ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die nou 28-jarige Heidi-Lene Jonck (voor) en haar suster Elze-Marie du Preez. Foto verskaf.

Hooggeregshof sê twee skippers was wel nalatig

Date: 26 January 2024 By: Andries van Zyl

Vir die eerste keer in byna ses jaar kan die familie van die nou 28-jarige Heidi-Lene Jonck ‘n sug van verligting slaak, nadat die Hooggeregshof in Polokwane verlede week beslis het dat die twee bootoperateurs wat in 2018 die ongeluk veroorsaak het wat haar met breinskade en in ‘n rolstoel gelaat het, nalatig was in hul optrede.

Die ongeluk het op 11 Maart 2018, slegs twee weke voor Heidi-Lene (Heidi) se 23ste verjaarsdag, op die Albasinidam plaasgevind. Sy het ernstige beserings opgedoen, insluitend byna noodlottige kopbeserings, terwyl sy op ‘n opgeblaasde binneband (tube) agter ‘n boot gesleep is. Weens ‘n sameloop van omstandighede is sy teen ‘n stilstaande boot vasgeslinger. As gevolg van haar beserings word sy steeds voltyds deur haar suster, Elze-Marie du Preez, en dié se man, Hagar, versorg ná die ongeluk. Die egpaar bly nou in Mosselbaai.

Na aanleiding van die ongeluk het die Du Preez-egpaar regsaksie teen die twee bootoperateurs, Cornelius Johannes Stephanus (Fanus) Coetzee as eerste verweerder en Frederick (Erik) Johannes Wiese as tweede verweerder, ingestel. Die klaer in die saak was adv. Calyn D’Alton, wat as Heidi-Lene se kurator aangestel is. Die saak is op 30 Augustus verlede jaar in die Limpopo-afdeling van die Hooggeregshof in Polokwane aangehoor, met waarnemende regter-president (Limpopo) M.V. Semenya wat op 19 Januarie 2024 uitspraak in die saak gelewer het.

‘n Saak van nalatigheid aan die kant van Coetzee en Wiese is by die hof ingedien, met ‘n eis vir skadevergoeding van R2,5 miljoen, asook rente op die bedrag vanaf die datum waarop die lasbrief uitgereik word, tot op die datum van finale betaling. Die twee verweerders is ook gedagvaar om die koste van die saak, asook die koste van Heidi-Lene se twee regspanne, te dra. ‘n Eis vir enige ander alternatiewe koste is ook ingedien.

Regter Semenya se uitspraak verlede week het 25 bladsye beloop. Vir die doel van hierdie berig sal na slegs enkele aspekte van die uitspraak verwys word. Vir die volledige uitspraak klik hier.

In kort het beide Coetzee en Wiese aangevoer dat hulle nie nalatig was nie. Coetzee, wat Heidi-Lene in ‘n opgeblaasde binneband agter sy boot gesleep het, het die hof probeer oortuig dat Heidi-Lene ook verantwoordelik was vir haar eie beserings deurdat sy nie die sleeptou gelos het voordat sy teen Wiese se boot vasgeslinger is nie. Hy het ook die hof probeer oortuig dat Heidi-Lene verantwoordelikheid aanvaar het vir enige beserings wat sy kon opdoen toe sy vrywillig op die binneband geklim het. Wiese het op sy beurt aangedui dat hy nie ‘n onveilige situasie met sy boot geskep het deur nie ver genoeg vanaf Coetzee se boot te stop om na sy brandstofvlakke te kyk voordat Coetzee met spoed weggetrek het nie.

Regter Semenya het Coetzee en Wiese se verweer verwerp en gesê dat beide deur hul aksies ‘n onveilige situasie geskep het wat tot Heidi-Lene se ongeluk en traumatiese beserings gelei het. Volgens Regter Semenya sou ‘n redelike persoon anders opgetree het. Hy het ook vir Coetzee daarop gewys dat alhoewel Heidi-Lene vrywilliglik op die binneband geklim het wat hy gesleep het, dit nie sy aksies ten opsigte van nalatigheid ongedaan maak nie.

In Regter Semenya se uitspraak is gesê dat beide Coetzee en Wiese nalatig was in hulle optrede, wat direk gelei het tot Heidi-Lene se beserings. Derhalwe is Heidi-Lene geregtig op ‘n betaling van skadevergoeding deur beide verweerders gesamentlik en afsonderlik. Beide Coetzee en Wiese is ook gelas om alle koste van die saak tot op datum te betaal, insluitend die koste van die twee regspanne. Die twee is ook gelas om die koste van Heidi-Lene se kurator, adv. D’Alton, te betaal.  

Regter Semenya het ook in die uitspraak gesê dat Coetzee en Wiese regulasie 8(2) van die Merchant Shipping (National Small Vessel Safety) Regulations 2007 oortree het, wat bepaal dat geen persoon ‘n boot nalatig mag bestuur sonder redelike inagneming van hulle passasiers se veiligheid nie. Wat dit betref het Regter Semenya gelas dat die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys word vir moontlik kriminele vervolging. Uit die uitspraak het ook geblyk dat nie Coetzee of Wiese in besit was van ‘n skipperslisensie tydens die ongeluk nie.

Met verlede week se uitspraak is die verhoor ten opsigte van die meriete van die saak afgehandel. Nou sal oorgegaan word na die bepaling van kwantum (koste). Of Coetzee en Wiese se regsverteenwoordigers gaan appelleer teen die uitspraak is nie seker nie.

Vir Elze-Marie kon hulle geen beter nuus die afgelope sowat ses jaar ontvang het nie. “Nou, die 11de Maart, is dit ses jaar. Toe hulle vir my sê ons het gewen, het my hele liggaam hoendervleis uitgeslaan. Dit was amper of mens weer kan asemhaal. Dit het vreeslik swaar op Heidi ook gerus. Haar toekoms is so onseker en dit het alles afgehang van hierdie hofuitspraak, en nou nog die kwantifisering ook daarvan. Wat lê voor vir hierdie kind?” het Elze-Marie Maandag in ‘n telefoniese onderhoud aan die koerant gesê

As deel van die proses van kwantifisering moet Heidi-Lene weer al haar spesialiste, dokters en psigiaters gaan sien om fisies te bepaal wat die bedrag is rondom haar beserings. “Sy sou ook klaar gestudeer gewees het en sou al ook kon werk om ‘n inkomste te verdien … my kop raak deurmekaar as ek net hieraan dink,” het Elze-Marie gesê.

Heidi-Lene word steeds ten volle versorg deur Elze-Marie en woon ook voltyds by die Du Preez-egpaar. Dat sy ooit weer selfonderhoudend sal kan wees en nie algehele versorging nodig sal hê nie, is onwaarskynlik. “Dit gaan vir ons oor Heidi se toekoms. As ek en Hagar nie meer daar is nie, wie gaan haar versorg? My man kan haar nie versorg as ek nie meer daar is nie!” het Elze-Marie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2204

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT