ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dawie en Chantal Roux, oud-inwoners van Louis Trichardt, bevind hulle vir die afgelope agt jaar in die Verenigde Arabiese Emirate, waar hulle woon en werk. Tog bly hul eg Suid-Afrikaans en is hulle deel van ‘n Suid-Afrikaanse bevolking daar van sowat 200 000 mense. Foto verskaf.

Soutpansbergers in die buiteland: Roux-gesin steeds trots Suid-Afrikaners

Date: 21 December 2023 By: Pétria de Vaal

“Om in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) te woon en te werk, staan jy met een voet in die buiteland op ‘n plek waar dit veilig is en sisteme werk en met jou ander voet in Suid-Afrika, met die wete dat jy eendag teruggaan,” sê Dawie en Chantal Roux, eertydse inwoners van Louis Trichardt.

“Al het ons agt jaar gelede die besluit om na die buiteland te verhuis in geloof geneem, was dit steeds baie moeilik. Ons moes ons oudste seun Dawie, wat toe begin studeer het, ons ouers, familie en honde agterlaat. Ons eerste indrukke was ‘wow’, maar tog vreesaanjaend om hierdie ernstige manne by immigrasie in hul wit kandoora’s te sien. Ons was bang.” Só sê die Roux’s, wat in Abu Dhabi woon.

Meer as 200 000 Suid-Afrikaners woon in die VAE. Die Roux’s sê dat hulle selfs ‘n groter omgee vir mekaar ervaar as in Suid-Afrika. Ondersteuningsgroepe help Suid-Afrikaners in nood. “Hier sien jy nie velkleur of taal nie. Tydens braai-geleenthede kom versoeke van regoor die rasgrense vir Afrikaanse musiek, want dit laat ons voel soos huis. Ons almal ondersteun die Springbokke, Proteas en Bafana.  Sport herenig Suid-Afrikaners regoor die wêreld, ook in die VAE. Tydens elke groot sportgeleentheid maak ons huise op en maak net Suid-Afrikaanse kos,” sê Chantal.

Alle Suid-Afrikaners moet eendag teruggaan, aangesien die VAE nie immigrasie toelaat nie. Die Roux’s noem dat hulle hegter vriendskapsbande gevorm het as al die jare in Suid-Afrika.

“Ons het die voorreg om ons eie kerk in Afrikaans in ‘n kerkgebou te hê wat die regering aan ons gegee het. Ons mag vir twee ure per week die gebou gebruik en is bevoorreg om ons eie Suid-Afrikaanse predikant te hê. Hier gaan jy kerk toe omdat jy WIL gaan en ‘n behoefte het daaraan. Die Afrikaanse gemeentes van Dubai en Abu Dhabi is ‘n gemengde groep van alle Christen-denominasies wat Afrikaans praat. Ons ervaar die Bybel op ‘n heel ander manier, omdat ons die Midde-Oosterse kultuur begin verstaan. Ons hou Kerssangdienste in die woestyn. Daar is regte kamele en donkies by die geleentheid. Tydens Paasfeeste dra ons as groep ‘n groot kruis oor die duine en beleef Jesus se kruisiging. Die VAE se berge herinner aan die berge wat in die Bybel beskryf word - rotsagtig - met hulle eie bekoring wat ‘n mens rustig stem,” vertel Chantal.

Die Roux’s se seun, Tertius, het sy skoolloopbaan by die Cambridge International School Abu Dhabi voltooi - jaar 10 tot 12. Een van die Sheikh se prinsesse was saam met Tertius in die klas en sy is nie anders behandel nie. Die kinders kry kans om hulle vermoë en talente te ontwikkel teen hulle eie pas. Tertius het goed aangepas, was ‘n prefek en het die voorreg gehad om vir Prins Andrew van Engeland te ontmoet. Seniors word soos volwassenes behandel en gemeenskapsdiens tydens somervakansies is verpligtend. Die skole is ingestel op netjiese uniform en akademie, hoewel hulle nie hare en baard hoef te skeer nie en meisies hoef nie hulle hare vas te maak nie. Seuns en dogters sit apart in klasse en hoofvakke word in aparte klasse vir seuns en dogters aangebied.

Die VAE is nie groot nie, maar vooruitgang en dissipline is aan die orde van die dag. Die mense het absolute respek vir die polisie en weermag.  Alles wat offisieel is, is aan mekaar gekoppel op die Internet - jou paspoort en visum, Emirate ID, bestuurslisensie, munisipale rekening, motorlisensies en versekering, asook jou bankrekening. Alles is beskikbaar op een selfoontoepassing. Paaie is in uitstekende toestand en die spoedgrens is tot 160 km/h op sekere snelweë.

Werk is eerste prioriteit en as jy met iets ongelukkig is, kan jy teruggaan na waar jy vandaan kom. Geen gestaak of protes word toegelaat nie. Salarisverhogings vind byna nooit plaas nie en as jy nie daarvan hou nie, kan jy jou tasse pak. 

Strande is almal betaalstrande, so jy kan nie sommer net langs enige strand gaan stap nie. Suid-Afrikaners het vinnig geleer om self biltong en wors te maak. “As ons lus is vir melktert, beskuit of koeksisters, bak ons self. Ons maak gebottelde slaai, want kombuise is te warm in die somertyd.  Dadels, sjokolade en neute is gewild. Daar word graag om karak-tee of koffie gekuier, wat in klein koppies bedien word. Dit is swak maniere om koffie of tee te weier,” deel Chantal.

Die leiers stel graag ‘n goeie voorbeeld. Die Sheikh skroom nie om saam met ‘n kind ná skool op die sypaadjie te sit en wag vir hul ouers nie. Die leiers het nie ‘n blouligbrigade nie en dieselfde reëls geld vir almal. Die Covid-19 pandemie is baie goed hanteer. Almal moet steeds ‘n Covid-toets doen voordat jy in die hospitaal opgeneem word. Maskers in hospitale is verpligtend.

“As jy wil kampeer, ry jy tot by ‘n duin waarvan jy hou, slaan daar tent op en neem alles saam wat jy benodig. Die stilte is ‘n klank op sy eie. Die woestyn het sy eie bekoring en bring jou baie naby aan God - iets wat jy nie kan beleef by ‘n vakansieoord nie. Ons sonsondergange en sonsopkomste is prentjiemooi,” vertel die Roux’s.

Die land is besonder veilig. “Ons kan laataande stap. As jy ‘n waardevolle artikel êrens vergeet het, sal jy dit later kan gaan haal,” sê Chantal.

“Sandland (soos die Afrikaners dit noem) se temperature is hoog, tot 52°C in die somer. Die winter is baie soos Louis Trichardt s’n. Ons is dankbaar vir lugversorging!” Die Roux’s geniet ook internasionale geleenthede soos F1, Sewes Rugby en musiekkonserte. Die Abu Dhabi Louvre is ‘n móét vir kunsliefhebbers.

“Om in die buiteland te bly, laat jou met ander oë na Suid-Afrika kyk.  Wanneer ons gaan kuier, neem ons elke dag ‘n foto van iets moois.  Dit wys ons graag vir bure en kollegas,” sê Dawie en Chantal.

“Die Moslem Arabiere is goeie mense - vreedsaam, mededeelsaam. Ons het geleer dat alle gelowe iets goeds in hulle het en hoe dit is om mekaar te respekteer. Dit is ‘n voorreg om die VAE ons huis te noem, totdat ons eendag moet teruggaan Suid-Afrika toe. Ons bloed bly groen en goud!” sê die Roux’s ten slotte.

 

 
 
 

Viewed: 1705

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT