ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Soutpansberg dorpswag se huidige kantore, aan die sykant van die gebou, is waar die ou kaartjieskantoor was en die Cinema Louis logo kan steeds teen die venster gesien word. Foto: Dawie Kruger.

Louis Trichardt het eens met eie bioskoop gespog

Date: 05 August 2017 By: Andries van Zyl

Tieners deesdae kla gereeld dat daar niks in Louis Trichardt is om te doen nie en sal baie moeite doen om in Polokwane te gaan fliek. Min inwoners weet egter dat Louis Trichardt eens op ‘n tyd ook met sy eie bioskoop gespog het.

Alhoewel nie meer in gebruik nie, is die ou bioskoopsaal steeds geleë in Munnikstraat in die ou Savewell-gebou. Dié bioskoop is die volgende besoekpunt in die Louis Trichardt Erfeniskomitee se “skattejag” en inwoners word uitgenooi om die bioskoop te besoek en “selfies” daar te neem en op die komitee se Facebook-blad: Erfenis Bewarings- en Bewusmakingskomitee: Louis Trichardt en Streek, te plaas.

Dopper Kruger van die plaaslike Erfenisstigting het bietjie gaan kers opsteek by ‘n paar oud-inwoners van die dorp om inligting oor die bioskoop te versamel. Hy vertel van sy eie herinneringe en inwoners is ook welkom om by bogenoemde Facebook-blad hulle herinneringe te gaan deel.

Barend J Metton, onderwyser en later skoolhoof van Louis Trichardt Laerskool (1916-1920) het die Louis Trichardt bioskoop  in ± 1930 begin in ‘n minerale waterfabriek-gebou, wat vroeër aan Japie Hirschonson behoort het. Metton het dikwels Johannesburg toe gery om die rolprente te gaan haal en weer terug te neem. “Barend Metton het gereeld komplimentêre kaartjies aan dominee J. J. F. van Schoor van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, oftewel die Haantjiekerk, gegee vir die Saterdagaandvertoning. Sondae het die dominee dan dikwels oor die vorige aand se rolprent gepreek,” het Dopper vertel.

Volgens mededelings van Oom W.A.S. Nel (Metton se skoonseun), was die rolprentvertonings  in daardie dae egter net vir blankes gewees, maar Metton het Indiërs toegelaat om die galery te sit.  So was die dorp se bekende Amy Chhaya glo ‘n gereelde bioskoopganger.

Johann Tempelhoff skryf in sy boek Dorpsmense van die Soutpansberg (Louis Trichardt 100) dat Metton se bioskoop vir baie vermaak, veral oor naweke, vir die dorp se inwoners gesorg het. In 1947 het Metton egter die bioskoop verkoop aan Coenie en Matty van den Berg. Tant Matty (gebore Hamman) het by die destydse Stadsraad gewerk en oom Coenie was ‘n vendusie-afslaer, sowel as ‘n raadslid. Hy was ook burgemeester in 1957 en 1970. Oom Coenie se seun Jannie was die projektor-operateur en tant Matty het die kaartjieverkope behartig.

Die Louis Trichardt Bioscope Hall was die enigste bioskoop en saal van die dorp en is dikwels gebruik vir boks, stoei, kunswedstryde en toneelopvoerings. Warm “SAP”en “NAT” vergaderings is ook in die saal gehou. Gelukkig kon daar nie stoele rondgegooi word nie, want die ysterstoele was aan die vloer vasgebout. 

Volgens mededelings van Theo Kuipers, Inez Pohl en Dopper Kruger het tant Matty orde gehandhaaf met haar sambok, wat gesorg het vir ordelike rye buite die bioskoop en wat oorywerige vryers tydens die fliek in toom gehou het.

In 1961 het Hannes Taute oorgeneem as projektor-operateur.  Daar was ook altyd ‘n klomp plekaanwysers en kaartjieskeurders, onder andere Theo Kuipers, Koos Wolmarans, Charles Kuipers, Dopper Kruger, Gert Kuipers, Francois Seegers, Marie Coetzee en Alan Snyman.  Hulle pligte was om plekke aan te wys, die kaartjies te skeur en om koeldrank en springmielies tydens pouse te verkoop.

Die afgeskeurde kaartjies moes behou word en is ingeryg aan ‘n tou.  Die oggend ná die vertoning moes daar vermaaklikheidsbelasting by die landdroskantore betaal word.  Somtyds het die inspekteurs van Binnelandse Inkomste die vertoning bygewoon en dan die teenwoordige bioskoopgangers met die hoeveelheid kaartjies vergelyk. Die rolprente is teen daardie tyd per trein laat kom en weer teruggestuur met die trein.

Dopper onthou dat die African Mirror (‘n nuusberig) en daarna ‘n reeks soos The Lone Ranger of Zorro voor pouse vertoon is.  In die tydperk 1965 tot 1967 was die gewilde rolprent Sound of Music vir sewe vertonings lank uitverkoop. Sommige bioskoopgangers het ook ‘n spesiale sitplek tydens elke vertoning beset (Holtman Fourie en sy vrou, Naas en Lettie Pohl, Freek Meiser asook Lorna Thompson). Freek het gewoonlik sy aankoms met ‘n luide groet aan almal bekend gemaak.   Die gordyn het dan met Billy Vaughn se lied Moon River oopgeskuif, sodat die vertoning kon begin. Tydens ‘n konsert het Charles Jacobie eenkeer met sy perd op die verhoog gery en sy cowboy-liedjies gesing

Volgens ‘n ou notule van die Stadsraad het G. J. Khoja in Junie 1948 aansoek gedoen om die bioskoop te koop.  Die eiendom sou in sy naam en die van ‘n ander blanke persoon geregistreer word, maar die aansoek is egter nie goedgekeur nie. Nog ‘n “nie-blanke”, George Mutambi, het volgens die Raadsagenda  van 28/6/1948 aansoek gedoen om op Erf 152, Tshikota, ‘n bioskoop te bedryf.  Hy het toestemming in Februarie 1949 daarvoor verkry, wat groot onmin in die Raad veroorsaak het omdat hy ‘n buitestander was.  ‘n Ene George Rhamabulana het glo ook in Oktober 1945 reeds toestemming verkry om op Erf 165, Tshikota, ‘n bioskoop te bedryf.

In 1965 het mnr. S.M.N. Brönn die bioskoop by Coenie gekoop. Brönn was die skoolhoof van Hoërskool Louis Trichardt van 1946 tot 1964 met sy aftrede. Hy en sy vrou, Henriëtte, sy seun Marius en sy skoondogter Petro het toe Cinema Louis bestuur. In daardie tyd was Attie Pohl van Robot Elektries en Ramesh Dave van Dave's Rent a Video/Louis Films die projek-operateurs.  Vanaf 1965 tot 1982 het Ramesh voltyds in die videobedryf ingegaan.

In Oktober 1976 het Brönn die Stadsraad in kennis gestel dat hy van voorneme was om vertonings spesiaal vir swartmense aan te bied. Die Raad se bestuurskomitee het egter geweier, alhoewel Asiërs tradisioneel toegelaat was om op die galery te sit.

Brönn het Cinema Louis aan Norman Pretorius verkoop.  Die koms van die videobedryf het dit egter nie meer lonend gemaak om die bioskoop aan die gang te hou nie en op 1 Desember 1981 het Cinema Louis finaal gesluit.  Die laaste rolprent wat vertoon is, was gepas Sound of Music.  Die Pretoriuse en hul skoonseun, Iain Purdon, het Savewells op die perseel begin.  Inwoners kan gerus die ou bioskoopsaal besoek.  Die Soutpansberg dorpswag se huidige kantore, aan die sykant van die gebou, is waar die ou kaartjieskantoor was en die Cinema Louis logo kan steeds teen die venster gesien word.

 
 
 

Viewed: 1114

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Barend J Metton, onderwyser en later skoolhoof van Louis Trichardt Laerskool (1916-1920) het die Louis Trichardt bioskoop  in ± 1930 begin. Foto: W. A. S. Nel.

Die Savewell gebou waar die saal en kaartjieskantoor van die Louis Trichardt Bioskoop besoek kan word is geleë te Munnik Straat 88, GPS koördinate: 23° 2'29.89"S  29°54'18.03"E. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT