ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike sakeman Gert van der Westhuizen, wat op sy 72ste verjaarsdag die slagoffer geword het van ‘n gewapende roof by Cash Crusaders op Louis Trichardt.

Sakeman kry aaklige geskenk op sy verjaarsdag

Date: 26 January 2024 By: Andries van Zyl

Vir ‘n aakliger geskenk kon Gert van der Westhuizen nie gevra het nie, toe hy op sy 72ste verjaarsdag op Donderdag, 18 Januarie, die slagoffer geword het van ‘n gewapende roof by Cash Crusaders in Louis Trichardt.

Weens bekommernis oor die veiligheid van sy eie winkel (Madi Gra Water), het sakeman Van der Westhuizen gegaan om ‘n rekenaarskerm te koop vir sy sekuriteitskameras.

“Toe ek hom op die toonbank sit, toe spring hier ‘n ou op die toonbank. Ek sê nogal vir hom: ‘Hey! Can you see I am busy here?’ Die volgende oomblik toe druk ‘n ander een ‘n pistool in my nek,” het Van der Westhuizen gesê.

Die man met die pistool het Van der Westhuizen beveel om op sy maag te gaan lê. “Hy het gesê ‘Lie down!’ Toe lie ek down.”

Nog ‘n verdagte het in die deur gaan staan met ‘n vuurwapen in sy hand. “Twee ander het tussen die rakke afgehardloop en vir almal geskreeu ‘Lie down! Everybody lie down! We will shoot, we will shoot!’” vertel Van der Westhuizen.

Presies hoeveel aanvallers daar was, het Van der Westhuizen gesê, kan hy nie sê nie. “Jy skrik eintlik so groot dat jy nie kyk nie, maar dit was vir seker vier of miskien vyf gewees,” het Van der Westhuizen gesê. Volgens hom was hy die enigste kliënt in die winkel, terwyl die res personeellede was.

Van der Westhuizen is aan sy kraag deur twee rowers na die agterkant van die winkel gesleep waar die res van die personeel aangehou is. Hy was die eerste wat beroof is. “Hulle het my eerste deurgevoel daar waar ek gelê. Hulle het ‘n strykplank wat daar naby gestaan het op my rug gesit en daarop gestaan, sodat ek nie kon beweeg nie,” het Van der Westhuizen gesê. Hy is eers deurgevoel vir ‘n vuurwapen. “Toe vat hulle my selfoon, my beursie met al my kaarte en my kar se sleutels,” het Van der Westhuizen gesê.

Nadat Van der  Westhuizen-hulle gestroop is van hulle besittings, is die rowers die winkel uit. “Toe kom daar rook uit die dak uit. Ek dink dit is geaktiveer deur die personeel – eers het die alarm afgegaan en toe die rook – soos ‘n rookskerm. Ek het gedog: Ag, hier kom die traangas! Gelukkig was dit net rook. Dit ruik na niks, maar is baie dig. Jy kan so twee meter voor jou sien,” het Van der Westhuizen gesê.

Van der Westhuizen het opgestaan en stadig, half gebukkend, na die voordeur begin beweeg. “Ek kon sien hoe twee [rowers] nog by die toonbank besig was om goed te vat. Toe gaan sit ek weer. Die personeel het toe gevra: ‘Is it safe?’ Ek het geantwoord ‘I don’t know’ en opgestaan om te gaan kyk. Hulle was toe weg gewees,” het Van der Westhuizen gesê.

Toe Van der Westhuizen sien dat dit veilig is, het hy na ‘n vriend van hulle by Marius Brönn Apteek gestap. “Ek het gevra dat hulle vir Dot [sy vrou] skakel om te sê ek is beroof en dat sy my spaarsleutels vir die bakkie moet bring,” het Van der Westhuizen gesê. Direk daarna is hy Eerste Nasionale Bank toe om sy bankkaarte te kanselleer. Daarna is hy terug na Cash Crusaders toe. Die sekuriteitsmaatskappy was klaar daar gewees en oomblikke later het die polisie gearriveer.

Van der Westhuizen het ná die roof gesê die aanval self was nie so erg vir hom nie. “Miskien as hulle skote geskiet het of so iets? Jy weet, ek was darem in die weermag en ek was baie lank op die grens gewees. Jy vergeet nooit jou opleiding nie. Daar het so ‘n kalmte oor my gekom. Ek het net daar gelê en gehoop alles gaan nou verby. Jy wag vir ‘n skoot om af te gaan, maar gelukkig het so iets nie gebeur nie. Dit voel lank, maar ek dink die roof het nie 10 minute geduur nie,” het Van der Westhuizen gesê. Volgens hom is die “groot trauma” om al sy kaarte, sy bankkaarte, bestuurslisensie en ID te vervang.

Van der Westhuizen het gesê hy weet nie eers of die aanvallers gemasker was of nie. “Ek was bang as jy begin rondkyk, dan skiet hulle jou. Dinge het so vinnig gebeur en ek het net vir myself gesê ek kyk niks en wil niks sien nie.” Vandat hy beveel is om te gaan lê, het hy net afgekyk.

Te spyte van die nare ervaring is Van der Westhuizen baie dankbaar dat hy ongedeerd uit die winkel kon stap.

Plaaslike polisiewoordvoerder sers. Irene Radzilane van die Makhado SAPD het by navraag die rooftog bevestig en gesê dat die rowers met ‘n onbekende hoeveelheid kontant, skootrekenaars en selfone in ‘n rooi Volkswagen Polo (ZLG 719 GP) op die vlug geslaan het. Teen druktyd is nog geen arrestasie gemaak in die saak nie en lede van die publiek met inligting is versoek om vir speursersant Rirhandzu Ntsanwisi te skakel by tel. 072 537 5960.

 

 
 
 

Viewed: 1560

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT