ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die MTG Funerals-bakkie het ‘n reuse betonblok getref en saam met die betonblok teen ‘n boom tot stilstand gekom.

Wetteloosheid op paaie wys die krake in plaaslike wetstoepassing

Date: 25 April 2024 By: Andries van Zyl

Die wetteloosheid op die streek se paaie word al hoe duideliker weens ‘n skynbare totale gebrek aan wetstoepassing. Die feitlik daaglikse ongelukke wat in en om Louis Trichardt plaasvind getuig daarvan. Die tonge het nog geklap oor die ongeluk Saterdagaand by die huis van tannie Cora Claassens toe nog ‘n groot ongeluk Maandagoggend op die hoek van President- en Rissikstraat plaasgevind het.

‘n Groot spottery bestaan nou al onder inwoners dat niemand meer stop in Rissikstraat nie. Maandag se ongeluk was weereens bewys hiervan. Op videomateriaal kan gesien word hoe ‘n inwoner, mnr. Eduard Schuch, met sy bakkie in Presidentstraat stop, stilstaan en dan wegtrek om Rissikstraat te kruis in ‘n suidelike rigting.

‘n Voertuig van MTG Funerals, wat van oos na wes in Rissikstraat gery het, het skielik op spoed deur die kruising gejaag, sonder om blykbaar eers te probeer stop of spoed te verminder. Dit het die bakkie van die inwoner wat reeds in die kruising was, getref. Die impak het die voertuig dwars laat draai, waarna die MTG Funerals bakkie ‘n reuse betonblok getref en saam met die betonblok teen ‘n boom tot stilstand gekom het.

Op die video kan gesien word hoe mense wat agter op die MTG-bakkie gesit het, in die pad neer tuimel. Hulle, asook van die insittendes binne die MTG-bakkie, is per ambulans afgevoer hospitaal toe vir mediese behandeling. Schuch was gelukkig om met geringe besering van die ongeluk weg te stap.

“Daar was net een harde slag gewees! Ons vensters het gebewe,” het me. Natalie Archer van Archer Paint gesê. Sy en haar man het opgemerk dat niemand verbaas is dat die ongeluk plaasgevind het nie, aangesien motoriste bloot die stoptekens verontagsaam.

"Ja die publiek vat kanse, maar hulle vat kanse omdat daar geen wetstoepassing is nie," het Schuch na die ongeluk gesê.

‘n Navraag oor die ongeluk is na die Makhado polisiediens gestuur. Geen reaksie kon verkry word nie. Ure ná dié ongeluk het nog een plaasgevind - dié keer by die verkeerslig op die N1 waar dit met Songozwistraat en die R524 kruis. Dié ongelukstoneel het veral verkeersprobleme veroorsaak gedurende die laatmiddag spitstyd.

 

 
 
 

Viewed: 992

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT