ADVERTISEMENT:

 

 
 

Gerd Botha (links), voorsitter van die Vriende van Blouberg organisasie, en Johan van Wyk (regs), bestuurder van Blouberg Natuurreservaat. Foto's verskaf.

Blouberg is suksesverhaal wat ‘n besoek werd is

Date: 30 April 2022 By: Pétria de Vaal

Sedert die Vriende van Blouberg (VvB) op 21 Julie 2010 op die been gebring is, in samewerking met die BirdLife Soutpansberg Voëlkykersklub (destyds onder leiding van Barry Fourie), is die verskil wat hierdie nie-winsgewende organisasie maak, merkbaar by die Blouberg Natuurreservaat. Gedurende 2017 het die Zoutpansberger berig dat ‘n vlughok ingewy is wat die reservaat in staat sou stel om meer aasvoëls te rehabiliteer.

Volgens Gerd Botha, voorsitter van die VvB, was van die bedreigde kransaasvoël in ‘n stadium slegs ongeveer 100 broeipare oor. “Die klein aasvoëltjies wil graag van die hoë kranse af vlieg, maar vlieg dan reguit grond toe. Aangesien die klein aasvoëltjies gebruik word vir muti-mengsels (en spesifiek daarvoor verkoop word), het die getalle geweldig afgeneem. Hierdie aksies kan nie gepolisieer word nie. Sedert die plaaslike gemeenskappe in hierdie verband betrek word deurdat dieselfde betaal word as aasvoëls teruggebring en gerehabiliteer kan word, het ons aantal broeipare tot ongeveer 2 000 toegeneem,” sê Gerd. Hy voeg by dat hierdie aasvoëls normaalweg in dieselfde neste broei, maar dat ‘n hele aantal nuwe neste deesdae gesien word.

Johan van Wyk, bestuurder van Blouberg Natuurreservaat (‘n staatsreservaat), noem dat elke ding wat die VvB aanpak en doen geweldig baie help. “Van die groot projekte sluit in die gooi van sement en klip om ‘n pad meer begaanbaar te maak, tot die herstel van ‘n pap band,” sê hy. Waar kleinighede in die verlede weke kon neem om herstel te word, kan dit nou onmiddellik gebeur – danksy die hulp en fondse wat deur die VvB en borge beskikbaar gestel word. “Daar is baie persone en borge betrokke, maar ek wil graag die naam noem van Leach Drukkers, wat vir ons ordentlike naamborde aangebring het,” sê Johan. “Die Limpopo Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme is deesdae gemaklik met die hulp wat ons ontvang,” voeg Johan by.

Gerd vertel dat met ‘n handjievol mense heelwat fisiese werk gedoen word. Tóg is hulle baie suksesvol, veral omdat van die lede van die publiek, asook besighede, geldelik bydra wanneer hulle nie in persoon met iets kan help nie. Gerd, nou woonagtig te Pontdrift, is nou heelwat nader. “Ek het afgetree en was voorheen van Pretoria. Dit is nou vir my makliker om gou deur te ry en aandag te gee aan projekte, asook kleinighede,” sê hy.

Gerd is opgewonde daaroor dat die VvB aan ál die waterpunte en boorgate kon aandag gee. ‘n Waterkrisis het ontstaan en enigiets wat herstel kon word is gedoen, bv. die vervang van pype, pompe en so meer. Johan bevestig dat hulle selfs, waar nodig, kon boor.

Ander projekte sluit in die bou van ‘n versonke skuiling te Buffelspan, ‘n “aanloopbaan” vir die aasvoëls wanneer hulle vrygelaat word wat ook dien as uitkykdek vir besoekers, asook toiletgeriewe wat onlangs by Vyebos, Buffelspan, die “Aasvoëlrestourant” en by die uitkykpunt aangebring is.

Gerd noem dat Internasionale Aasvoëlbewusmakingsdag (IVAD) op die eerste Saterdag in September gehou gaan word. “Ons gaan groot makietie hou, aangesien Covid-19 vorige byeenkomste in die wiele gery het,” sê hy. Indien lede van die publiek hul hulp wil aanbied, of selfs besighede by die VvB wil aansluit, is hulle welkom om vir Gerd Botha te kontak by 063 231 1253.

Blouberg Natuurreservaat is in 1983 geproklameer op ‘n stuk grond van net minder as 10 000 hektaar. Johan, wat reeds vir nagenoeg 30 jaar hier werksaam is, noem dat besoekers welkom is by een van vier kampe: Mashatu bestaan uit vier ten volle toegeruste chalets, Tamboti is ‘n tentkamp, Molope verskaf privaat kampeerplek en Modumele is ‘n boskamp. “Behalwe vir die aasvoëls, het ons ‘n wye verskeidenheid ander wild, soos buffels, swartwitpense en ook roofdiere,” sê Johan.

Vir meer inligting en besprekings kan Maureen by 071 950 4332 gekontak word.

 

 
 
 

Viewed: 871

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT