ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 39-jarige Jacques Els.

Els is Kersfees by die huis

Date: 10 December 2012 By: Isabel Venter

Jacques Els sal hierdie Kersfees by sy huis tussen vriende en familie kan spandeer.

Die 39-jarige Els is Maandag in die Louis Trichardt Streekhof vrygelaat op borgtog. Hy was vir die afgelope vyf maande in aanhouding by die Departement van Korrektiewe Dienste in Andersonstraat.

Els se vrou, ouers, ouer broer en ‘n paar vriende het op ‘n bankie in die gallery gesit en mekaar omhels toe die landdros Els se borgaansoek toegestaan is. Els is op borg vrygelaat hangende sy appèlaansoek teen sy vonnis. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria sy petisie om verlof tot appèl toegestaan het.

‘n Verheugde Els het, terwyl hy gewag het vir sy vrylating, aan die Zoutpansberger gesê dat hy bly is om weer huis toe te kan gaan. Hy het gesê hy koester geen haat teenoor enigiemand oor die tyd wat hy agter tralies moes spandeer nie.

“Dit was die beste ding wat met my kon gebeur het. Dié tyd het my nader aan die Here gebring,” het hy gesê.

Els sien nou daarna uit hom weer vir sy vrou, Christie, te kan sorg, alhoewel hy goed besef dat hy dalk weer tronk toe gestuur kan word.  

Els het in Maart vanjaar, ingevolge 'n pleitooreenkoms met die staat, skuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die onwettige jag, handel en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte. Hy sal nou probeer om te appelleer teen sy vonnis. Hy is destyds gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf plus 'n verdere vier jaar. Die vier jaar vonnis is in geheel opgeskort. Hy moes ook R1 miljoen aan die Groen Skerpioene oorbetaal.

Aanvanklik het die klagte teen Els betrekking gehad op 38 renosterhorings, maar die getal is later aangepas tot 30. Els het in sy pleitooreenkoms verduidelik dat hy die renosterhorings aangekoop het met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig sou word. Hy het die horings aangekoop van sy medebeskuldigde, wyle mnr. Tom Fourie (51), wat later selfmoord gepleeg het. Die renosters is verdoof en hulle horings is geoes. Nie een is gedood nie. Els sou dan later vir bergingspermitte aansoek doen, maar voordat hy dit kon doen, is die horings vanuit sy woning in Thabazimbi gesteel. 

Na sy vonnisoplegging het Els ’n aansoek om verlof tot appèl gedoen, waarin sy advokaat aangevoer het dat Els se vonnis “ergerlik” was en dat hy in “toorn” gevonnis is deur die hof. ’n Boetevonnis en ’n opgeskorte gevangenisstraf, het hy gemeen, sou meer vanpas gewees het. Die eerste aansoek is deur die hof afgewys en daarom het Els se regspan hulle gewend na die Hooggeregshof.

Els is Maandag op R4 miljoen borg vrygelaat. Sy pa, broer en twee vriende het waarborge gelewer vir dié bedrag. Els se regsverteenwoordiger, mnr. Phillip du Toit, het Maandag gesê dat die Els-egpaar nie enige onderhoude wil toestaan nie. “Die belangrikste is dat Els gesond is,” het Du Toit gesê.

Du Toit het verder gesê dat, terwyl hulle wag vir ’n datum vanaf die appèlhof, hulle intussen die batebeslagleggingsbevel van die Staat teen Els gaan beveg. Die regspan, het Du Toit gesê, sal hierdie Vrydag die Bestrydingshof nader vir ’n hofdatum om die Staat se bevel te kan teenstaan.

 
 
 

Viewed: 321

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT