ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Marthie Pauer (80). Foto verskaf.

In lewe het sy soveel vir so baie beteken

Date: 01 October 2021 By: Andries van Zyl

In lewe was die 80-jarige Marthie Pauer, wat verlede week wreed in haar huis op Louis Trichardt vermoor is, ‘n boervrou van formaat gewees.

Marthie Louisa Susanna Pauer (nooi Du Toit) is op 31 Julie 1941 in die destydse Pietersburg gebore. Haar ouers en broer Tooi (82) het op Sandfontein, nou bekend as Mahlala, wes van die stad gewoon waar haar pa tot en met 1946 die polisie se stasiebevelvoerder was.

In 1955 het die gesin na Barberton verhuis, waar Marthie skoolgegaan het. Sy het in Pretoria gematrikuleer in 1959 waarna sy as onderwyseres gekwalifiseer het by Normaal Kollege (NKP).

Halfway House, nou bekend as Midrand, was waar die familie toe gewoon het tot sy in 1960 met Freddie Pauer getroud is. Sy het daarna na Freddie se plaas op Waterpoort getrek (waar die familie steeds woon) en by die skool op Mopanie begin klas gee. Drie seuns, Junior, Francois en Jaco, is uit Freddie en Marthie se huwelik gebore.

Die egpaar het geboer op Waterpoort tot en met Freddie se afsterwe in 2006. Voor dit het die egpaar ook in 1976 ‘n slaghuis op Waterpoort geopen, waardeur Freddie sy beeste bemark het. Marthie het ook ‘n opleidingsentrum vir die Departement van Arbeid op Waterpoort bedryf.

Marthie was bekend as ‘n raakvat boervrou. Sy was ‘n uitstekende naaldwerkster en het die hoogste kwaliteit projekte en klere gemaak. Sy het haar talent graag gedeel met honderde studente in haar naaldwerk-opleidingsentrum op die familieplaas (Vleifontein) om vir hulle te leer om klere vir hulself en hulle families te maak. Sy het ook uitgeblink as ‘n meubelstoffeerder.

Haar kinders en kleinkinders vertel graag van haar heerlike boerekos. “Ouma Marthie se koekies en boerbeskuit! Voorwaar was sy ‘n bobaas bakster! Ouma Marthie se boerewors resep is haar ‘legacy’. Nêrens in die wêreld sal jy lekkerder boerewors kry nie,” het haar familie gesê.

Marthie het vir soveel plaasmense gesorg. Sy het hulle ondersteun en die middele gegee en hul geleer om vir hulle gesinne ‘n goeie lewe te maak. Sy was bekend in die Soutpansberg-omgewing en het op vele komitees en die plaaslike VLU gedien.

Ná Freddie se dood het Marthie se seuns verantwoordelikhede op die plaas oorgeneem. Aanvanklik eers Jaco, totdat hy en sy familie in 2010 na Australië geëmigreer het. Daarna het Francois oorgeneem. Ma Marthie het egter nooit regtig afgetree nie en het tot haar dood tussen die plaas en haar huis in die dorp gependel.

Wyle Marthie word oorleef deur haar drie seuns, broer, ses kleinkinders en haar skoonfamilie. Haar afsterwe laat ‘n groot leemte in talle se lewens. ‘n Roudiens sal Donderdag, 7 Oktober, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente gehou word. Die diens sal ook lewendig via die Internet uitgesaai word.

Junior het intussen namens die familie sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Soutpansberg vir hulle omgee en woorde van vertroosting. Hy het spesifiek broer Francois bedank wat omsien na die plaas, asook ‘n spesiale woord van dank gerig aan sy vriendin Elsabé Jordaan.

 

 
 
 

Viewed: 2004

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT