ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 15-jarige Jaype Jansen van Rensburg sal volgende week begin met sy vyfde chemobehandeling van drie-en-‘n-half dae in sy stryd teen Ewing’s Sarcoma. Foto verskaf.

Jaype steeds optimisties dat hy kanker gaan klop

Date: 12 November 2020 By: Andries van Zyl

Die 15-jarige Jaype Jansen van Rensburg van Louis Trichardt voer steeds ‘n dapper stryd teen kanker en is optimisties oor sy kanse om ten volle genees te word.

“Dit gaan ‘n bietjie beter, nadat hy verlede week bietjie van ‘n terugslag gehad het. Hy moes terug gaan hospitaal toe weens koors en infeksie in sy maag. Hiervoor moes hy ‘n week lank antibiotika kry. Hy kon egter verlede Dinsdag ontslaan word en Vrydag [6 November] kon ons darem weer bietjie huis toe kom op Louis Trichardt,” het ma Elize Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Jaype ontvang tans chemobehandeling in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria nadat hy op 27 Julie vanjaar met Ewing’s Sarcoma gediagnoseer is. Ewing’s Sarcoma is ‘n seldsame, kankervormende gewas wat op die been en die sagte weefsel om bene groei. Dit kom veral voor in jongmense tussen die ouderdom van 10 en 20 jaar. Die goeie nuus is dat dié kanker in baie gevalle ‘n goeie kans het op genesing.  Jaype het vir bykans 18 maande met die kanker saamgeleef, terwyl hy in konstante pyn verkeer het, voordat hy met die siekte gediagnoseer is.

“Sondag [15 November] moet ons egter weer teruggaan sodat hy Maandag met sy sesde sessie chemoterapie van drie-en-‘n-half dae kan begin,” het Elize gesê. Hulle sal dan in Pretoria aanbly, aangesien Jaype ‘n week later weer moet gaan vir bloedtoetse om te kyk hoe lyk sy bloedtellings.

Jaype sal in een of ander stadium ‘n operasie moet kry, sodat medici kan kyk of hulle die kankervormende gewasse kan verwyder. Die familie is egter steeds onseker wanneer presies die operasie gaan plaasvind. “Hulle het my nog nie gesê nie. Die vyfde chemobehandeling is nou en die sesde een in Desember. Eers daarna sal hulle vir my kan sê wanneer hy kan gaan vir die operasie,” het Elize gesê.

Op ‘n positiewe noot lyk dit of Jaype goed reageer op die chemobehandeling. “In die week wat hy vir sy vierde chemobehandeling in die hospitaal was, het hulle weer ‘n sonar gedoen op sy pelvis waar die kanker is. Die sonar het gewys dat die kanker kleiner is en dat daar nie nuwe verspreiding was nie. So, dit beteken dit [die behandeling] werk,” het Elize gesê.

Te midde van die ongemak van die behandelings bly daar volgens Elize steeds ‘n glimlag op Jaype se gesig. “Hy is nog heeltemal positief. Al wat hom bietjie gevang het, was die terugslag wat hy onlangs beleef het,” het Elize gesê.

Indien lesers meer inligting verlang oor Jaype se toestand, of hoe hulle kan help, is hulle welkom om Elize te skakel by tel. 065 169 0367.

 

 
 
 

Viewed: 931

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT