ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die goeie nuus is dat Jan “Slang” van Rooyen se linkerarm, -hand en -wysvinger buite gevaar is nadat hy op 23 Februarie deur ‘n volwasse wipneuskobra gebyt is. Hy is is een van bitter min mense wat die vol byt van ‘n volwasse kobra van bykans twee meter kon oorleef sonder teengif en regte behandeling teen die gif van die slang.

Jan 'Slang' buite gevaar, maar pad na herstel nog lank

Date: 05 April 2024 By: Andries van Zyl

Met Jan “Slang” van Rooyen van Louis Trichardt gaan dinge aansienlik beter, nadat ‘n wipneuskobra hom op 23 Februarie aan die linker wysvinger gebyt het.

Jan het letterlik by die dood omgedraai en is een van bitter min mense wat die vol byt van ‘n volwasse kobra van bykans twee meter kon oorleef sonder teengif en regte behandeling teen die gif van die slang. Die wipneuskobra se gif is beide neuro- en sitotoksies. Die neurotoksiese gif is meer prominent omdat dit die senuweestelsel aantas. Die sitotoksiese gif in die wipneuskobra veroorsaak meestal swelling, en nekrose in sekere gevalle. Vir die gifstof om deur die liggaam te beweeg neem sowat 10 weke.

“Ek het nog sowat vier weke oor. Daar is nog ‘n lang pad van herstel wat voorlê, maar die vinger, hand en arm is buite gevaar,” het Jan Woensdag gesê. Sy volgende struikelblok sal wees om die volle gebruik van sy vingers en hand weer te herwin, maar volgens Jan is hy optimisties dat dit met terapie moontlik sal wees.

Jan het sy dank uitgespreek teenoor Arno Naudé van Pretoria, wat hom vanaf dag een van sy byt bygestaan en geadviseer het, asook Mike Perry van African Reptiles and Venom. “Dankie ook aan my vriendin Lizel Rieger van Witrivier, wat gehelp het om my te versorg direk ná die byt,” het Jan gesê.

Jan het ook dr. Fred Badenhorst bedank wat hom begin behandel het ná sy terugkoms Louis Trichardt toe, asook suster Adri van Zyl van Wondsorg vir die wondbehandeling. “Dankie ook aan Elmien van der Goot wat bereid is om my met terapie te help om die volle gebruik van my vingers en hand terug te kry,” het Jan gesê.

Jan se grootste dank gaan egter aan die handjievol mense wat finansieel bygedra het tot sy behandeling, aangesien hy nie ‘n mediese fonds het nie. “Julle lê my baie na aan die hart,” het Jan gesê.

Ten spyte van die byna noodlottige slangbyt, het Jan hoegenaamd geen intensie om op te hou om mense bewus te maak van die belangrikheid van slange nie. Hy het alreeds weer aktief begin om probleemslange by mense te verwyder en te hervestig. Hy het verlede Saterdag ook weer sy eerste opleidingsessie ná die slangbyt by die Louis Trichardt Rugbyklub aangebied. “Dit was nie die slang se skuld nie en slange en natuurbewaring sal altyd my passie bly,” het Jan gesê. Dit gesê, het hy mense aangeraai om nie self te probeer om slange te hanteer nie, maar eerder kundige hulp te vra, voordat hulle besluit om ‘n slang dood te maak.

“Mense kan my enige tyd skakel en ek sal ‘n plan probeer maak as ek nie self kan kom nie,” het Jan gesê.

Vir meer inligting oor enige van die drie slangkursusse wat Jan aanbied, kan hy geskakel word by tel. 067 835 0816. Die drie kursusse sluit in basiese slangvang, basiese slanghantering en gevorderde slanghantering. Hy doen ook slang-bewusmakingspraatjies.

 

 
 
 

Viewed: 1151

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT