ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Zander Welthagen (35) saam met sy vrou Kerry en hulle agt-maande-oue seuntjie Graeme Alexander. Foto verskaf.

Zander het dapper geveg tot op die einde

Date: 15 December 2023 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg-gemeenskap treur hierdie week saam met die Welthagen-familie van Levubu met die nuus van die ontydige dood van die 35-jarige Zander Welthagen. Dié jong pa is Vrydag, 8 Desember, oorlede na ‘n aggressiewe stryd teen kanker.

Vir ouers Leon en Annelie Welthagen is die dood van hulle enigste seun moeilik om te verwerk, maar vind hulle berusting daarby dat sy lyding verby is. Eweneens is dit ‘n moeilike tyd vir Zander se eggenote, Kerry, ma van die egpaar se eerstelingkind, die agt-maande-oue seuntjie Graeme Alexander.

Volgens Annelie het Zander se probleme verlede jaar Desember begin toe sy een long skielik platgeval het. Verdere toetse sou die familie se grootste vrese bewaarheid met ‘n diagnose van ‘n baie seldsame vorm van speekselklierkanker. Ten spyte van drie kursusse aggressiewe bestraling en chemoterapie het die kanker egter vinnig deur Zander se liggaam versprei en hy is Vrydag omstreeks 10:30 in die Life Groenkloof Hospitaal in Pretoria oorlede.

“Daar is 600 gevalle aangeteken in die hele Europa sedert 1972,” het pa Leon gesê met verwysing na die seldsaamheid van die tipe kanker wat Zander opgedoen het. “Daar is ook geen gevallestudies nie, so daar is niks om te sê waarmee dit behandel moet word nie,” het Annelie bygevoeg.

Zander is twee weke gelede opgeneem in die Life Groenkloof Hospitaal. Op daardie tydstip was die kanker reeds in ‘n gevorderde stadium. “Hulle het hom twee opsies gegee. Of hulle sit hom in ‘n hospice en maak dit vir hom so gemaklik moontlik, of hulle probeer ‘n derde kursus chemoterapie en bestraling. Zander het gesê hy wil baklei tot op die einde...” het Annelie gesê.

Zander se gesondheid het sedert sy opname in die hospitaal vinnig en dramaties versleg. Hy was permanent op suurstof gewees, aangesien hy gesukkel het om asem te haal. “Dit was nie maklik nie. Die laaste twee of drie dae was vir hom baie swaar gewees ... maar hy was by sy bewussyn tot op die einde. Hy het geveg, want hy wou lewe,” het Annelie gesê.

Zander is ‘n oud-leerling van Laerskool Levubu, waar hy ook in sy laaste jaar hoofseun was. Daarna het hy sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Louis Trichardt voltooi en toe toerismebestuur gaan studeer by die Centurion Akademie vir ‘n periode van drie jaar.

Zander sou egter ná voltooiing van sy studies nooit in die toerismebedryf ingaan nie, maar het ‘n totaal ander beroep gekies. Hy het vir WK Konstruksie in Gauteng (Olifantsfontein) gaan werk en was onder andere betrokke by die bou van die brandstofpyplyn tussen Durban en Johannesburg. Sy werk sou hom wyd laat reis oor suidelike Afrika, waaronder ook Botswana, Mosambiek en Zimbabwe, onder meer om pypleidings te inspekteer. 

Rondom 2015 het Zander se ouers nog ‘n stukkie grond op Levubu gekoop en vir hul seun gevra om hulle te kom help boer. Pa Leon en ma Annelie het hulle eie rypmaakkamers vir piesangs en die werk het bietjie te veel vir hulle begin word. Hulle doen ook verkope van piesangs. Zander het toe by sy ouers aangesluit en saam met hulle begin boer, onder andere ook met makadamias en koejawels.

Kort ná Zander by sy ouers aangesluit het, het hy vir Kerry, ‘n nooi van Polokwane en ‘n onderwyseres van beroep, ontmoet. Die twee is op 4 September 2021 in die huwelik bevestig. Klein Graeme Alexander is op 27 Maart vanjaar gebore.

Zander se ouers, familie en vriende onthou hom as iemand wat altyd positief was en altyd geglimlag het. Hy het tot op die einde geglo hy sou die kanker oorwin. “Hy was regtig ‘n jentelman gewees en hy het altyd gehelp. Hy was die omgee een gewees,” het sy ouers gesê.

Vir Leon en Annelie, asook vir suster Lizani, was dit ‘n groot genade dat Zander die laaste paar jaar by hulle kon wees. “ ’n Mens se hele lewe word omver gewerp. Jy beplan vir jou kinders en nou ewe skielik moet jy ‘n hele ommekeer maak. Maar watter vreugde is klein Graeme nie nou vir ons nie,” het Leon en Annelie gesê.

Wyle Zander sal eerskomende Vrydag, 15 Desember, om 12:00 deur ds. Petrus Kriel vanuit die NG Kerk Levubu begrawe word. Hy word oorleef deur sy ouers Leon en Annelie, suster Lizani, vrou Kerry en seun Graeme Alexander.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor die hele Soutpansberg-gemeenskap vir hulle medelye, maar veral die Levubu-gemeenskap uitgesonder. “Die ondersteuning wat ons gekry het, is fenomenaal. Ek dink nie daar is ‘n gemeenskap in die hele wêreld soos die Levubu-gemeenskap nie,” het Leon en Annelie gesê. Hulle het ook al die medici bedank wat die afgelope jaar by Zander se behandeling betrokke was. “Hulle was baie goed vir hom gewees,” het Annelie gesê. Die egpaar is ook bitter dankbaar teenoor hul eie familie vir hulle omgee, asook ds. Kriel.

“Ons het baie mooi herinneringe van ons seun,” het Leon en Annelie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 3193

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT