ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Harry Pretorius (64). Foto verskaf.

Familie en vriende neem swaar afskeid van Harry Pretorius

Date: 08 December 2023 By: Andries van Zyl

Familie en vriende het die afgelope week swaar afskeid geneem van ‘n oud-inwoner van Louis Trichardt, Herman “Harry” Pretorius, wat op Maandag, 27 November, in die ouderdom van 64 jaar oorlede is. Hy en sy familie was ook vir net meer as ‘n dekade bekende gesigte op Levubu gewees.

Alhoewel Harry, soos hy alombekend was, ten tye van sy afsterwe in Polokwane woonagtig was, was hy in murg en been ‘n boorling van die Soutpansberg. Hy is 16 September 1959 op Louis Trichardt gebore, waar hy sy laerskoolloopbaan by Laerskool Soutpansberg en daarna sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Louis Trichardt voltooi het. Hy sou ná skool soos baie jongmanne van daardie tyd sy verpligte militêre diensplig gaan doen, waar hy aan 101 Bataljon verbonde was.

Ná weermag het Harry sy ambag as dieselwerktuigkundige gaan loop by Bridge Motors op Louis Trichardt, nog onder die mentorskap van wyle oom Casper Gilfillan, pa van Johan Gilfillan, wat later die besigheid in geheel sou oorneem saam met sy vrou André.

“Daarna het hy vir verskeie mense gewerk, onder andere vir baie jare vir oom Johan Lordan van Vhavenda Bricks,” het Harry se dogter, Chantél, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Harry en sy vrou Ria is op 5 November 1983 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente in die huwelik bevestig en twee kinders sou uit die huwelik gebore word, naamlik dogter Chantél en seun Herman.

‘n Tragedie sou op 2 Januarie 2007 die familie tref toe Ria net buite Louis Trichardt doodgeskiet is tydens ‘n gewapende roof. Sy was vanaf Levubu na die dorp op pad om voorraad vir hulle besigheid, Levubu Bottelstoor, aan te koop. Haar drie moordenaars sou later vasgetrek word, met een wat deur die polisie doodgeskiet is nadat hy hom teen arrestasie verset het. Die ander twee is lewenslange vonnisse opgelê. Die een is intussen in die gevangenis dood, terwyl die ander een nog sy vonnis uitdien.

Harry het ná Ria se dood vir ‘n kort tydperk na Naboomspruit verhuis en het ook in Johannesburg gaan werk. “Ná sy eerste beroerte [sowat 10 jaar gelede] het hy egter terug getrek na Louis Trichardt toe waar hy sowat agt jaar by ons [Chantél en haar man Frans] gebly het,” het Chantél gesê. Kort nadat Chantél en haar man net meer as ‘n jaar gelede Polokwane toe getrek het, het ook Harry Polokwane toe verhuis, waar hy by sy seun Herman en dié se vrou Vinettte gaan woon het.

“My ma se dood het hom baie oud gemaak,” het Chantél gesê. Harry het die laaste 10 jaar sewe beroertes gehad, asook twee hartaanvalle die laaste paar weke voor sy dood, waarvan die laaste noodlottig sou wees.

“Hy het maar gesukkel met sy gesondheid,” het Chantél gesê. Ná sy vyfde beroerte het Harry sy heup seergemaak, en ná sy sesde beroerte kon hy glad nie meer loop nie, wat hom in ‘n rolstoel gelaat het vir bykans ‘n jaar-en-‘n-half - tot en met sy afsterwe. Sy hele linkerkant was verlam.

Tog onthou sy familie en vriende vir Harry vir sy glimlag en positiewe uitkyk op die lewe. “Hy het altyd gesê oudword is nie vir sissies nie,” het Chantél gesê. Sy het bygevoeg dat hy baie uitgesien het daarna om af te tree. “Ons het Sondag, 26 November, nog by hom gekuier en toe spot hy dat hy nog net ‘n jaar oor het voor hy kan aftree,” het Chantél gesê.

‘n Roudiens vir wyle Harry vind eerskomende Saterdag, 9 Desember, om 11:00 vanuit die Veritas Gemeenskapskerk te 128 Munnikstraat (St Marks) in Louis Trichardt plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Philip Venter. Wyle Harry word oorleef deur sy twee kinders, hulle eggenote en kleinkinders Frans, Joann-Maré, Brandon en André.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor Patricia Gerber vir al die reëlings, die tannies vir die kos, Belinda en Stephan vir die bystand en ruiker, Francois en Linda vir hul hulp om die ambulans en begrafnisondernemers by die huis te kry, pa Justin en ma Sandra vir die hulp met André, tannie Annie dat sy so mooi na Harry omgesien en by hom gestaan het, Netcare 911 wat so vinnig daar was en alles probeer het, Magda en Cobus vir die skoonmaak van ma Ria se graf en hulle bystand, die kerk en tannie Martie se hulp met reëlings en ds. Venter vir die diens. “Baie dankie vir almal se gebede en liefdesgebare,” het die familie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1690

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT