ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oud-Soutpansbergers Rinke en Awette Slump en hulle dogters Riancke en Juhané, wat ‘n nuwe tuiste gaan soek in Nieu-Seeland. Van links na regs is Riancke, Rinke, Juhané en Awette. Foto verskaf.

Soutpansbergers in die buiteland: Slumps kerf nuwe lewe in Nieu-Seeland uit

Date: 21 December 2023 By: Pétria de Vaal

Suid-Afrikaners emigreer na baie verskillende lande oor die wêreld. Redes is baie: werksgeleenthede, beter geleenthede vir hulle kinders, ‘n veiliger omgewing – om maar ‘n paar te noem.

Oud-inwoners van Louis Trichardt Rinke en Awette Slump en hulle dogters Riancke en Juhané woon en werk in ‘n klein gemeenskap in Athol, op die Suid-eiland van Nieu-Seeland. Juhané gaan skool in Lumsden, 20 km van hulle woning.

Die gesin het reeds in 2013 die dorp verlaat toe hulle na Ladismith in die Kaap verhuis het. In 2019 het hulle die groot stap geneem om sak en pak na Nieu-Seeland te verhuis. Rinke is werksaam op ‘n plaas – een van baie wat deur ‘n familie besit word. Hoewel hulle hoofsaaklik met takbokke en skape boer, is Rinke verantwoordelik vir graan- en ander gewasse.

Die gesin se grootste en naaste dorp is Queenstown, sowat ‘n uur se ry van waar hulle is. Awette is ook werksaam in dieselfde familiebesigheid en reis daagliks 57 km (een rigting) na haar werk in Balfour. Oudste dogter Riancke het verlede jaar klaargemaak met skool en Juhané voltooi haar skoolloopbaan volgende jaar. Die dogters stem saam dat die skoolganery maar ‘n aanpassing was.  Riancke was in ‘n klas met slegs vyf matrikulante. Juhané vertel dat baie van die leerders nie tot op Suid-Afrikaanse Graad 12-vlak skoolgaan nie. Hulle verlaat vroeër die skool om hulleself in ambagte te bekwaam.

Riancke het gedurende 2023 die geleentheid gehad om te werk en te spaar vir haar droom om te reis na verskillende lande, onder meer na Kroasië, Ierland, Engeland en Nederland.

Die gesin gesels graag oor die alledaagse lewe in Nieu-Seeland. Hulle voel almal dat die kos maar “vaal” is in vergelyking met Suid-Afrikaanse kos. Die Nieu-Seelanders gebruik min of geen sout nie.  Iets wat baie gewild is en waarvan hulle ook leer hou het, is ‘n “Sausage Sizzle”. Dit is soortgelyk aan Suid-Afrikaanse boereworsrolle of selfs ‘n variasie van ‘n warmbrak. Die verskil is egter dat ‘n mens glad nie Weense worsies kry nie en boerewors is slegs beskikbaar indien dit bestel word by mede-Suid-Afrikaners. ‘n Gewone sny brood staan in vir ‘n broodrolletjie. Awette het ook geleer hoe om die plaaslike “Cheese Roll” kaasbroodjie te maak. Hierdie is baie gewild onder die Suid-eilanders.

Suid-Afrikaners in die buiteland mis natuurlik baie van ons plaaslike produkte.  “Wat ons die heel meeste mis is sekere lekkernye, byvoorbeeld ‘Speckled Eggs’ en ‘Steri Stumpies’,” sê die dogters. Awette vertel dat sy meestal haar inkopies in Queenstown doen. Sommige kruidenierswinkels daar het internasionale afdelings waar ‘n mens baie Suid-Afrikaanse produkte kan koop, wat egter baie duur is. Wat interessant is, is dat alles meestal “selfhelp” is. Elke klant kry ‘n skandeerder waarmee ‘n produk geskandeer word voordat dit in die waentjie geplaas word. Dit impliseer dat die stelsel reeds al die besonderhede het van watter items gekoop word. Voordat jy die winkel verlaat, betaal jy by ‘n spesiale punt met jou kaart. ‘n Mens hoef glad nie by ‘n kassier te betaal nie, hoewel ‘n paar gewoonlik beskikbaar is.

Die dogters mis die Suid-Afrikaanse “oemf en gees”.  Suid-Afrikaners sal sommer langs die pad staan en vlae waai tydens die Wêreldbeker Rugby. “Die plaaslike inwoners doen glad nie so iets nie,” sê hulle. “Die Nieu-Seelanders ken ook glad nie gewone langarmdanse en sokkies nie – dit is ook iets wat ons baie mis,” sê die dogters. Wat hulle toekomsplanne betref, beplan Riancke om by ‘n Nieu-Seelandse Universiteit in ‘n medies-verwante rigting te gaan studeer. Juhané dink daaraan om voort te gaan met modelwerk – iets wat sy reeds baie geniet.

Vir die Slumps was die sneeu in die winter ‘n aanpassing. Sneeu kom gereeld op die berge voor en dit gaan gepaard met baie koue temperature. Een voordeel is egter dat hulle kan gaan ski by ski-oorde wat sommer naby aan hulle is. Ski-liefhebbers kom vanoor die hele wêreld soontoe gedurende die winter.

Die gesin geniet die Nieu-Seelandse natuurskoon en ry graag rond wanneer tyd dit toelaat. “Die heel beste van alles is egter die veiligheid.  Waar ons woon is byna geen misdaad nie. ‘n Mens kan maar jou huis se deur oop los – daar sal niks gebeur nie.  Ons ken nie meer iets soos traliehekke en diefwering nie,” sê hulle.

Die gesin besoek ook die City Impact Kerk in Queenstown (Frankton), wat hul baie geniet, alhoewel dit nie so tradisioneel soos die Gereformeerde Kerk is nie.

Awette en die twee dogters het die voorreg om tans in Suid-Afrika te wees en by familie en vriende te kuier. Rinke kon weens boerderyverpligtinge ongelukkig nie saamkom nie.

 

 
 
 

Viewed: 1900

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT