ADVERTISEMENT:

 

 
 

Links: Uit die sestigerjare ... Ons Tuiste Ouetehuis se eerste kombi wat deur Zoutpansberg Motors in 1965 geskenk is. Regs: Tannie Marie Eyssell stoot ‘n inwoner van Ons Tuiste in ‘n kruiwa deur Kroghstraat in ‘n poging om geld vir die tehuis in te samel. Matrone Williams dra die plakkaat op die rug. Die foto is ook tydens die vroeë sestigerjare geneem. Foto's verskaf.

Vir meer as vyf dekades bied Ons Tuiste ‘n veilige hawe

Date: 13 July 2023 By: Andries van Zyl

Ons Tuiste Ouetehuis op Louis Trichardt is voorwaar vir die Soutpansberg ‘n aanwins en bied al vir meer as vyf dekades ‘n vriendelike en veilige tuiste vir die streek se oues van dae. Ons Tuiste is ook die antwoord waarna die Zoutpansberger gesoek het in ons agtste fotoraai-kompetisie wat Maandag gesluit het.

Alhoewel die eerste stappe tot die oprigting van Ons Tuiste eers in Julie 1962 geneem is met die indien van ‘n aansoek in beginsel hy die destydse Louis Trichardt Stadsraad, is die gedagte rondom die ouetehuis reeds sedert die vroeë vyftiger jare al bespreek.

In sy boek Dorpsmense van die Soutpansberg, 'n Eeufeesgeskiedenis van Louis Trichardt (1899-1999), skryf Johann Tempelhoff: “Die eerste planne vir die oprigting van die gebou is reeds in Januarie 1955 aan die gang gesit toe die stadsraad goedkeuring gegee het dat die ouetehuisvereniging in terme van die wetgewing op welsynsorganisasies tot stand gebring kon word.” Tempelhoff vervolg verder: “In Februarie 1959 het die finans- en algemenedoeleindeskomitee in beginsel besluit dat die stadsraad die inisiatief sou neem om die tehuis vir bejaardes vir Louis Trichard gestalte te laat neem. Die raad was bereid om die nodige administratiewe steun te gee.”

Op 6 Augustus 1962 het die Stadsraad die aansoek goedgekeur en kort daarna ses erwe vir die bou van Ons Tuiste geskenk. In Maart 1965 is die bouplanne goedgekeur, waarna konstruksie in alle erns begin het. Gedurende April 1967 is die kontrak voltooi, waarna die tehuis op 9 September 1967 amptelik geopen is deur dr. H. J. Piek (waarvan ‘n foto van die openingsmuurplaat as foto-leidraad gedien het). Tempelhoff skryf in sy boek dat die stadsraad destyds ‘n bydrae van R52 876 gemaak teen die tyd dat die kompleks in 1967 voltooi is.

Die eerste voorsitter van die uitvoerende komitee van Ons Tuiste was rdl. John Byles. Die eerste 17 inwoners wat gedurende Mei 1967 hulle intrek in Ons Tuiste geneem het was (in hakies die hoeveelheid jare wat hulle daar gebly het) die egpaar B.M. Jacobs (18 jaar, maar mnr. Jacobs is ‘n maand ná sy intrek oorlede), die egpaar S. Viljoen (nege en 15 jaar), mej. S. Wolmarans (nege jaar), mev. C.J. Vorster (drie jaar), mev. C.J. Kruger (10 jaar), mev. V. Crocker (10 jaar), mev. G. Marais (16 jaar), mev. J.E. Kunz (vier jaar), mev. C. Potgieter (vyf jaar), mev. A.B. Prinsloo (nege jaar), mev. O. F. Kemp (nege jaar), mev. C.S. Badenhorst (13 jaar), mev. C.J. Coetzee (een jaar), mev. H. Botha (twee jaar) en mev. J.S. Richards (10 jaar).

Ons Tuiste Ouetehuis het op 9 September 2017 hulle 50ste bestaansjaar gevier. As deel van die feesvieringe het oom Bobbie Eyssell ‘n brokkie geskiedenis saamgestel van die tehuis waarvan hy vandag self ‘n inwoner is, danksy die versiendheid van sy ma, wyle tannie Marie Eyssell (gebore Albasini).

Oom Bobbie het geskryf dat dit sy ma se grootste lewenswens, droom en ideaal was om ‘n ouetehuis tot stand te bring in Louis Trichardt.

“Sy het as ‘n jong bruidjie saam met haar eggenoot, Tinus Eyssell, op die plaas Groblersplaas gewoon saam met Tinus se oupa en ouma Grobler. Tinus se moeder is met sy geboorte oorlede en sy grootouers het hom opgevoed. Die grootouers was toe reeds bejaard en dit was maar moeilike tye.”

Volgens oom Bobbie het sy ma begin navraag doen by die plaaslike owerhede. “Sy het met Ben Cronjé, Mannetjie Bergh, Coenie van den Berg en nog andere gesels en ‘n komitee is gevorm deur mense soos onder andere dr. Kirk-Cohen, mevrou Thompson, Hettie Mostert, Bertie Knott, Ben Lavin, Danie Opperman, Jurie Geldenhuys en die Bannatynes, asook mnr. Torrence en vele meer.

“Tinus het ná die oorlog op die handraad gedien by die Uniegebou en het kontak gehad met die destydse Minister van Gesondheid en Welsyn, waar hy die versoek tot die bou van ‘n ouetehuis aangevoer het. Tinus en sy gesin was huisvriende met generaal Jannie Smuts, die destydse Eerste Minister. Deur sy bemiddeling het die Departement Volkswelsyn alles daartoe bygedra om die konsep van die oprigting van ‘n ouetehuis goedgekeur te kry,” het oom Bobbie geskryf.

Oom Bobbie vervolg: “Marie en die komitee se volgende stap was om ‘n perseel te verkry vir die bou van die tehuis. Die veld langs die Sibasa-pad, waar daar nog geen uitbreiding was nie, is toe aangewys. Die huidige N1 was nog nie teen dié gedeelte nie. Dit het Marie nie afgeskrik nie en sy het gesê hulle gaan dit gebruik, en kyk nou net.”

Ma Marie, het oom Bobbie vertel, en haar spanlede het toe met mening ingespring en al wat boer, besigheidsmens, boukontrakteur en mense oral genader vir skenkings en hulp vir die insameling van fondse vir die groot projek. “Syself het op ‘n kruiwa wat deur iemand gestoot is deur die dorp gekollekteer en geld en beloftes ingesamel vir die groot taak. Tinus het self nooit die eindproduk gesien nie. Hy is gedurende Augustus 1960 oorlede aan ‘n hartaanval,” het oom Bobbie vertel.

Nog name wat betrokke was met die totstandkoming en bou van Ons Tuiste was Johny van Breda, Coenie van den Berg, Sybrand en Lettie Mostert, Hans en Hester Lombard, Frank en Dorothy Turner, Hugh en Bettie Sheldon, Bettie Noakes, ds. Vermaak, ds. Frier, Manie Eloff, Piet Myburgh en Otto Beck. Dan was daar ook Harry Coxwell en Fanie Botha.

 

 
 
 

Viewed: 1507

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT