ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jaype nadat hy begin het met chemoterapie. Ná twee ernstige terugslae oor die naweek het hy kort na een-uur Maandagoggend gesterf. Foto verskaf.

Jaype verloor dapper stryd

Date: 05 December 2020 By: Andries van Zyl

Vir meeste mense is Kersfees ‘n tyd van vreugde en geluk, maar vir een familie van Louis Trichardt sal dit vanjaar ‘n tyd van enorme hartseer wees.

Inwoners het Maandagoggend met skok en hartseer verneem van die skielik dood van die 15-jarige Jaype Jansen van Rensburg. Hy is op 27 Julie vanjaar met Ewing’s Sarcoma gediagnoseer. Ewing’s Sarcoma is ‘n seldsame, kankervormende gewas wat op die been en die sagte weefsel om bene groei. Dit kom veral voor in jongmense tussen die ouderdom van 10 en 20 jaar. In meeste gevalle is die kans op genesing goed en dit was presies waarvoor Jaype, sy ma Elize, pa Johannes en tweelingboetie Donevan gehoop het. Sedert sy diagnose het Jaype begin met chemobehandeling in die Steve Biko Hospitaal, waar hy ook oorlede is nadat hy die afgelope naweek verskeie terugslae beleef het.

Jaype het Saterdag net voor 12:00 sy eerste groot terugslag gehad. Sy rug het begin styf word. “Hy het vir my gesê: Mamma, my ruggie is styf. Ek kan nie beweeg nie,” het Elize Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Sy moes deurlopend teen die trane en hartseer veg terwyl sy vertel het van Jaype se laaste ure.

Jaype het ook erge kouekoors gehad. Die dokters het toe begin om hom vloeistof binneaars toe te dien. Hulle het hom ook ‘n spierverslapper vir die spiere in sy rug gegee.

Ná bykans ‘n uur van behandeling het Jaype bietjie tot rus gekom. “Omtrent 17:00 Saterdagmiddag het Jaype ‘n volgende terugslag beleef. Sy hele lyfie het begin swel. Weer het hulle vir hom baie vloeistof, plaatjies en plasma gegee,” het Elize gesê.

Steeds optimisties dat Jaype op die pad van herstel is, het hulle Sondag aangedurf. “Die oggend was sy dokter by my. Toe sy hom klaar ondersoek het, het sy stip na my gekyk en gesê sy kan my nie belowe dat Jaype weer daar gaan opstaan nie, maar dat sy steeds alles in haar vermoë sal doen om Jaype gesond te kry,” het Elize gesê.

Die dokter se woorde het die hele dag in Elize se kop gemaal. “Die aand vra ek toe vir die ander dokter wat aan diens gekom het sy moet eerlik met my wees, of Jaype weer gaan opstaan,” het Elize gesê. Wat gevolg het is woorde wat geen ouer wil hoor nie. “Sy het vir my gesê nee, Jaype gaan nie weer daar opstaan nie - sy organe werk nie meer nie. In daardie stadium het sy hartklop begin verswak en hulle moes hom suurstof gee,” het Elize gesê. Dit was omstreeks 19:00 Sondagaand.

Elize het gesê sy het van haar kop af geraak met die ontstellende nuus. “Ek het weer vir die dokter gevra om eerlik te wees met my: Hoe lank het ek nog vir Jaype by my? Sy het vir my gesê jammer, dit kan enige tyd van nou tot môreoggend wees,” het Elize gesê.

Elize het dadelik vir Johannes geskakel en gesê hulle moet aanstaltes maak om by die hospitaal uit te kom. In daardie stadium was Johannes en Donevan in Louis Trichardt. Niemand kon voorspel dat dinge so vinnig sou verkeerd loop nie. Jaype sou egter sterf voordat Johannes en sy boetie by hom kon uitkom. Gelukkig maar hartseer kon Jaype darem sy pappa en boetie oor die telefoon groet. “Donevan se laaste woorde aan sy boetie was: ‘Jy moet sterk wees!’”

Tot en met Jaype se afsterwe was hy by sy volle positiewe. “As ek hom gevra het waar hy is, dan het hy gesê hy is in die hospitaal. As ek hom gevra het wie ek is, het hy gesê dit is sy mammie,” het Elize gesê. Sy het by sy bed gesit en haar seun se hand vasgehou tot hy sy laaste asem uitgeblaas het. Terwyl die trane vloei vertel sy van die laaste paar oomblikke saam met haar Jaype. “Hy het my die heel tyd in my oë gekyk. Hy het swaar gekry. Hoe minder hy asem gehaal het, hoe minder het die borskassie beweeg ... Ek was die heeltyd by hom gewees ... Net voor sy laaste hartklop het hy met daai ogies van hom na my gekyk, so asof hy vir my wou sê: ‘Mamma, ek gaan nou huis toe...’” het Elize gesê.

Te midde van die hartseer het Elize gesê sy is dankbaar dat sy tot op die einde by haar seun kon wees. Sy dood is egter steeds vir haar ontydig. Almal het saam gehoop en gebid dat Jaype sou herstel. “Ek dink sy liggaampie kon net nie meer ná al die terugslae nie ... Almal sê miskien is dit vir die beste en miskien is dit so, maar dat hy so skielik van my weggevat is ... dit is wat my hartseer maak,” het Elize gesê.

Voorlopig sal Jaype se begrafnisdiens in Pretoria plaasvind, aangesien meeste van sy familie daar is. Elize het egter gesê dat hulle ook ‘n gedenkdiens op Louis Trichardt beplan vir al sy vriende en kennisse. Ná Jaype se diagnose het Elize haar werk gelos om voltyds by haar seun te wees. Finansieel het dit egter slegter en slegter met die familie begin gaan, omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie.

Nou, meer as ooit, het die familie dus die publiek se hulp nodig. Fondse is broodnodig om vir hul seun se begrafnis te help betaal. Vir dié doel het die NG Kerk Soutpansberg-gemeente hul bankrekening beskikbaar gestel.

Donasies kan inbetaal word Absa Bank in die naam van NG Kerk Tvl Soutpansberg, tjekrekeningnommer 1000000201, takkode 334149, met verwysing: Jaype Begrafnis.

Wyle Jaype word oorleef deur ma Elize, pa Johannes, tweelingboetie Donevan en ouer broer Steven. Elize het namens die familie haar dank uitgespreek teenoor almal vir hulle gebede, boodskappe van hoop en ondersteuning tydens sy siekte en ná sy afsterwe.

 

 
 
 

Viewed: 1363

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT