ADVERTISEMENT:

 

 
 

Inwoners word uitgenooi om vanaf Vrydag, 1 Desember, ‘n draai te gaan maak by Alida en Eddie Liversage se huis om na hulle kleurespel van kersliggies te gaan kyk. Dié skouspel het nou al tradisie geword. Die liggies sal Vrydag om 19:00 aangeskakel word en sal elke aand brand. 

Kyk: Egpaar wil vreugde van Kersfees met almal deel

Date: 01 December 2023 By: Andries van Zyl

Kersfees is liggietyd, en in Louis Trichardt doen niemand dit waarskynlik beter as Alida en Eddie Liversage nie. Jaarliks omskep hulle hul huis en tuin in ‘n kleurespel van liggies, met mense wat van heinde en verre kom om dit te sien.

“Ek glo nog altyd daaraan. Die eerste week van Desember, daardie Vrydag moet die liggies aan,” het die 63-jarige Alida gesê. Vanjaar val die eerste Vrydag van Desember op 1 Desember!

Foto: Zoutpansberger.

Alida en haar man, die 65-jarige Eddie, het reeds op 1 Oktober begin om die liggies gereed te kry. Almal help, en ook haar seun, Pieter Naudé. Eddie doen die “harde” werk soos om op die dak te klim, want Alida het bietjie hoogtevrees. Pieter help op sy beurt met die staalwerk. Jare gelede het hy reeds vir haar die groot ‘Merry Christmas’ teken wat elke jaar op die palissade heining kom, gemaak. Verlede jaar het hy vir haar ‘n slee gebou, en vanjaar het hy 44 gewels uit staal vir haar gemaak wat ook geverf en met liggies versier is.

Foto: Zoutpansberger.

“Ek sê elke jaar dit is die laaste jaar, want dit is baie harde werk,” het Alida gesê. Eddie beaam dit. Tog is hulle opgewondenheid oor Kersfees onblusbaar. “Vir my gaan Kersfees absoluut oor die feesviering van Jesus se geboorte!” het Alida gesê.

Alida en Eddie se passie vir die liggies het 12 jaar gelede begin toe hulle getroud is. “Voordat ek en Eddie getroud is, het ek net so ‘n ou Kersboompie gehad wat ek net altyd in die huis versier het. Toe sê ek, ‘Nee man, die huis buite moet ook versier word.’ Dit is toe ek begin het. My man het nie grootgeword met kersliggies en bome nie, maar die gogga het hom nou al net so gebyt,” het Alida gesê.

Foto: Zoutpansberger.

Baie mense sal onthou toe Alida en Eddie in Akasiastraat gebly het en net so baie moeite gedoen het met liggies buite. Intussen het hulle na President Steynstraat 146 (op die hoek van Messinastraat) verhuis. Alida vind dit hartseer om te sien dat al minder en minder mense deesdae liggies opsit om Kersfees te vier. Sy meen dit is heel moontlik weens finansiële redes. “Dit is baie duur en jy kry nie sommer liggies nie. As jy ‘n ‘rol’ opsit, is so ‘n rol al R3,500. Baie goed bestel ek egter van Takealot, want jy kry dit nie hier nie,” het Alida gesê. Net verlede jaar het Alida-hulle R10,000 ekstra spandeer op liggies en as sy moes skat, het Alida gesê, het sy nou al sowat R600,000 se liggies gekoop. In totaal het hulle vanjaar sowat 800 meter kabels en liggies opgesit. Net een jaar het hulle skade gehad toe iemand die rol liggies op die palissade losgeknip en gesteel het deur die nag. “Ek sal huil soos ‘n babatjie as dit weer moet gebeur,” het Alida gesê.

Foto: Zoutpansberger.

Soos genoem gaan dit egter nie vir Alida en Eddie oor die koste nie, maar eerstens oor Jesus se geboorte en tweedens oor die vreugde wat die liggies vir mense bring, veral kinders. “Vir die eerste aand maak ek lekkergoedpakkies vir die kinders op,” het Alida gesê. Op 1 Desember sal hulle “oop” wees tot middernag. “En op Oukersaand op 24 Desember bly ek oop tot de laaste kar ry, want kyk, dit is my aand!” het Alida gesê. Eerskomende Vrydag sal worsbroodjies ook te koop wees. Alles word gedoen om bietjie te help met die koste. Elke jaar koop Alida-hulle R2,000 se voorafbetaalde krag ekstra, en in geval van beurtkrag, het hulle ‘n kragopwekker op bystand. Mense wat in die vermoë is kan ook ‘n donasie in die donasieblik by hulle huis gooi om met dié onkoste te help.

Foto: Zoutpansberger.

“Maar almal is baie, baie welkom om te kom kyk!” het Alida en Eddie gesê. Die liggies gaan om 19:00 aangeskakel word. Die liggies, het Alida-hulle gesê, gaan elke aand brand, behalwe as dit reën. Sy het mense ook uitgenooi om haar of Eddie te skakel by tel. 083 498 6919 of 083 339 9014 as hulle navrae het.

Alida en Eddie Liversage.

* Inwoners word uitgenooi om die koerant te skakel indien hulle ook hulle huise en tuine met liggies gaan versier. Die koerant sal graag foto’s daarvan wil gaan neem vir die opmaak van ‘n “liggie-roete” in die dorp waar inwoner kan rondry en na die liggies gaan kyk. Wat dit betref kan Andries by tel 082 603 2419 geskakel word.

 

 
 
 

Viewed: 1486

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT