ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Skermgreep van ‘n video wat die absolute chaos wys op die toneel van Dinsdagoggend se ongeluk. Plunderaars het die N1 feitlik heeltemal toe parkeer, sodat hulle die vragmotor se vrag kon plunder.

Kyk: Plunderaars slaan toe op N1

Date: 10 May 2024 By: Andries van Zyl

Verskeie plunderaars het hulle rieme styfgeloop met die lang arm van die gereg, nadat hulle goedere gesteel het vanaf die vragmotor wat Dinsdagoggend by die eerste Witvlag-afdraaipad op die N1 noord net buite Louis Trichardt omgeslaan het.

Die ongeluk het net ná 05:30 die oggend plaasgevind. “Ons is ontbied om bystand op die toneel te kom gee. Toe ons daar aankom, was die vragmotor so te sê alreeds leeg gesteel,” het ‘n lid van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy gesê. Hy het gevra om anoniem te bly. Die vragmotor het ondermeer waspoeier en koffieverromer vervoer.

Video’s van die ongelukstoneel het soos ‘n veldbrand op sosiale media platforms begin versprei. In van die video’s kan gesien word hoe hordes mense, al skreeuend en laggend, rondskarrel met bokse waspoeier en koffieverromer wat hulle gesteel het – ‘n free for all, tot groot vermaaklikheid van almal.

“Dit was absolute chaos gewees! Daar was te veel mense vir te min polisie,” het die sekuriteitsbeampte gesê. Hy het spesifiek verwys na van die geregsdienaars wat in die videogrepe verskyn wat net hulpeloos rondgekyk het.

Ongelukkig is die hartseer tonele wat hulself Dinsdagoggend in die bergpas afgespeel het, met mense wat hulself aan kriminaliteit vergryp het, deesdae eerder die reël as die uitsondering in Suid-Afrika. Verlede Donderdagoggend het ‘n vragmotor (wat toevallig ook onder andere seeppoeier vervoer het) die N1 verlaat op die nuwe ompad om Musina. Alhoewel dit nie omgeslaan het nie, was die vragmotor in die padreserwe gestrand.

Gou het mense uit die omliggende woongebied soos aasvoëls op die vragmotor begin toesak. Die sleepwaens se seile is bloot oopgesny en die plunderaars het die vrag begin verwyder. In die proses, hetsy weens ‘n elektriese fout of skade wat deur die plunderaars veroorsaak is, het die vragmotor aan die brand geslaan en die kajuit en dele van die sleepwaens het totaal uitgebrand. Ooggetuies het ook vertel hoe die plunderaars die vragmotors se buitebande begin afsteel het.

“Die polisie kon die probleem verminder [het] deur padblokkades te hou in beide rigtings vanaf die ongelukstoneel,” het die sekuriteitswag gesê wat Dinsdag se plundering en toekomstige optrede om hierdie tipe van plundering hok te slaan, betref.

Mens hoor feitlik nooit meer dat plunderaars wat vragmotors besteel ooit aangekeer word nie. Maar wat Dinsdag se ongeluk betref, is sukses wel behaal. Volgens adjudant-offisier Vuledzani Dathi, polisiewoordvoerder vir Vhembe, is ten minste vier mense reeds sover gearresteer, nadat hulle voertuie met van die gesteelde vrag onderskep is. Vier voertuie is ook deur die polisie gekonfiskeer, met ‘n geskatte waarde van meer as R400,000. Die gesteelde goedere wat teruggevind is, beloop sowat R28,000.

Teen druktyd kon ons nie bevestig of die verdagtes wat aangekeer is al in die hof op Louis Trichardt verskyn het of wanneer hulle sou verskyn nie.

 

 
 
 

Viewed: 2612

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT