ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 39-jarige Nicky van Wyk wat op 18 Julie oorlede is, nadat hy deur ‘n minibus-taxi raakgery is. Foto verskaf.

Jong man sterf ná taxi hom raakry

Date: 28 July 2022 By: Pétria de Vaal

“Die oggend voor hy werk toe is het Nicky nog vir my gesê: ‘Sien jou later’.”  Só sê ‘n gebroke Adel, Nicky van Wyk se vrou. Die 39-jarige Nicky is skielik van sy geliefdes op 18 Julie weggeneem, toe hy vroegoggend deur ‘n minibus-taxi in Vorsterstraat, Louis Trichardt, raakgery is. 

“Nicky was besig om werk toe te stap. Niksvermoedend het ek die middag ná werk vir hom daar gaan wag – soos wat my gewoonte was. Hy was nie daar nie, en die skok was groot toe ek uiteindelik uitvind wat gebeur het. Die ongeluk het om vyf voor ses die oggend plaasgevind. Die taxi het vir Nicky na die Gedenkhospitaal geneem, vanwaar hy na Elim oorgeplaas is en dieselfde dag oorlede is,” sê Adel baie hartseer.

Nicolaas Johannes van Wyk is op 21 Januarie 1983 in Pretoria gebore. “Hy het ook daar skoolgegaan.  Ons het mekaar in Pretoria ontmoet en sou op 13 September 10 jaar getroud gewees het,” noem Adel. Die paartjie het drie jaar gelede na Louis Trichardt verhuis. Nicky was werksaam by Tuned2Race. Adel vertel trots dat Nicky ‘n harde werker was. Almal sal hom onthou vir sy spontaneïteit, glimlag en die feit dat hy altyd vriendelik was. “Hy het geskitter as hy ‘n mens groet,” voeg Adel by. “Hy was ‘n goeie man en ook ‘n baie goeie pa vir die twee seuns,” sê sy.

‘n Roudiens is vir Nicky op 25 Julie in die Emmanuel Christian Church gehou. “Dit was sy wens om veras te word, maar dit kan ons ongelukkig eers doen sodra daar genoeg fondse beskikbaar is,” sê Nicky.

Nicky laat sy vrou, Adel, die twee seuns, Dwayne (10) en Damian (9) agter, asook sy broers Nico Geldenhuys en gesin van Louis Trichardt en Deon Geldenhuys wat in die Kaap woonagtig is. Hy laat ook sy ma agter wat in Pretoria woon.

Adel wil graag dankie sê aan almal wat die diens bygewoon het, asook aan al die familie, Pastore Andries van Heerden en Johan Coetzee en almal wat die roudiens moontlik gemaak het. “Baie dankie aan Gerda en Donald Nagel, asook aan Rülke en almal wat my so baie bystaan,” sê Adel.

“Ons gaan hom baie mis. ‘He was one of a kind’,” het Adel gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2112

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT