ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Frans Prinsloo (85). Foto verskaf.

Welbekende oud-sakeman Frans Prinsloo oorlede

Date: 19 January 2024 By: Pétria de Vaal

Vir menige inwoner is die naam Frans Prinsloo baie bekend. Frans, jarelange inwoner en sakeman van Louis Trichardt, is op 2 Januarie vanjaar in die Wes-Kaap, Stellenbosch, ná ‘n kort siekbed oorlede.

“My pa is op 31 Januarie 1938 in Bellville in die Kaap gebore. My oupa was ‘n polisieman en is daarvandaan na Pretoria verplaas. My pa het sy skoolloopbaan by Afrikaans Seuns Hoër voltooi,” sê André Prinsloo, Frans se jongste seun. Daarna het Frans werk gekry by die Kleinzee diamantmyn in Namibië. Gedurende hierdie tydperk het Frans sy vrou, Cicilia, ‘n nooi Botha, in Lüderitz (Namibië) ontmoet.

Cicilia het Pretoria toe getrek en Frans het haar ‘n rukkie later van Oranjemund af gevolg. Daar was hy vir ‘n rukkie werksaam by Cullinan diamantmyn, en is daarvandaan na ‘n ander maatskappy, waar hy ‘n ambagsman-in-opleiding elektrisiën was. Hier het hy die geleentheid gehad om homself as elektriese ingenieur te bekwaam terwyl hy gewerk het.

Hiervandaan is hulle na Witrivier-omgewing, waar Frans by ‘n saagmeule werksaam was. Die mynbedryf het weer geroep en die gesin het in onder meer Marble Hall en Naboomspruit gewoon. Frans het gedurende hierdie tyd poste as myningenieur sowel as mynbestuurder beklee.

Frans se broer, André Prinsloo van Sheldon en Prinsloo ouditeursfirma in Louis Trichardt, het te hore gekom van ‘n sitrusplaas wat in Levubu te koop was. Frans se droom was altyd om te boer en hy het die plaas gekoop. Die gesin het in 1978 soontoe verhuis. Later is nog plase aangekoop. “Met die uitsondering van een plaas het my pa noodgedwonge van die ander ontslae geraak toe grondeise intree. Tydens ‘n plaasaanval in Levubu is my ouers se huis afgebrand. Hulle was gelukkig nie daar nie en was weg met vakansie. Ná hierdie gebeure het hulle besluit om in Kroasië te gaan woon. Ná vyf jaar het hulle teruggekeer na Louis Trichardt en ‘n huis reg onder ons huis gebou in Snymanstraat. Ons was baie gelukkig om hulle sommer baie naby aan ons huis te hê, oor te stap, en te gesels,” vertel André.

“Nadat ons P&L Hardeware aan Cashbuild verkoop het in 2016, het my ouers besluit om liewer in Stellenbosch te gaan vestig in 2017. Ons het hulle gereeld gesien – ek het eenmaal ‘n maand vir hulle gaan kuier. Lesers sal moontlik onthou dat my pa, oom André en Len Lemmer in 1982 vir Venters Hardeware (wat behoort het aan oom Johan Venter), oorgeneem het. Len Lemmer het die nuwe Lempro bestuur, wat later P&L Hardeware geword het,” voeg André by.

Frans was iemand wat altyd tyd gehad het vir ander. ‘n Dorp-toe-gaan-uitstappie sou gewoonlik baie langer neem as beplan, omdat almal graag met hom wou gesels. “Hy was een van die gelukkigste, mees positiewe mense wat ek geken het. Tot die dag voor sy dood het hy grappies gemaak en gesels. As jy hom ooit gevra het hoe dit gaan, was sy antwoord altyd: ‘Goed, jy weet mos’. Hy was iemand wat altyd vorentoe gekyk het. Hy het in die hede gelewe en nooit in die verlede nie. Hy het regtig ‘n ‘smart’ lewe gehad. My pa was my mentor, my vriend. As ek raad nodig gehad het, het ek met hom gaan praat; hy was my klankbord.  Dikwels het hy net geluister en meestal het ek die antwoord of oplossing gekry sonder dat hy iets gesê het,” sê André met baie vrede in sy hart.

“My gesin kon my pa in Oktober groet en ek het hom vroeg in Desember gegroet voordat ons met vakansie vertrek het. Ons het geweet dat hy agteruitgaan. Behalwe dat hy gesukkel het met demensie, het hy ook nierprobleme gehad en is hy uiteindelik dood as gevolg daarvan. Hy het egter nie swaar gekry nie en het die dag voor sy dood nog gesels en gelag. Hy het toe aan die slaap geraak en net nie weer wakker geword nie.”

Frans laat sy vrou, twee seuns, ‘n dogter, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders agter. Frans was die oudste van vier kinders en laat sy broer André en suster Isabel agter. Sy oudste suster Elsa is reeds oorlede.

Die familie het dit goedgedink om vir Frans ‘n gedenkdiens in Louis Trichardt te hou, omdat hy só lank deel was van die gemeenskap. Dit word waargeneem deur ds. Johan Marais vanuit die Afrikaanse Baptiste Kerk te Ruhstraat 25, op Saterdag, 27 Januarie om 14:00.

 
 
 

Viewed: 1247

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT