ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ou skoolgebou van Laerskool Louis Trichardt op die hoek van Krogh- en Erasmusstraat. Die gedeelte van die gebou heel links voor in die foto was die skoolhoof se kantoor langs die bedrywige Kroghstraat. Dié straat het vroeërjare reeds die hoofweg se verkeer na die noorde gedra. Die foto is vanaf die Geloftekerk geneem. Die skoolgebou is laterjare gesloop en die perseel verkoop. Foto verskaf.

Saad vir volwaardige laerskool reeds meer as 180 jaar gelede geplant

Date: 09 September 2023 By: Andries van Zyl

Die gelukkige wenner van die Zoutpansberger se 12de skattejag-kompetisie was past. Jan Wilkins. Die korrekte antwoord waarna gesoek is, was die klok by Laerskool Louis Trichardt.

Laerskool Louis Trichardt het sy ontstaan te danke aan die vêrsiende wyse waarop die Voortrekkerpionier Louis Trichardt meer as 180 jaar gelede die belangrike eerste saadjie van ‘n moderne kultuur van onderwys in die huidige Limpopo Provinsie gevestig het, toe die eerste skoolgeboutjie noord van die Oranjerivier gebou is, digby die plek waar later ‘n dorp tot sy nagedagtenis opgerig sou word.

In die Dagboek van Louis Trichardt is opgeteken dat op Saterdag, 22 April 1837, “Heb ouwe Daniël de kinderen in de school gesit” - ‘n verwysing na “meester” Daniël Pfeffer, wat op dié dag die strooidakskooltjie vir die kinders van die Louis Trichardt-trek amptelik begin benut het. Dié een-vertrek skooltjie is met groot sorg in opdrag van Louis Trichardt opgerig op grond wat deesdae die suid-westelike dorpsgebied van die huidige Louis Trichardt in die omgewing van die  munisipale vliegveld is as die heel eerste sigbare, moderne onderwysspoor in die noordelike gedeelte van die land.

Hierdie monument ter viering van die oprigting van die eerste skooltjie noord van die Oranjerivier is geleë in Louis Trichardt se eie Voortrekkerplein oorkant die Geloftekerk in Erasmustraat.

Sedert die vestiging van dié heel eerste skooltjie het daar in die 1850's ‘n skooltjie op Schoemansdal en in 1904 ‘n tydelike CNO-skooltjie op die dorp Louis Trichardt gekom en gegaan. Uit dieselfde jaar dateer die eerste “goewerment” skooltjie, Laerskool Louis Trichardt, wat bestem was om voort te bestaan.

Laerskool Louis Trichardt was regstreeks instrumenteel in die ontstaan van die twee ander eerste beduidende onderwysinstellings op die dorp, naamlik Hoërskool Louis Trichardt en Laerskool Soutpansberg. Die hoërskool het ontstaan uit ‘n senior afdeling in Laerskool Louis Trichardt en Laerskool Soutpansberg het ontstaan uit ‘n regstreekse verdeling vanuit Laerskool Louis Trichardt. Hoërskool Louis Trichardt het op 15 Januarie 1946 sy deure geopen en Laerskool Soutpansberg in 1960/61.

Laerskool Louis Trichardt het self heel beskeie begin as ‘n sinkgeboutjie op die hoek van Krogh- en Erasmusstraat in die huidige sentrale sakegebied van die dorp. ‘n Eiesoortige blik op die beginjare van die skool en die plaaslike samelewing aan die begin van die twintigste eeu word vervat in uittreksels wat ‘n voormalige adjunkhoof van die skool (en later ook burgemeester van die dorp) mnr. A.J.P. Verreyne uit die oorspronklike skooljoernaal saamgebundel het.

Laerskool Louis Trichardt het self heel beskeie begin as ‘n sinkgeboutjie op die hoek van Krogh- en Erasmusstraat in die huidige sentrale sakegebied van die dorp. Afgeneem is van die eerste kinders en onderwysers van die skool. Die foto is rondom 1904 geneem. Foto verskaf.

Die eerste inskrywing in die skooljoernaal is op 23 Januarie 1906 deur die eerste skoolhoof, mnr. G.E. McLeod, gemaak. Hy het op dié besondere dag aangeteken dat die Louis Trichardt Dorpskool heropen het met ‘n personeel van drie en ‘n leerlingtal van 50 – 26 seuns en 24 meisies. Op 30 Januarie 1906 het die inskrywings op 61 te staan gekom, maar geen skoolboeke is nog tot in daardie datum ontvang nie. Mnr. McLeod het klas gegee vir die senior kinders van standerd vier tot standerd ses. Mnr. Metton het onderrig vir standerds twee en drie behartig en mev. McLeod het die beginner grade en standerd eens onderrig, met Hollands as een van die belangrike skoolvakke.

Die eerste inskrywing in die skooljoernaal is op 23 Januarie 1906 deur die eerste skoolhoof, mnr. G.E. McLeod, gemaak. Hy het op dié besondere dag aangeteken dat die Louis Trichardt Dorpskool heropen het met ‘n personeel van drie en ‘n leerlingtal van 50 – 26 seuns en 24 meisies.

In dié  jare van grondpaaie en modderdrifriviere het die oorvloedige reënweer ‘n beduidende uitwerking op skoolbywoning gehad en het malaria ook sy tol geëis. Volgens die skooljoernaal was net 12 van die leerlinge op 8 Maart 1906 teenwoordig en het die hoof en twee personeellede ook onder malaria deurgeloop, wat veroorsaak is deur aanhoudende, deurdringende reën. Op 30 en 31 Mei van dieselfde jaar was die skoolbywoning weer minder as 20, weens bibberende koue weer. Die plaaslike reënval net vir November 1906 was 180mm. Die saak was eens so erg in die daaropvolgende twee jaar. Op 19 November 1908 en 21 Januarie 1909 het geen leerders by die skool opgedaag nie, weens die reën en gure weer wat tot diep in Maartmaand voortgeduur het. In ‘n inspeksieverslag op 25 Maart 1909 het inspekteur Mills aanbeveel dat die “Kersvakansie” verleng moet word, omdat dit van 19 Januarie tot 25 Maart vir 45 dae gereën het!

Skoolbywoning was ook andersins ‘n probleem, deurdat die senior seuns verkies het om ‘n sakgeldjie te verdien eerder as om skool te gaan. Die skoolhoof vermeld op 12 Maart 1907 in die joernaal dat van die seuns hulleself as arbeiders verhuur het om op die paaie te gaan werk – teen 30c per dag. Op 8 Oktober 1907 word vermeld dat die Nuwe Onderwyswet dalk kon help om die leerlingtal te laat vermeerder. Die groot mobiliteit van die mense in die omgewing het egter meegebring dat die leerlingtal in die eerste twee dekades dikwels geweldig gewissel het. Die mense het baie rondgetrek en in een kwartaal in 1918 het 100 leerlinge die skool verlaat. Lyfstraf was daardie jare nog ‘n aanvaarde tugmiddel. Die skooljoernaal verklaar plegtig op 29 Maart 1909 dat ‘n agtjarige seuntjie lyfstraf toegedien is “omdat hy sigarette gerook het”.

Onderwys het uit die staanspoor onder streng toesig geskied. Die skoolinspekteur (S.O. Purves), wat vroeg reeds in die heel eerste inspeksieverslag in 1906 beïndruk was met die gehalte van onderrig in “handskrif”, maar onder andere nie tevrede was met die standaard van Hollandse onderrig nie, het in ‘n opvolgbesoek in Junie van dieselfde jaar sy tevredenheid uitgespreek met die vordering wat die voorafgaande vyf maande gemaak is, ten spyte van die reën en malaria.

Laerskool Louis Trichardt soos dit vandag daar uitsien.

Op 1 September 1914 is Laerskool Louis Trichardt se eerste volwaardige skoolgebou op die hoek van Krogh- en Erasmusstraat in Louis Trichardt  betrek. Die skoolgebou, met sy klipfondamente en boogdeur-ingange, sou bykans ‘n halfeeu diens doen, tot die tweede kwartaal van 1961, toe die skool na ‘n groter en meer doelmatige perseel verder af in Erasmusstraat verskuif het en die huidige skoolgebou in gebruik geneem is. Die skool se hoeksteen is op 19 Augustus 1960 gelê deur mnr. S.G.J. van Niekerk (LUK).

 

 
 
 

Viewed: 920

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT