ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Emilie Theron (70). Foto verskaf.

Skielike dood van geliefde Emilie kom as groot skok

Date: 31 May 2024 By: Pétria de Vaal

Die skielike heengaan van ‘n geliefde inwoner van die dorp, Emilie Theron, laat die gemeenskap in rou. Emilie het verlede Donderdagmiddag onverwags ‘n beroerte gehad. Rina Snyman en Lizette Kotzee het haar gehelp en sy is in die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem, waar dr. Emil Gaigher en hospitaalpersoneel haar bygestaan het. Sy is egter om 03:20, Vrydagoggend, 24 Mei, oorlede.

Emilie was die ontvangsdame by Laerskool Louis Trichardt – ‘n posisie wat sy sedert 11 Maart 2007 beklee het. Kollegas en die groter skoolgemeenskap het met swaar harte van haar afskeid neem.

Ilze Rheeder, Emilie se dogter wat ook in Louis Trichardt woon, vertel dat haar ma nog altyd baie gesond was en twee weke gelede haar sewentigste verjaardag gevier het. Emilie (née Van der Riet) is op 7 Mei 1954 in die Rustenburg omgewing gebore, waar sy aan Hoërskool Bergsig gematrikuleer het. “My ma het in Pretoria by die destydse Volkskas Bank gewerk. In hierdie tyd is sy ook met my oorlede pa getroud. Daarna is hulle Pietersburg toe en het in 1987/1988 na Louis Trichardt verhuis. My ma het vir ‘n geruime tyd by plaaslike prokureurs, onder meer André Naudé en Hendrik Liebenberg, gewerk. Daarna is sy Triegies toe, waar sy vir 17 jaar werksaam was,” sê Ilze.

Die familie noem dat sy op haar skaam en stil manier ‘n groot impak op mense se lewens gemaak het. “Sy was hardwerkend, stiptelik en met haar oop hart sou sy altyd die ekstra 10 myl loop. Sy het altyd geglimlag en min dinge kon haar onderkry. Niks was vir haar belangriker as haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders nie,” noem Ilze. Sy voeg by dat haar ma nooit kwaad geword het nie, lojaal was en baie hardwerkend. “Alles was ook altyd netjies en op hulle plek – sy het alles geliasseer.”

In ‘n huldeblyk wat van Emilie se Laerskool Louis Trichardt-familie ontvang is, word genoem dat sy ‘n onuitwisbare merk laat op almal wat die voorreg gehad het om haar te ken. Gedurende haar tyd by Triegies was sy die toonbeeld van warmte, deernis, liefde, goedheid, vrygewigheid en onwrikbare toewyding.

In die huldeblyk word ook die volgende genoem: “Haar rol was baie meer as net haar administratiewe verpligtinge – sy was die hart en siel van die skool. Sy het leerders, ouers en personeel altyd met haar aansteeklike, omgee-glimlag begroet. Haar verwelkomende teenwoordigheid by die skool se ontvangs het die regte toon aangegee, wat beslis ‘n gevoel van ‘behoort’ en ‘kameraadskap’ geskep en bevorder het. Behalwe vir mev. Theron se professionele verantwoordelikhede en werksetiek, was sy 'n steunpilaar vir haar kollegas, altyd gereed om te luister, wyse raad en 'n vertroostende woord te gee. Haar empatie en deernis het ontelbare lewens aangeraak en blywende liefde en vriendskap nagelaat. Hoewel haar heengaan ‘n onvervulbare leemte laat, sal haar herinnering voortleef. Mag haar siel ewige vrede vind, en mag haar nagedagtenis 'n seën vir ons almal wees.”

Ilze wil graag die volgende persone bedank: Rina Snyman, Lizette Kotzee, dr. Gaigher en Crestcare Zoutpansberg se personeel, asook vir Rosarie Kemp en Ruan Scheepers.

Emilie laat haar kinders, Ilze Rheeder, Gabrie Theron en Riana Oberholzer, asook sewe kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.

‘n Roudiens word op 6 Junie om 14:00 by Laerskool Louis Trichardt gehou. Ilze vra dat diegene wat dit gaan bywoon, asseblief geel of wit moet aantrek. Ilze kan gekontak word by 083 431 1431.

 

 
 
 

Viewed: 1738

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT