ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 48-jarige Jannie Bouwer (regs) saam met pa Jan is weer 100% aan die gang, nadat medici op 1 April suksesvol die plaat in sy kop wat ‘n gapende kopwond beskerm kon vervang.

Jannie gesond ná operasie om gat in kop toe te maak

Date: 22 April 2022 By: Andries van Zyl

Met die 48-jarige Jannie Bouwer van Louis Trichardt gaan dit nou weer klopdisselboom, nadat medici op 1 April die gat in sy skedel suksesvol kon toemaak.

Jannie en sy ouers, Jan en Anita, het einde verlede jaar ‘n paar benoude oomblikke beleef toe ‘n abses gevorm het onder die aanvanklike plaat wat 27 jaar vantevore onder sy kopvel geplaas is om ‘n gapende kopwond te bedek. Die kopwond is veroorsaak tydens ‘n motorongeluk in 1994.

Jannie het op 23 November verlede jaar skielik begin siek word en hy is opgeneem in die Unitas Hospitaal. Daar het neuroloë bevind dat die plaat die oorsaak van Jannie se siekte was en dat dit verwyder moes word. Ná die plaat verwyder is, het Jannie 10 dae in die Unitas hospitaal spandeer om gesond genoeg te word om weer ontslaan te word, wat egter net die helfte van die oplossing op sy pad na herstel was.

Die plaat kon nie dadelik weer vervang word nie, aangesien Jannie eers van die infeksie moes herstel. Hy is huis toe gestuur met streng waarskuwing om versigtig te wees, aangesien sy brein in daardie stadium slegs deur ‘n stukkie vel beskerm is oor die gat van ongeveer 2,5cm by 13cm in sy kopbeen. In daardie stadium was almal verbaas dat die ou plaat al 27 jaar in sy kop was, want so ‘n plaat se leeftyd is tussen 10 en 15 jaar.

Jannie se kopwond moes binne ‘n maksimum van drie maande weer toegemaak word. Dit het uiteindelik op 1 April gebeur, weer in die Unitas Hospitaal. “Jannie is ná drie dae uit die hospitaal ontslaan. Die operasie het maar een-en-‘n-halfuur geduur. Ons het regtig gedink dit gaan langer vat. Die chirurg was so beïndruk met sy vinnige herstel, dat hy hom nie eers antibiotika gegee het toe hy ontslaan is nie, slegs ‘n paar kopseer pille,” het pa Jan gesê.

Ma Anita het sommer self die afgelope week die steke uit haar seun se kop gehaal. “En hy is klaar weer aan die gang met sy grassnyers,” het Jan gesê. Jannie bedryf se eie grassnyer besigheid vanaf sy ouerhuis.

“Ek voel goed en ek is bly dit is verby,” het Jannie gesê. “Sy kopsere is ook baie beter,” het Jan gesê.

Die nuwe plaat, wat bestaan uit ‘n mengsel van keramiek en plastiek, is ‘n langtermyn oplossing wat volgens Jan eers weer oor 30 jaar aandag sal nodig hê, sou niks dramaties gebeur nie. Hulle is dankbaar vir almal wat hulle op die pad na Jannie se operasie en herstel bygestaan het. “Ons wil graag almal bedank vir hul gebede en finansiële hulp aan ons met Jannie se gesondheid en mediese koste. Hy is terug by die huis en die operasie is suksesvol afgehandel en hy sterk goed aan, met dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader en ‘n paar name wat ons graag wil noem,” het Jan gesê. Die name het ingesluit die Agapé-gemeente, Dries en Izelle Briers, Anet van den Berg, Fritz Thiele, Jeremy, Cassim’s Spares en Pierre en Heleen Jaume.

 

 
 
 

Viewed: 1102

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT