ADVERTISEMENT:

 

 
 

In Impalastraat het hierdie boom op 'n dak beland en baie skade aangerig. Foto verskaf.

Baie reën en stormwinde eis tol op dorp se bome

Date: 12 January 2024 By: Pétria de Vaal

Louis Trichardt lyk soos ‘n slagveld nadat verskeie groot bome gedurende Desember en ook op Nuwejaarsdag omgeval het, gedeeltelik afgeskeur het of ontwortel is.

Menige inwoner het skade op hulle erf gehad toe groot bome op huise se dakke, motorafdakke en selfs motors geval het. Nagenoeg 15 bome is reeds deur diensverskaffers hanteer wat bome (of gedeeltes daarvan) moes afsaag. Volgens Petro Jacobson van Tree Top Surgeon moet hulle nog by 11 bome uitkom. “Daar was gevalle waar ons dringend moes gaan help, byvoorbeeld toe ‘n boom op ‘n elektriese heining geval het,” sê sy.

Die vraag ontstaan waarom so baie bome geaffekteer is. ‘n Hele aantal verskillende spesies is ter sprake. Almal het ook tydens verskillende geleenthede en op verskillende tye geval.

“Reeds op 16 Desember is ‘n flambojantboom op ons sypaadjie ontwortel. Hoewel dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om hierdie bome te hanteer, moes ons ‘n diensverskaffer inkry om die boom te kom optrek met toue en af te saag,” sê Christo en Elmarie Coetzee van President Steynstraat. “Min het ons geweet dat die groot akkerboom in ons tuin kort daarna ook sou omval. Dit het op die aand van 27 Desember gebeur. Ons het ‘n harde slag gehoor.  Dit het op daardie oomblik gestortreën en dit was moeilik om te sien wat die omvang van die skade was. Die grootste skade was op die dak van ons dogter se kamer. Die lapa se grasdak het ook skade gekry.  Ons wag tans vir die uitslag van die versekering se assessors, aangesien dit blyk dat die huis se hele dak moontlik geskuif het. Ons het nou lekplekke waar dit nooit voorheen gelek het nie!”

Sover vasgestel kon word, het ten minste nog drie bome op verskillende plekke in President Steynstraat omgeval – almal verskillende soorte. Twee daarvan het op onderskeidelik 26 en 28 Desember geval.

Elsa du Toit van Koedoestraat vertel dat ‘n boom haar man Ampie se Isuzu rakelings gemis het tydens die storm teen 14:00 op 1 Januarie. “Terselfdertyd het ‘n tak van ‘n Jakarandaboom in ons erf afgebreek en op die bure se motorhuis beland. Gelukkig was daar geen skade nie,” sê Elsa.

Tydens dieselfde storm het ‘n silwereik middeldeur geskeur en skade aan ‘n heining, dakke, dakkappe, mure en pilare aangerig.

Bome wat omgeval het, word steeds aangemeld – binne en buite die dorp. Onder hulle is witstinkhout, Oos-Afrikaanse mahonie, Afrikaanse vlamboom, koorsboom, kremetartboom en ‘n platkruin doringboom.

Christo de Lange, wat ook ‘n klompie bome opgesaag het, sê dat die bome bloot te swaar word in die baie reën en dan met die geringste wind of storm omval of takke afbreek.

Gedurende 2006 het die Zoutpansberger berig oor boomsiektes in die Soutpansberg toe ‘n kenner op die gebied van rakswamme, dr. Jolanda Roux, in die omgewing kom ondersoek instel het.  Die voorkoms van hierdie swamme kan moontlik ‘n aanduiding wees van ‘n verswakte wortelstelsel.

Johan Jacobs van Pest Control is genader om te verneem of termiete of ander skade aan bome dalk ‘n invloed op die verswakking van bome het. Volgens hom is dit definitief iets wat in aanmerking geneem moet word.  “Die toestande in ons omgewing is ideaal vir termiete. Droogte en dan baie reën en hoë temperature skep ‘n klam, bedompige habitat. Hulle floreer veral op droë hout, maar is nie beperk daartoe nie.  Termiete hou van ‘n hoë suikerinhoud. As ‘n termietnes onbehandeld bly (bv. in ‘n park), kan termiete tot en met ‘n radius van 100 meter daarvandaan skade aanrig. Lesers moet bedag daarop wees om uit te kyk vir termiete. Grondtonneltjies teen bome of neste (miershope) is gewoonlik ‘n goeie aanduiding van hulle teenwoordigheid. Met tyd verswak die boom. Inwoners het nie altyd die kennis om die risiko van termiete in die omgewing of selfs in geboue te identifiseer nie.  Groot skade word dan later veroorsaak, ook aan strukture,” sê Johan.

Lesers word aangemoedig om bome in hulle erwe in stand te hou deur hulle gereeld te snoei, droë takke af te saag en uit te kyk vir termiete en ander skade.

 

 
 
 

Viewed: 926

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT