns en Kaas' by CVO

Date: 17 November 2023 By: Pétria de Vaal

“Toe ek die rok moes aantrek, het ek soos 'n bruid gevoel. Twee mense moes my koerantrok optel, sodat ek na die saal toe kon loop sonder om dit te skeur,” vertel Elizma Dafel, Graad 9-leerling van CVO Skool Zoutpansberg.

Elizma was gewillig om hierdie rok, ‘n klasprojek van die Graad 9’s, aan te trek en ‘n lewende standbeeld te wees tydens die skool se baie geslaagde “Kuns en Kaas” geleentheid wat op 2 November gehou is.

Me. Ellen Michau vertel dat die vak, kuns (Graad 8 en 9), van vanjaar af verdeel is in beeldende kuns en drama. Sy is verantwoordelik vir die drama-gedeelte. Vir beeldende kuns moes albei grade elk ‘n uitrusting maak uit herwinbare materiaal, waarvoor punte toegeken is. Die gedagte het toe ontstaan dat die uitrusting deur ‘n leerder in elke graad gedra moes word tydens “Kuns en Kaas”. Die Graad 8’s kon slegs plastiek gebruik en het ‘n “rommelroos” gemaak. Elizma en haar klasmaats (Graad 9) het die koerantrok uit ou Zoutpansbergers geskep, wat “Haas Das se Nuuskas” genoem is.

“Verlede jaar is die eerste ‘Kuns en Kaas’ gehou.  Dit is hier waar ouers die geleentheid kry om leerders se kunswerke te siene te kry. Dit is alles kunswerke van ons leerders wat ingeskryf en beoordeel word as deel van die jaarlikse BCVO Kultuurfees. Kaartjies word verkoop en kaas en wyn word tydens die geleentheid geniet. Vanjaar het ons ‘n bietjie verder gegaan. Die saal is opgemaak soos ‘n woud. Gaste kon deur ‘n woudmeander loop en die kunswerke besigtig,” vertel Ellen.

Behalwe vir die twee klasprojek-uitrustings, was nog sewe ander lewende standbeelde te sien: twee mimiekkunstenaars, “De Oude Post”, ‘n woudnimf, “Gladiator”, “Spiderman” en “Wolverine”. Elkeen het ‘n houer gehad waarin ‘n donasie geplaas kon word. Die ander kunswerke is ook opgeveil en die kunstenaars het al die geld daarvoor ontvang. Net so kon die lewende standbeelde ook hulle geld hou.  Die kinders het dit baie geniet en waardeer. 

Elizma se koerantrok het beslis die oog gevang. “Die klasse het ontwerpe ontvang en moes alles beplan en aanmekaarsit,” deel Ellen, wat die drama-gedeelte van hierdie projek behartig het.

Elizma vertel dat hulle klas hierdie projek baie geniet het. “Die grootste deel van die rok is van koerante gemaak. Die onderste gedeelte van die romp was van gewone papier, sodat ons iets gehad het om die koerantpapier aan vas te maak. Ons het klein goedjies gebruik om die rok mee mooi te maak, byvoorbeeld met papierblomme, rynstene en roosgoud spuitverf.”

“Ek is baie dankbaar dat my klas my kon help en was verlig dat die rok betyds klaar was! Anja en Juffrou Ellen het aan die bokant gewerk en ek en Arista het die rompgedeelte gemaak. Jeandré het ook gehelp om sekere dele te vou,” sê Elizma. Sy vertel ook dat sy die rok so vir ‘n uur en ‘n half aangehou het. “Die rok self was nie ongemaklik nie, maar ek moes vir die eerste 20 minute daarmee op ‘n stomp sit, wat baie ongemaklik was. Toe ek later opstaan, was dit beter!”

Ellen vertel dat elke lewende standbeeld sy of haar eie vertoning moes doen, waarvoor punte toegeken is. “Elizma het uit ‘n koerant (Zoutpansberger van 2 November) ‘voorgelees’,” sê Ellen. Elizma vertel dat sy ‘n paar interessante feite en kort nuusberiggies in die koerant geplak het vir hierdie doel.  “Ongelukkig het party mense nie besef dat ek moes lees as deel van my vertoning nie! Dit was egter vir my ‘n voorreg om deel van die kunsuitstalling te wees,” sluit Elizma af.

 

 
 
 

Viewed: 1647

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT