ADVERTISEMENT

 

 
 

Jeanne-Mari Viviers (links) en Liana Oosthuizen (regs) met hulle twee gidshonde, Tara (links voor) en Nadya (regs voor). Naas Jeanne-Mari het Liana slegs die tweede persoon in Louis Trichardt geword om ‘n gidshond te ontvang.

Tara en Nadya word Jeanne-Mari en Liana se oë

Date: 30 July 2022 By: Andries van Zyl

Viewed: 713

Om te sien is vir baie mense vanselfsprekend, maar mens besef nie hoe kosbaar jou sig is totdat jy dit verloor nie. Vir baie is die gedagte ondenkbaar, maar vir ander is dit ‘n realiteit. Tog kan hierdie mense hulp kry, in die vorm van gidshonde, en die afgelope maand het Liana Oosthuizen slegs die tweede ontvanger van ‘n gidshond in Louis Trichardt geword.

“Ek was blind toe ek ‘n kind was, maar het my sig teruggekry, oftewel net in die een oog. Ek kon redelik normaal sien, maar die afgelope twee jaar het ek weer alles verloor,” vertel Liana. As familie het hulle aanvanklik vir 32 jaar lank met wild in die Alldays-omgewing geboer, maar in 2008 ‘n huis in Louis Trichardt gekoop.

“Niemand weet presies waarom ek my sig verloor het nie. Dit was net iets wat vier verskillende dele van my oog aangetas het. My pa was ‘n chirurg, so ek het die beste mediese hulp en behandeling gehad. Maar niemand kon uitvind hoekom dit gebeur nie,” vervolg Liana. Dan lag sy en sê sy is steeds letterlik en figuurlik in die duister oor wat gebeur het.

Liana het haar gidshond ontvang ná ‘n ontmoeting met Jeanne-Mari Viviers. Jeanne-Mari het plaaslik geen bekendstelling nodig nie. Sy is reeds goed bekend vir haar durf as ‘n blinde meisie in ‘n siende wêreld. Sy is op tweejarige ouderdom gediagnoseer met ‘n seldsame vorm van kanker, retinoplastoom. Ná talle oogoperasies het Jeanne-Mari egter die sig in al twee haar oë as kind verloor. Dit het haar nie van stryk gebring nie en op 19 Maart 2019 het Jeanne-Mari saam met haar gidshond Ebba op die verhoog gestaan om haar LLB-graad vanaf die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus te ontvang. Sy is staande toegejuig tydens die geleentheid deur haar professore en mede-studente. Jeanne-Mari het vir Ebba, Louis Trichardt se eerste gidshond, in 2014 vanaf die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging gekry. Ebba het egter in 2020 afgetree en geniet nou die lewe as ‘n gewone huishond saam met Jeanne-Mari.

Maar hoe het Liana en Jeanne-Mari bymekaar uitgekom?

“Dit was eintlik ‘n bestiering. Riana, Jeanne-Mari se ma, en ek gaan na dieselfde skoonheidsdeskundige, Elsje Lambert. Ek het baie met haar gepraat, aangesien ons ook goeie vriende is. Een keer vir haar gesê ek weet nie wat ek gaan doen as ek heeltemal blind is nie en gesê ek wens so ek het ‘n gidshond gehad. Dit was toe dat sy my van Jean-Mari vertel het,” het Liana gesê.

Liana en Jeanne-Mari het mekaar ontmoet en ‘n vriendskap het ontwikkel. Met Ebba wat afgetree het, het Jeanne-Mari in November 2020 gegaan vir ‘n ander gidshond. Dié is egter dood slegs drie weke nadat Jeanne-Mari haar ontvang het. Daarna het Jeanne-Mari besluit om vir sowat ‘n jaar sonder ‘n ander hond klaar te kom. Sy het net nie kans gesien vir nog ‘n hond nie.

“Ek het egter besluit om weer ‘n hond te kry, want ek het besluit om aansoek te doen vir my pupilskap [om toegelaat te word as advokaat] volgende jaar. As ek dit kry, gaan ek ‘n hond nodig hê om oor die weg te kom,” het Jeanne-Mari gesê. Sy het toe die proses aan die gang gesit om weer aansoek te doen vir ‘n gidshond. Dieselfde tyd het Liana ook aansoek gedoen, en in April het ‘n opleidingsbeampte van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging ‘n onderhoud met beide Jeanne-Mari en Liana kom doen.

Vir diegene wat dink dit is ‘n eenvoudige proses om ‘n gidshond op te lei en uit te plaas na iemand, dink weer. Volgens Jeanne-Mari kyk hulle tydens die onderhoud onder meer na die ontvanger se leefstyl, wat die ontvanger in ‘n hond soek, die spoed waarteen die ontvanger stap, daardie persoon se “rigting” en selfs die stemtoon van daardie ontvanger om seker te maak die regte hond met die regte persoonlikheid kom by die regte kandidaat uit. Dit is hoe die 21-maande-oue Tara, soos Ebba ook ‘n Labrador teef, nou by Jeanne-Mari uitgekom het. Liana het vir Nadya, ‘n vier-jaar-oue Labradorteef, gekry.

Om ‘n gidshond te kry wat in daardie stadium reeds opleiding ontvang het, is net een deel van die proses. Die ontvanger moet ook opleiding kry oor hoe om die hond te hanteer. Hierdie opleiding het oor ‘n periode van sowat ‘n maand (Junie/Julie) vir Jeanne-Mari en Liana by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging se opleidingsfasiliteit in Johannesburg plaasgevind. “Daar word daar nie onderskeid getref of dit jou eerste of tweede of derde hond is nie. Almal doen presies dieselfde. Dit begin met handle walks waar hulle met jou met die harnas loop en leer om bevele te gee,” het Jeanne-Mari gesê. Dié opleiding is aanvanklik sonder die honde, aangesien die ontvanger eers moet leer wat hy of sy moet doen en hoe om opdragte te gee as hulle hul gidshond ontvang. Daarna begin die ontvanger met die gidshond stap. Dit is hier waar die gidshond en die ontvanger moet leer om saam hindernisse te vermy, soos om om pale te stap, trappies te klim en op en af teen sypaadjies te kom. Juis dan is wanneer die gidshond die blinde persoon se oë word. Die honde word geleer om die hele tyd te observeer en selfs hoe om haar “mens” om ‘n laaghangende tak of lae voorwerp waarteen sy dalk haar kop kan stamp, te neem. Hulle leer ook hoe om strate te kruis en hoe om verkeersligte te hanteer. Die kursus word afgesluit met die ontvangers wat ‘n “solovlug” onderneem waar hulle alleen met hul hond moet gaan stap, sonder die hulp van die opleidingsbeampte. Ná dit kom hierdie opleidingsbeampte saam met die ontvangers na hulle huise toe om die gidshond die roetes in en om die huis te leer.

Liana, Jeanne-Mari en hulle gidshonde se opleiding het verlede week plaaslik ten einde geloop. “Ons het geloop tot ons blase op ons voete gehad het, maar dit was een van die wonderlikste ervarings in my lewe!” het Liana gesê. Ongelukkig het ontnugtering egter ook gewag - die ontnugtering van hoe sommige mense blinde mense en hulle gidshonde hanteer deur hulle letterlik te penaliseer vir hulle gebrek. Liana vertel hoe sy net nou die dag toegang tot ‘n plaaslike winkelsentrum geweier is omdat honde nie toegelaat word nie, alhoewel sy verduidelik het dat sy blind is en dat Nadya ‘n gidshond is. “Maar ek wil vir jou sê watter winkels my met ope arms ontvang het. Dit was fantasties! Dit was die ou Checkers en Salomé se apteek langsaan. Dan ook Dischem in die Mall. Hulle het dadelik vir my gesê: ‘Yes, we know what a guide dog is. Come straight in. You are more than welcome’. Dit is omtrent al,” het Liana gesê.

“En as hulle jou toelaat, soos wat met ons gebeur het by twee plaaslike restaurante, verwag hulle van jou om buite in die koue te sit met jou gidshond. Jou gidshond moet aan die tafel vasgemaak word. Ek meen, hierdie honde, as hulle in hulle harnas is, is beter gemanierd as party mense se kinders,” voeg Jeanne-Mari by.

Beide Jeanne-Mari en Liana het die hoop uitgespreek dat mense hulle siening oor gidshonde sal verander. “Die honde het altyd hulle harnas aan, en daar staan duidelik dat hulle werk as gidshonde ... Ek dink baie mense is net bang vir ‘n hond. Hulle dink die hond gaan hulle byt,” het Liana gesê. “Ek het al baie mense teëgekom en probeer opvoed oor gidshonde, maar hulle skop net vas en sê dit bly ‘n hond. Dit is eintlik wat vir my die irritasie is. As jy nie weet nie is dit reg, maar hoor ten minste net wat ek vir jou sê,” het Jeanne-Mari bygevoeg.

Ter afsluiting het Liana haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir die kans wat hulle vir haar gegee het om weer te “sien” deur Nadya se oë. “Vandat ons daar aangekom het, het hulle ons op hulle hande gedra. Ons het drie etes ‘n dag gekry en het elkeen ons eie kamer en badkamer geskry. Jy betaal vir niks nie ... Die een dag toe sê ek dat ek oorweldig is deur alles wat hulle vir ons doen, toe sê die huismoeder vir my: ‘Weet jy wat, ons wil hê as julle hier is moet julle oor niks bekommerd wees nie. Konsentreer julle net op julle honde en julle opleiding’. Vir my is dit die beste organisasie in die hele wêreld,” het Liana gesê.

Volgens Jeanne-Mari en Liana kry die vereniging geen hulp vanaf die regering nie en maak hulle staat op skenkings en borgskappe. “Dit is belangrik om te noem dat hulle nie net gidshonde oplei nie. Hulle lei ook dienshonde op vir mense met fisiese gestremdhede en honde vir kinders wat outisties is,” het Jeanne-Mari bygevoeg. “Met ons ‘gradeplegtigheid’ het die hele saal gehuil, want daar was twee outistiese kinders ook wat honde gekry het,” het Liana gesê.

Persone wat graag ‘n bydrae wil maak aan die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging of meer oor hulle wil weet kan hulle skakel by tel. 011 705 3512 of hulle webwerf besoek by www.guidedog.org.za.  Die vereniging se bankbesonderhede is: SA Guide Dogs, FNB, rekeningnommer 62927657463 en vir verwysing kan mense hul naam of die woord donasie gebruik. “Mense kan ook vra vir Artikel 18A-sertifikate, wat dan gebruik kan word vir belastingdoeleindes,” het Jeanne-Mari gesê.

 

 
 
 
 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

 
 

 
 

ADVERTISEMENT