ADVERTISEMENT:

 

 
 

In die afdeling vir junior meisies was dit weer Triegies se Christelle Coetzer wat met ‘n oorwinning weggestap het.

Triegies top skool by Tour de Plaas XCO

Date: 23 August 2019 By: Andries van Zyl

Hoërskool Louis Trichardt se fietsryspan sal op 31 Augustus alles in die stryd moet werp om onder die top drie skole in Limpopo te eindig in die finale ronde van die provinsiale Spur XCO-bergfietsliga, die Tour de Lake by Stanford College.

Met Triegies wat dié provinsiale liga die afgelope paar jaar oorheers het, het ‘n geweldige toename in deelname by ander skole die bordjies vanjaar bietjie verhang. Met drie van die vier provinsiale ligabepalings agter die rug, loop Stanford Lake College voor op die provinsiale punteleer met 465 punte. Kort op hulle hake is PHS met 462 punte, met Hoërskool Merensky in die derde plek met 458 punte. Tans beklee Triegies die vierde plek met 419 punte.

Dit gesê, het Triegies die afgelope naweek tydens die Tour de Plaas by Merensky (Tzaneen) letterlik stof geskop in hulle opponente se oë deur ‘n ongelooflike 203 punte die dag in te samel. Dit is die skool se beste vertoning tot op hede en ook die beste vertoning van alle skole in die liga vir die jaar wat totale punte per byeenkoms betref. Die skool wat Saterdag die tweede meeste punte ingesamel het, was gasheer Merensky, met 175 punte.

Veral Triegies se senior meisies ry vanjaar goed en het Saterdag weer vir die meeste Top 10 en podiumplekke gesorg.

In die afdeling vir junior meisies was dit weer Triegies se Christelle Coetzer wat met ‘n oorwinning weggestap het. Tans beklee sy ‘n eerste plek in haar afdeling op die provinsiale punteleer en met net een ligabepaling oor kan sy nie meer ingehaal word nie. In dieselfde afdeling het Triegies se Jennavieve Truter derde geëindig die afgelope naweek, met spanmaats Vossie van Zyl vierde en Dominique Nel negende. Jennavieve beklee ‘n provinsiale derde plek, met vyf punte wat haar en Vossie skei.

Triegies se Calvin Lee het aanhou beïndruk en weer tweede geëindig in die afdeling vir junior seuns uit 50 deelnemers. Hy hou daarmee vas aan sy provinsiale tweede plek en hy kan beslis dopgehou word tydens die Tour de Lake. Top 10 plekke in dié afdeling is ook ingepalm deur Ditau Mandobe, wat skitterend gery het vir ‘n vyfde plek, en Rohan Cronjé, wat sewende geëindig het.

Nog een van Triegies se ster fietsryers, Eliz-Marie Pretorius, moes Saterdag hard werk in die Youth-meisies afdeling. Sy moes egter tevrede wees met ‘n tweede plek na ‘n val kort voor die eindstreep. Spanmaat Michelle Steyn spog op haar beurt met ‘n negende plek in dieselfde afdeling. Triegies se meisies spog ook met drie Top 10 posisies in die sub-junior meisies-afdeling met Jessica Brandt vyfde, Mieke Veldman agtste en Isabella Jones 10de.

 

 
 
 

Viewed: 925

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT