ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 38-jarige Marisa Naudé-Odendaal van Louis Trichardt wat genomineer is vir een van twee posisies as regter in die Hooggeregshof van Limpopo. Foto verskaf.

Marisa genomineer vir Limpopo regter posisie

Date: 15 April 2022 By: Pétria de Vaal

‘n Groot eer het ‘n boorling van Louis Trichardt te beurt geval deur genomineer en aanbeveel te word vir een van twee posisies by die Hooggeregshof in Limpopo.

Advokaat Marisa Naudé-Odendaal is die dogter van bekende plaaslike prokureur André Naudé en sy vrou Martie. Marisa het reeds as leerling van onderskeidelik Soutpansberg Laerskool en Hoërskool Louis Trichardt uitsonderlike prestasies behaal.

Marisa is op Donderdag, 7 April, deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) genooi vir ‘n onderhoud in Sandton. Sy en adv. Thogolemani Tshidada is Donderdagaand by pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel om as regters in Limpopo aangestel te word.

Marisa het haar LLB en AIPSA Diploma in Insolvensie Reg en Praktyk by die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het haar klerkskap by onder meer Coxwell, Steyn, Vise en Naudé in Louis Trichardt gedoen.

Aanvanklik wou Marisa net praktiseer as aktevervaardiger en boedeladministrateur. Nadat sy egter in die Landdroskantoor op Louis Trichardt verskyn het, was sy baie ingenome met litigasie en haar praktyk het al hoe meer in hierdie rigting begin beweeg. Gedurende 2009 het sy aansoek gedoen by die Pretoria Vereniging van Advokate om haar pupilskap te doen, wat in 2010 plaasgevind het. As praktiserende advokaat het sy nooit in enige spesifieke rigting gespesialiseer nie en is blootgestel aan ‘n wye verskeidenheid van sake. In haar dokumente wat aan die RDK voorgelê moes word, noem Marisa dat dit nog altyd haar droom was om ‘n regter te word en het haarself dus beskikbaar gestel om as landdros waar te neem ter wille van die ondervinding. Sy het opgetree as landdros in Bloemfontein, Dewetsdorp, Zastron en Thohoyandou. Zastron is in hierdie tyd deur die Nasionale Vervolgingsgesag aangewys as die beste presterende hof.

In ‘n oorsig oor kandidate wat saamgestel is deur die Limpopo Vereniging van Advokate word genoem dat, as Marisa aangestel word, die boodskap na die gemeenskap sal uitgaan dat die regbank ernstig is oor transformasie, veral uit ‘n geslagsoogpunt. Sy is ook bevind as ‘n geskikte en gepaste persoon, ‘n persoon met integriteit.

Marisa het al altesaam 105 uitsprake geskryf waarvan nie ‘n enkele een tersyde gestel is nie.

Marisa is gedurende November 2021 deur adv. Francois Botes genomineer vir aanstelling as regter in die Limpopo Hooggeregshof. Botes beskryf vir Marisa as  “a talented and skilled legal practitioner and she has the capability, capacity and disposition to grace the Bench as a Judge of the High Court of South Africa”. Hy noem ook dat sy oor die tipe persoonlikheid beskik wat ‘n mens van ‘n regter verwag, nieteenstaande die feit dat sy slegs 38 jaar oud is.

Sedert Julie 2020 het Marisa vir altesaam 60 weke (per geleentheid ook pro bono) waargeneem as regter van die Limpopo Hooggeregshof. Nuuswaardige sake waarin sy as waarnemende regter opgetree het, was die moordverhoor van onderskeidelik Herman van Tonder en Rameez Patel, asook die sage van die VBS Mutual Bank.

 Marisa het die nominasie aanvaar en al die dokumente moes voor 26 November ingedien wees.

Louis Trichardt se inwoners salueer Marisa, wat in haar onderhoud genoem het dat sy streng en ferm in ‘n hof optree maar nooit sonder respek nie.

 
 
 

Viewed: 1061

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT