ADVERTISEMENT:

 

 
 

Maandag, 1 April, se  ongelukstoneel op die Levubu-pad. Links staan die Louw-gesin van Levubu se voertuig, nadat dit deur weldoeners weggesleep is van die brandende Mercedes Benz. Ongelukkig het die Louws se voertuig ook vlamgevat. Die bestuurder van die Mercedes Benz het nie die ongeluk oorleef nie. Foto verskaf.

Dit was net genade

Date: 05 April 2024 By: Andries van Zyl

Met Paasnaweek wat sinoniem geword het met padsterftes op die streek en land se paaie, is ‘n familie van Levubu dankbaar hulle lewe ná ‘n noodlottige ongeluk op die berugte R524, oftewel die Levubu-pad.

Die 49-jarige Melanie Louw van Levubu het Dinsdag vertel van die ongeluk wat Maandag, 1 April, omstreeks 13:00 byna die lewe van haar, haar man Enrico (50) en dogter Elmé (29) geëis het. Die ongeluk het sowat 15km buite Louis Trichardt plaasgevind.

Die Louws het vroeër die dag vanaf Levubu dorp toe gery om na ‘n plek te kyk waar hulle Melanie se 50ste verjaarsdag kon hou. Gewoonlik sou hulle die paaie oor Paasnaweek eerder vermy het. “Ons het lankal besluit om Paasnaweek eerder by die huis te bly. Ons wil ook nie hê ons familie moet na ons toe kom nie, want dit is baie erger vir hulle op die paaie,” het Melanie gesê. Tog het hulle Maandag besluit om gou te ry.

Nadat hulle die plek besoek het waarna hulle wou gaan kyk, het die familie besluit om vinnig iets in Louis Trichardt te kom eet, voordat hulle terug gery het Levubu toe.

Op pad terug het die Louws in hulle Jeep Wrangler ‘n silwerkleurige Mercedes Benz gesien wat in hulle baan van voor af aangejaag gekom het in ‘n poging om ‘n string voertuie voor hom verby te steek. Enrico het vir hom ligte geflits. “Die man het maklik sowat 10/15 voertuie probeer verbysteek en niemand het vir hom spasie gemaak dat hy weer kon inkom nie. Volgens wat ons kon sien, het hy nie regtig eers probeer om spoed te verminder nie en vir ons ligte gegooi dat ons moet pad maak. ‘n Mens kan ook nie net op 100 km/h van die pad af jaag nie. Dan rol ons,” het Melanie gesê.

Tog het Enrico begin spoed verminder en na links van die pad af begin gaan. Die bestuurder van die Mercedes het egter steeds bly kom. “Vir een of ander duistere rede het hy toe ook skielik van die pad af geswaai, reg voor ons in. Ons weet nie waarom hy nie vroeër reageer het nie,” het Melanie gesê.

Die twee voertuie het mekaar tromp-op getref. Mede-motoriste het dadelik gestop om te help.

“Ek het nie dadelik besef wat aan die gebeur is nie. Omstanders het aan ons deure begin pluk om ons uit te haal. Ek het vir hulle gesê wees rustig, gee ons net kans dat ons tot ons sinne kom. Maar hulle het vir ons geskreeu: ‘But is going to burn!’ Daar was toe alreeds rook by die Mercedes,” het Melanie gesê.

Aanvanklik het sy nie gedink die situasie is ernstig nie. “Ek het nie vlamme gesien nie, want met die impak en die lugsakke wat ontplooi het, het ek dit nie regtig besef nie. Ek het uitgeklim en bietjie vlamme by die Mercedes gesien. Maar ek het gedink dit gaan onder beheer kom. My dogter het baie, baie seer gekry by haar voete. Sy het gesê sy kon nie opstaan nie en ek het vir haar gesê sy moet rustig in die Jeep bly sit tot die ambulans kom. Maar toe ek weer kyk, toe is dit net vlamme,” het Melanie gesê.

Hulle het besluit dat Elmé veiliger buite die Jeep sou wees. “Ek het vir haar gesê sy sal maar die pyn moet trotseer en uitklim,” het Melanie gesê. Mense van Levubu wat op die toneel was, het toe probeer om die Louws se Jeep weg te sleep vanaf die brandende Mercedes om te probeer red wat te redde is. Alhoewel hulle dit kon regkry, was dit te laat. Die Jeep het ook vlamgevat en heeltemal uitgebrand. Gelukkig kon Enrico al die familie se persoonlike besittings soos fone en beursies betyds uitkry.

Die Louws is met privaatvervoer deurgejaag na die Crestcare Privaathospitaal vir mediese behandeling, aangesien hulle nie wou wag vir ‘n ambulans nie. Hulle is later dieselfde dag ontslaan, gelukkig om so lig daarvan af te kom met geringe beserings.

Melanie het teen Dinsdag nog geen idee gehad wie in die ander voertuig was nie. Sy wou ook nie op die toneel gaan uitvind of kyk nie. Haar prioriteit was haar en haar familie se eie veiligheid. Al wat sy weet is dat omstanders blykbaar die bestuurder van die ander voertuig kon uithaal voordat hy verkool het. Hy het egter nie die ongeluk oorleef nie.

Dat hulle die ongeluk oorleef het, het Melanie as absolute genade beskryf. “Dit was net te danke aan die Here en die Jeep. Dit en die feit dat ons spoed verminder het,” het Melanie gesê. Sy het bygevoeg dat sy in geen stadium onveilig gevoel het tussen al die omstanders nie. “Ek dink regtig hulle almal het vir ons lewens gevrees,” het Melanie gesê.

Die Louws se ongeluk het weereens die kalklig geplaas op die gevaarlike aard van die R524 pad. “Ons het juis daardie selfde oggend ‘n gesprek gehad oor die Thohoyandou-pad. Die mense vat kanse. Hulle gee net nie om nie. Steek verby om draaie en op blinde hoogtes. Die oggend het ons agter ‘n Kia gery wat net so roekeloos was,” het Melanie gesê. “Ons wat al lank hier bly, weet al jy ry maar stadiger en rustiger. Maar ons ongeluk was net onvermydelik. Ons kon nie regs uitswaai nie,” het Melanie gesê.

Melanie het weereens padgebruikers vermaan om versigtig te bestuur op die Levubu-pad. “Daar is daagliks hoeveel mense wat op hierdie pad is, mense met kinders wat skool toe moet gaan. Ons is gelukkig dat ons nie daagliks hoef dorp toe te gaan nie. Maar dit is net ‘n kwessie van wanneer iets weer gaan gebeur,” het Melanie gesê. (Skaars was haar woorde koud of Woensdagoggend is berig ontvang van nog ‘n ernstige motorongeluk op dieselfde pad tussen ‘n voertuig en minibus-taxi net verby Tshakhuma.)

“Die Here se hand was 100% oor ons gewees … Ons het baie seer, maar ons lewe,” het Melanie gesê en bygevoeg dat sy ‘n rustigheid in haar hart het. “Die aardse goed pla my nie.”

Die Louws het hulle opregte dank uitgespreek teenoor almal wat hulle bygestaan het. Spesiale dank het gegaan aan Grant Purdon, wat eerste op die toneel was, Jaco Bekker wat al die nodige nooddienste ontbied het en Erik Fourie van PSG Levubu wat al die nodige administratiewe reëlings getref het.

“Dit is altyd moeilik am almal by name te bedank, want daar was werklik vriende wat alles gelos het en deurgery het om te kom help. Die hele Levubu-gemeenskap se omgee was net weereens bewys dat ons nie alleen staan nie,” het die Louws gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1770

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT