Die 54-jarige Jorrie Jordaan van Louis Trichardt het inwoners versoek om nie onnodig die lewe moeilik te maak vir mense met gestremdheid nie, soos om op die spesiale parkerings vir mense met gestremdheid te parkeer as hulle niks makeer nie.

“Om nie te kan lees nie, is nie ‘n gestremdheid nie”

Date: 22 August 2020 By: Andries van Zyl

Viewed: 825

Party motoriste blyk maar min genade te hê vir die dorp se gestremde inwoners. Vir die 54-jarige Jorrie Jordaan van Louis Trichardt is hierdie ‘n teer saak. Sy regterbeen moes sowat ‘n jaar gelede weens gesondheidsredes net onder die knieg afgesit word. Intussen het hy ‘n kunsbeen ontvang en ervaar hy eerstehands die probleme wat ‘n gestremde persoon daagliks in die gesig staar.

Sy grootste frustrasie is mense sonder gebrek wat die parkerings vir gestremde persone by winkels misbruik. Hy het hordes foto’s van “oortreders” en het beduie na een foto van ‘n voertuig wat hy onlangs in die parkering vir gestremde persone by die “ou” Checkers afgeneem het. Nadat hy die eienaar by die voordeur ingewag het, wat heel duidelik nie gestremd was nie, het Jorrie hom gekonfronteer. “Ek het vir hom gesê om nie te kan lees nie, is nie ‘n gestremdheid nie! Dit is a disadvantage, maar dit is nie ‘n disability nie,” het Jorrie gesê.

Jorrie het verduidelik dat hy baie moeilik in en uit ‘n voertuig klim met sy kunsbeen. “Jy moet jou deur wyd genoeg kan oopmaak om die been uit te swaai om uit te klim. In ‘n gewone parkeerplek kan jy nie die deur groot genoeg oop kry nie,” het Jorrie gesê. Dieselfde geld as jy weer in jou voertuig wil inklim. “Dan kry jy die idioot wat so naby aan jou parkeer dat jy moet wag of iemand wat maer genoeg is vra om jou voertuig weer uit te trek wanneer jy wil ry,” het Jorrie gesê.

Jorrie het gesê mense moet onthou dat hierdie spesiale parkerings daar is om mense met gestremdhede te help,  asook mense met rolstoele en looprame. Hy is ‘n groot kampvegter vir die gebruik van plakkers op voertuie om mense met werklike fisiese gebrek te onderskei van die kansvatters.

“As jy na die leefstylsentrum in Tzaneen gaan, en ek gebruik hulle net as ‘n voorbeeld, sal jy beslis nie op ‘n parkering vir ‘n gestemde persoon stop as jy nie ‘n plakker vir gestremdheid op jou voertuig het nie. Ek was twee weke by die huis [ná hy sy kunsbeen gekry het], toe gaan ons Tzaneen toe. Hulle [die sekuriteit] wou nie eens hê ek moet voor die  parkering vir gestremdes  stop nie. Eers toe ek uitklim en vir hulle wys ek het ‘n kunsbeen, toe maak hulle vir my oop. Hulle het my ook aangeraai om liefs maar ‘n plakker te kry,” het Jorrie gesê.

Daar is egter ook “gestremdes” wat blykbaar die situasie uitbyt. “Wat vir my ironies is, is die mense in Louis Trichardt wat altyd parkeer in die spasie vir gestremde persone, alhoewel hulle nie gestremd is nie. Hulle het wel ‘n familielid wat gestremd is, maar dié gestremde persoon is nie altyd saam met hulle nie. Dieselfde mense kry jy in Polokwane waar hulle in gewone parkeerplekke parkeer, want daar word hulle gewaarsku dat hulle voertuig weggesleep of hulle wiele geklamp gaan word. Ek het ook al gesien dat hierdie mense by Checkers op die parkering vir gestremdes stop, en daarna na Game ry waar hulle in die gewone parkering onder ‘n boom stop omdat daar koelte is. Hoe werk dit?” wou Jorrie weet.

Jorrie noem nog ‘n voorbeeld waar hy ‘n bakkie gesien het met ‘n loopraam voor in die voertuig. Die bakkie het in die parkering vir gestremde persone gestaan. “Toe sien ek hoe die eienaar van die voertuig vanaf die vis-en-tjips winkel aangestap kom met sy boks slaptjips, sy bakkie oopsluit, die loopraam uithaal en agterop sit en dan wegry. Beslis was hy nie gestremd nie,” het Jorrie gesê.

Wat voorafgaande betref, is Jorrie se pleidooi eenvoudig: As jy nie gestremd is nie, moenie dit moeilik maak vir die ou wat wel gestremd is. Volgens Jorrie is genoeg sekuriteitspersoneel beskikbaar by winkelsentrums om, soos by Soutpansberg Spar, toe te sien dat mense sonder gebrek nie op die parkerings vir mense met gestremdheid parkeer nie. “Ek moet wel noem dat die dorp se banke baie tegemoetkomend is teenoor gestremde persone. By enige bank waar jy ‘n teller buite moet gebruik, het ek nog nie een keer langer as 10 minute gestaan nie. Normaalweg kom die sekuriteit en help jou vinnig as hulle sien jy is gestremd. Of hulle vat jou na die eerste beskikbare teller, of hulle sê vir jou om net bietjie te wag vir die volgende beskikbare teller,” het Jorrie gesê.

Laastens het Jorrie gebieg en gesê dat voor hy sy been verloor het, hy ook gedink het hierdie spesiale parkerings is vir “lui” mense. “Dit is nie so nie! Ek het die paadjie gestap en ek weet nou waaroor dit gaan. Dit is nie so maklik om gestremd te wees soos wat mense dink dit is nie. Dit is ook nie so maklik soos wat dit lyk dit is nie. Dit is ‘n groot aanpassing in jou lewe,” het Jorrie gesê.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos... 

Jorrie wil weet waarom winkels in Louis Trichardt nie ook so streng kan wees oor wie toegelaat word  om op die spesiale areas vir mense met gestremdhede te parkeer nie, soos by die leefstylsentrum in Tzaneen waar groot geel kegels die areas aandui. Geen persoon word toegelaat om op die areas te parkeer nie, mits sy of hy ‘n plakker op die voertuig het wat aandui dat hulle gestremd is. Oortreders se voertuig word weggesleep, of die wiele word geklamp. Foto verskaf.