ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die twee jong aasvoëls is in sakke versteek, maar kon gelukkig gered word. Hulle is na ‘n VULPRO sentrum gestuur wat spesialiseer in die rehabilitasie en behandeling van aasvoëls. Die smokkelaar was teen druktyd steeds agter tralies gewees en sou Woensdag om borgtog aansoek doen. Foto verskaf.

Twee jong aasvoëls van gewisse dood gered

Date: 21 December 2023 By: Andries van Zyl

Die jaar 2023 het beslis sy kwota van slegte nuus opgelewer, maar in hierdie laaste uitgawe van 2023 (en met Kersfees om die draai) wil ons graag meer fokus op die goeie nuus. Een so ‘n goeienuus-storie wat hom die afgelope week afgespeel het was van die twee aasvoëls wat van ‘n gewisse dood en uit die hande van gewetenlose smokkelaars gered is.

Inligting is ontvang van ‘n smokkelaar van die Indermark-woongebied met twee jong aasvoëls op pad was na Louis Trichardt. Die inligting is opgevolg en met die hulp van die polisie is die man verlede Woensdag in die Mara-omgewing voorgekeer en gearresteer.

Vir Johan van Wyk, adjunk-direkteur en reservaatbestuurder by die Blouberg Natuurreservaat, was die arrestasie baie goeie nuus gewees. Die reservaat huisves ‘n groot aasvoëlkolonie en die probleem van aasvoëls wat gevang en doodgemaak word vir die sluikhandel is ‘n groot kopseer vir Van Wyk-hulle.

“Dis 'n groot probleem, omdat die aasvoëls onvolhoubaar ‘geoes’ word, wat veroorsaak dat die populasie-aanwas dit nie kan absorbeer nie. Aasvoëls vat sewe jaar om volwassenheid te bereik en dan lê hulle ook net een eier op 'n slag vir die seisoen. So, as daardie eier of kuiken iets oorkom, is dit een minder,” het Van Wyk in ‘n onderhoud met die koerant gesê.

Volgens Van Wyk word die aasvoëls, ‘n spesiaal beskermde spesie, hoofsaaklik vir muti-doeleindes gevang en verkoop, omdat party mense glo dat die voël se organe sekere magiese kragte het. “Dis hoofsaaklik vir muti-doeleindes en die bedryf is baie geheimsinnig. Ons het dus baie min inligting. Wat ons weet is dat die brein gebruik word om heldersiendheid te bewerkstellig. Omdat die aasvoëls so goed kan sien en uit die niet te voorskyn kom om op 'n karkas te kom aas, is die geloof ook dat die voëls in die toekoms in kan sien. Toordokters neem die brein in een of ander vorm in, sodat hul die toekoms kan insien. Die nasionale lotery het natuurlik ook 'n groot impak,” het Van Wyk gesê.

Volgens Van Wyk weet hulle al vir ‘n geruime tyd dat aasvoëls aktief vir die muti-mark voorsien word. “Daarom het ons ‘n beloning uitgereik vir die veilige terugbesorging van jong aasvoëls aan ons, en seisoenaal het ons tot 40 jong voëls so teruggekry,” het Van Wyk vertel. Hulle is reeds amper 30 jaar besig met hierdie projek.

Maar die laaste tyd het hulle opgemerk iets is verkeerd. Hulle het al minder en minder voëls teruggekry en verlede jaar het hulle geen voëls ontvang nie. “Ons het besef hier is iets fout en toe begin werk en inligting bekom dat die smokkelhandel die hoogte ingeskiet het,” het hy gesê. Volgens Van Wyk het hulle inligting ontvang dat ‘n aasvoël tot vir R2,000 kan verkoop. “Dit word later opgedeel in parte en so verkoop. Na wat vasgestel kon word, beloop die aasvoëls se waarde in die muti-bedryf tot R6 miljoen per jaar,” het Van Wyk gesê.

As teenvoeter het Van Wyk-hulle vroeër vanjaar met VULPRO (‘n nasionale organisasie wat hulle beywer vir die bewaring van aasvoëls) saamgespan en met ‘n opvoedingsprogram begin ten opsigte van aasvoëlbewaring by skole. Dit, het Van Wyk gesê, het gehelp aangesien hulle op grond van die inligting wat hulle hieruit ontvang het die arrestasie verlede week kon maak en die twee aasvoëls red. Hulle het ook weer begin om klein aasvoëltjies in te kry. “Maar ons sal nooit kan kompeteer met die smokkelhandel nie. Ons wil ook nie, want dis onwettig. Ons sê net dankie vir die mense wat aan die program deelneem en probeer om die onwettigheid vas te vat,” het Van Wyk gesê.

Maar hoe kry die smokkelaars hulle hande op die voëls? “Hierdie tyd van die jaar neem die kuikens hul eerste vlug. Ongelukkig gaan dit gepaard met die reënseisoen en kom die nat voëltjies nie baie ver nie. Hulle land in 'n woongebied naby aan die broeikolonie en die kinders vang dan die voëls en verkoop dit vir ‘n inkomste,” het Van Wyk gesê.

Wat die verdagte betref wat aangekeer is, is hy steeds in aanhouding. Hy het reeds in die hof op Tshilwavhusiku verskyn en sou op 20 Desember weer voorkom vir ‘n borgaansoek. Die saak word volgens Van Wyk steeds ondersoek en ander verdagtes mag moontlik bygevoeg word.

Oor die lot van die twee aasvoëls wat gered is, het Van Wyk gesê dat hulle na ‘n VULPRO sentrum gestuur word wat spesialiseer in die rehabilitasie en behandeling van aasvoëls. Hulle sal ook ‘n volledige verslag saamstel vir die hofsaak. “Op die oog af lyk die aasvoëls gelukkig, alhoewel die een tekens begin toon het van 'n moontlike neurologiese besering,” het Van Wyk afgesluit.

 

 
 
 

Viewed: 1439

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT