ADVERTISEMENT:

 

 
 

Christelle Coetzer behaal 'n tweede plek tydens die Tour de Lake. Foto: Leonie Meintjes.

Triegies van krag tot krag

Date: 07 September 2017 By: Isabel Venter

Hoërskool Louis Trichardt se kanse lyk goed om op 16 September gekroon te word as provinsiale wenners van die Spur XCO-bergfietsliga.

Die maroen-en-goud-masjien het die afgelope naweek hulle posisie op dié gewilde reeks se punteleer verder vergroot tydens die derde rondte, die Tour de Lake by Stanford Lake College.

Net soos met die vorige rondtes spog Triegies met drie podiumplekke en nog 10 Top-10 posisies. Met die punte wat die skool gemaak het, lê hulle nog steeds eerste met ‘n totaal van 419 punte, met Stanford Lake tweede met 292 en Hoërskool Merensky steeds in die derde plek met 241 punte.

Richard Lambert, Christelle Coetzer en Eliz-Mari Pretorius het weereens geskitter in hulle onderskeie afdelings.

Richard klop sy naaste teenstander in die junior mans-afdeling met net meer as ‘n minuut om te spaar. Sy algehele tyd oor vier rondtes was 54:59.6. Matt Wilkinson van Stanford Lake College was tweede in ‘n tyd van 55:39.6, met Carel Smit van Hoërskool Piet Potgieter derde in ‘n tyd van 57:06.1. Turner de Swardt en Heine de Jager het ook uitgeblink in hierdie kategorie. Hulle stap, onderskeidelik, met ‘n vyfde en sesde posisie weg.  

Christelle Coetzer het ‘n ietwat moeilike dag gehad op die baan. Sy maak tweede klaar in die kategorie vir Youth-meisies, net bietjie meer as drie minute ná haar teenstander en die wenner, Ani Gutierrez-Hernandez van Stanford Lake College. Ani se tyd was 47:31.7. Christelle staan tweede op die podium in ‘n tyd van 50:40.1 met Lara Dando derde in ‘n tyd van 52:39.9. Nog drie Triegies het goed vertoon in hierdie kategorie, naamlik Jennavieve Truter (vierde), Karla “Vossie” van Zyl (vyfde) en Dominique Nel (agste).

In die kategorie vir sub-junior meisies het Eliz-Mari Pretorius weereens ‘n derde plek ingepalm. Haar teenstander, Jani Jordaan van Kingfisher Private, het eerste klaargemaak in ‘n tyd van 44:51.6, gevolg deur Amilia Goosen van Hoërskool Pietersburg in ‘n tyd van 54:49.7 en Pretorius in ‘n tyd van 55:58.4.

Roan le Roux mis net-net die derde plek in die Youth-afdeling vir seuns. Hy, Rohan Cronjé en De Wet du Toit het onderskeidelik vierde, vyfde en sewende posisie ingeneem.

Nog twee Triegie ryers wat ook in die Top-10 klaar gemaak het, was Annika Kotze en Ditau Mandobe wat albei negende klaar gemaak het in onderskeidelik in die sub-junior en junior kategorieë.

Die jong Triegies by Laerskool Louis Trichardt se span beklee steeds die derde plek op die punteleer. Laerskool Pietersburg Oos behou hulle eerste plek met ‘n stewige 739 punte, gevolg deur Unicorn Preparatory tweede met 361 punte en Laerskool Louis Trichardt derde met 244 punte.

Brendan Bruce het weer sy staal gewys en die bordjies verhang toe hy ‘n eerste plek inpalm in die seuns Nippers-afdeling.

In die sub-junior afdeling het  Michelle Steyn sesde klaargemaak. Nog ‘n Triegie wat in die Top-10 klaar gemaak het, was Jessica Taylor wat die sewende posisie gevat het in die Sprogs-afdeling.

Die fietsryers maak tans ernstig gereed vir die laaste rondte van die Spur XCO-skoleliga, die Tour de Lip op 16 September in die Hanglip-plantasie buite Louis Trichardt.

 
 
 

Viewed: 411

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Hoërskool Louis Trichardt se top bergfietsryer, Richard Lambert (regs), het weereens die top posisie gewen in die voorlaaste liga van die Spur Skole XCO-liga. Saam met Richard is mnr. Adriaan Mulder. Foto: Hoërskool Louis Trichardt.

Brendan Bruce, van Laerskool Louis Trichardt, spog met 'n eerste plek in die Nippers-kategorie ná die naweek se Tour de LakeFoto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT