ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Martin Hoffmann (85). Foto verskaf.

Soutpansbergers neem hartseer afskeid van Oom Matman

Date: 31 May 2024 By: Andries van Zyl

Huldeblyke en woorde van vertroosting het hierdie week ingestroom na die familie van wyle oom Martin Hoffmann van Louis Trichardt, wat op 24 Mei in die ouderdom van 85 jaar weens hartversaking oorlede is.

Carl Martin Hoffmann is gebore op 1 Augustus 1938 in Middelburg (Transvaal) waar sy pa, Paul Adolph Hoffmann, hoof was van die Botshabelo-onderwyskollege. Sy ouer suster, Heidi, het as kleuter in ‘n ongeluk gesterf, met Martin wat as “eersgeborene” grootgemaak is. Hy het ook ‘n jonger suster (Ingrid Krueger) en broer (Anton Hoffmann) gehad.

Op die ouderdom van vyf jaar het Martin-hulle se familie na Boksburg verhuis, nadat pa Paul as kring-inspekteur van skole in die Oos Rand aangestel is. In 1953 is Paul as hoof-inspekteur van die nuut-gevormde Verre-Noord Kring (Far Northern Circuit) aangestel en het die familie na die destydse Pietersburg (Polokwane) verhuis.

Reeds vanaf skooldae was Martin ‘n uitstekende sportman gewees, wat uitgeblink het in tennis en krieket. Ná skool het hy vir ‘n kort tydjie in die bankwese gewerk, maar daarna ‘n pos aanvaar by ‘n algemene handelaar omdat dit meer geld gebied het.

Martin is met Elaine, ‘n nooi de Beer, getroud en drie kinders, Heidi, Mark en Cindy, is uit die huwelik gebore. Die familie het in Desember 1973 na Louis Trichardt verhuis vanaf Pietersburg en Louis Trichardt Droogskoonmakers begin.

Kort daarna het Martin hulle besigheidsbelange uitgebrei en het die familie die welbekende Matman geopen. In 1983 het hulle die droogskoonmakers gesluit en Matman na hulle huidige perseel in Rissikstraat geskuif. Die jaar 1983 was ook die jaar wat Martin en Elaine se oudste dogter, Heidi, by hulle aangesluit het, en ‘n jaar later het seun Mark ook by Matman begin werk nadat hy sy weermagopleiding voltooi het.

Deur die jare het Matman ‘n huishoudelike naam in die Soutpansberg geword. Die onderneming het gespesialiseer in die lê en skoonmaak van matte, asook die verkoop van eksklusiewe meubels en ornamente.

“My pa was my alles gewees - ek en hy saam hier by Matman. Sy hart was net te goed. Sy kantoor hier langs my is so leeg...” het dogter Heidi gesê. Vir haar was dit ‘n voorreg om elke dag saam met hom te wees. “Almal het hom Oom Matman  genoem. Nou is hy stil … Hy het altyd ‘n goeie woord gehad vir almal. Al het mense hom teleurgestel, sy hart was altyd oop om te help. Dit gaan moeilik wees om in sy voetspore te volg, maar met behulp van die Almagtige Vader gaan ek probeer,” het Heidi bygevoeg.

Wyle Martin word oorleef deur sy kinders Heidi, Mark en Cindy, kleinkinders Johnathan Janse van Rensburg, Charlene Meyer, Lucinda Strydom en Armand Strydom, agterkleinkinders Ethan Janse van Rensburg en Alani Janse van Rensburg, broer Anton en suster Ingrid. Elaine het haar man reeds op 11 Maart 2014 ontval, skaars drie maande nadat sy met pankreas-, limf- en klierkanker gediagnoseer is.

“Baie dankie aan Petro Fourie dat jy so mooi na ons pa se been omgesien het en altyd daar was vir hom as hy jou nodig gehad het. Jy was ‘n ster vir hom. Dankie aan dr. Casper Venter en die Crestcare Zoutpansberg Privaathospitaal vir julle hulp. Dankie ook aan die gemeenskap vir julle ondersteuning en medelye aan ons familie. Ons waardeer elkeen van julle,” het die familie gesê.

‘n Roudiens vir wyle Martin vind Vrydag, 31 Mei, om 14:00 vanuit die Metodiste Kerk te Munnikstraat 79 plaas.

 

 
 
 

Viewed: 1366

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT