ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oud-polisieman, topspeurder en nou skrywer in eie reg Henk Heslinga. Hier hou hy sy boeke Bloedgoud, Die Muishond en Bloedwolf was. Bloedwolf kan dalk eersdaags op die silwerskerm te sien wees, nadat die filmregte daarvan gekoop is. 

Van polisieman, bobaas speurder tot skrywer

Date: 19 July 2020 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het geen tekort aan interessante karakters nie en een van hulle is beslis Henk Heslinga. Dié skrywer spog met sy eie moord-en-roof speurreeks, asook ‘n boek wat dalk binnekort op die silwerskerm sal verskyn nadat die filmregte daarvoor gekoop is.

Die naam Henk Heslinga sal dalk vir baie, en veral dié wat voorheen in die polisiediens was, bekend klink. Die rede daarvoor is omdat Heslinga voorheen een van die land se toppolisiemanne was met ‘n loopbaan van bykans 35 jaar in die polisiediens. Sy indrukwekkende loopbaan het hom goed toegerus vir die onderwerpe waaroor hy vandag skryf.

Die nou 73-jarige Heslinga is in 1948 in Groningen in Nederland gebore en het op tweejarige ouderdom saam met sy ouers na Suid-Afrika immigreer. Hy het sy skoolloopbaan in Pretoria voltooi, waarna hy in Januarie 1965 by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit het.

Vir 26 maande het Heslinga grensdiens verrig in die destydse Rhodesië en Ovamboland, waarna hy sy speurdersloopbaan in 1970 in Potchefstroom begin het. Hy was onder andere verbonde aan die veediefstaleenheid en SANAB, die Rustenburg speurtak en is gesekondeer na Lebowa Polisie se speurdiens as opleidingsbeampte.

In 1981 is Heslinga bevorder na die rang van luitenant en het vir 18 maande as groepsbevelvoerder by Koevoet in Ovamboland gedien, waarna hy terug na Pretoria verplaas is. Vanaf 1986 tot 1992 was hy verbonde aan die Moord-en-Roof Eenheid in Soweto as tweede in bevel en vandaar, tot en met 1994, was hy aangestel as die bevelvoerder van die Pretoria Moord-en-Roof Eenheid. Vir vier jaar was hy die bevelvoerder van ‘n oorgrenseenheid wat in die SADC lande overte operasies uitgevoer het en het oor die tydperk 2 400 gesteelde voertuie teruggevind. Hy het in Desember 1999 uit die polisiediens getree as komponent hoof van die Eenheid vir Ernstige Geweldsmisdaad in hoofkantoor, met die rang van brigadier.

Van die meer prominente sake waarby Heslinga betrokke was, het ingesluit die moord op dr. Asvat, ‘n bekende aktivis en politieke leier in Moroka Soweto; die opspraakwekkende moord op dr. Johan Heyns; die Van Loggerenberg vrou wat haar man vermoor het; die geheimsinnige moord op die Du Plessis egpaar van Montana, en die Porsche moord in die ooste van Pretoria. Hy het ook die ministeriële taakspan gelei wat bewerings van drie moordsake teen Winnie Madikizela Mandela moes ondersoek, en verder was hy vir vier maand in Malawi betrokke by die moordondersoek teen dr. Hastings Banda, die destydse premier van Malawi.

Met hierdie skatkis van ondervinding as agtergrond het verskeie boeke die afgelope paar jaar uit Heslinga se pen gevloei. Bloedwolf, sy hoeder het in 2018 die lig gesien - die verhaal van speurder adjudant-offisier Klein Daan Steenkamp, wat getaak word om ‘n afgryslik wrede moord op die windverwaaide Wes-Transvaalse dorpie Swartruggens te ondersoek. Dan volg nog moorde elders in die land en vinnig kom Klein Daan Steenkamp agter dat al die moorde se modus operandi ooreenstem met die moordsaak wat hy in Swartruggens ondersoek het.

In 2019 het Heslinga se boek Die Muishond: Bloedspoor van Vergelding verskyn. Die verhaal speel af op Levubu, Louis Trichardt, en omstreke. Dit gaan oor die moordenaar Tshihoho, die Muishond. Hy is ‘n slu en gemene kalant, wat vreesloos en wreed die mense wat hom vir 12 jaar in die tronk laat beland het, wil opspoor en laat betaal.

Die Muishond was die eerste uitgawe in Heslinga se moord-en-roof reeks. Hy het dit opgevolg met Bloedgoud: Waar die dood geen grense het nie in 2020. Hier skryf hy oor die Zama-Zama bedryf waar mense onwettig in uitgediende mynskagte soek na minerale en metale. Die storie handel oor ‘n Zimbabwiese man wat sy werk kwyt is by ‘n myn en toe ingeskakel het by hierdie Zama-Zama bendes. Hier het hy later ‘n hoë posisie beklee, want hoe wreder jy is, hoe hoër op in die hiërargie beweeg jy.

Die Zoutpansberger het bietjie met Heslinga gaan gesels oor waar sy liefde vir skryf vandaan kom.

“Jy weet, ek is letterkundig ongeletterd, as ek dit so mag uitdruk. My ma het my ‘n liefde vir lees geleer. Nadat ek afgetree het, toe sê iets hier binne my: ‘Kom ons skryf ‘n storie’. Dit was ‘n baie, baie harde pad. Ek het my self bekwaam deur skryfskole by die Universiteit van Potchefstroom en kursusse by te woon. So het ek geskryf en my manuskripte gestuur vir menings,” het Heslinga gesê.

Van sy manuskripte moes hy geweldig aanpas. Die uitgewer het absoluut niks van die wreedheid van die boek Bloedwolf gehou nie en Heslinga moes basies die boek oorskryf. “Ek het dit toe so geskryf dat die leser nou moet wonder wat gaan gebeur. Miskien ‘n hoofstuk verder, dan kom daar hetsy ‘n boemelaar of iemand anders op hierdie liggaam af en sy observasies word dan gegee. Daarna het die mense van die boek gehou, soveel so dat hulle die boek nou wil laat verfilm,” het Heslinga gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Heslinga vertel hoe hy uit die bloute ‘n oproep van Gavine Esterhuizen, ‘n filmvervaardiger, gekry het. “Hy wou weet of ek sou belangstel om die filmregte vir Bloedwolf aan hom te verkoop. Hy het ‘n manuskrip van die boek by sy vrou gekry, want ek het dit vir haar gestuur vir ‘n mening. Hy het die boek gelees en gesê hy hou vreeslik van die storie omdat dit eg Afrikaans is. Volgens hom is die publiek en die kykers moeg vir hierdie Amerikaanse en Engelse speurverhale,” het Heslinga gesê.

Volgens Heslinga is dit waaroor hy skryf gebaseer op eie ervaring. “Negentig persent van alles waaroor ek in my boeke skryf, gaan oor ondervinding wat ek self opgedoen het ... Ek skryf oor onderwerpe waarvan ek weet uit persoonlike ondervinding. Ek kan nie oor iets skryf waarby ek nie betrokke was nie … wat Bloedgoud betref, moes ek baie navors en oplees oor die mynwese,” het Heslinga gesê.

Heslinga het vertel dat ‘n kollega van hom betrokke is by die eenheid wat Zama-Zama moorde moet ondersoek. “Hy het my meer vertel oor hoe hulle te werk gaan. Ek het baie oor hulle opgelees en veral gekyk hoe lyk dit onder in so ‘n myn en onder watter omstandighede die mense werk. Hoe die storie in my moord-en-roof reeks inkom, is hoe hulle moorde gepleeg het op mense wat hulle bedreig het en wat hulle sindikate van hulle wil wegneem. Hulle skiet doodeenvoudig die mense dood, of skop hulle in ‘n mynskag af,” het Heslinga gesê.

In die boek Die Muishond het Henk die trauma probeer weergee waardeur slagoffers, veral vroue, gaan tydens ‘n aanval. Hy het vertel hoe ‘n ontsettende indruk die detail waarmee vrouens ‘n aanval onthou het altyd op hom gemaak het. “Die stank, reuk en die aggressie van hoe hulle aangerand is en die vertwyfeling daarna oor waarom die Here dit toegelaat het ... Dit sal my altyd bybly,” het Heslinga gesê. Hy het ook in die boek probeer om die haat en minagting van die aanvaller(s) te probeer weergee, asook die emosies waardeur die ondersoekbeamptes gaan wat op hierdie tonele van verminkte lyke afkom. “So, Die Muishond het so ‘n bietjie dieper storie as Bloedgoud,” het Heslinga gesê.

Heslinga geniet deesdae die rustigheid van die bekende Môreson blokaandeel naby Tshipise waar hy en sy vrou Hanlie woon. Dit is heel anders as waaraan hy gewoon was tydens sy besige polisieloopbaan. “Ek voel net die liewe Here het my in ‘n tydvak laat lewe wat baie romanties is in my oë. In ‘n baie romantiese tyd het ek by die polisie aangesluit en grootgeword. Ek was ‘n speurder-sersant en die mense het jou gerespekteer vir daardie rang. Vandag lag hulle vir jou ... so, die liewe Heer het nou vir my die gawe gegee dat ek dit [sy verhale] in ‘n storie kan vertel,” het Heslinga gesê. Vrou Hanlie is ook ‘n oud-polisielid. Sy het in 2018 met die rang van luitenant-kolonel uit die polisiediens op Musina getree.

Buiten vir Bloedwolf, Die Muishond en Bloedgoud, het Heslinga ook voorheen twee ander boeke geskryf, naamlik Chimurenga – Die Geveg en Omnibus. Chimurenga handel oor die vergete Rhodesiese bosoorlog en die lief en leed van die spesiale magte daar. “Dit is ‘n taamlik getroue weergawe van wat daardie jare in Rhodesië plaasgevind het,” het Heslinga gesê. Omnibus bestaan uit verhale van vervloë misdade waar Heslinga soms “bietjie bygelieg” het. “Ek skryf ook voor in die boek dat dit fiksie is, gebaseer op nie-fiksie,” het Henk met ‘n glimlag gesê.

“Al die buiteblaaie het ek self ontwerp, nagevors en bekom. Ek wil hê my boek se voorblad moet die storie vertel,” het Heslinga gesê. Hy is veral trots op sy moord-en-roof reeks. “Hoekom ek baie sterk voel oor my moord-en-roof reeks is dat die slim mense in die letterkunde sê dit is baie moeilik om ‘n reeks te skryf. Min mense kry dit reg, maar vir my was dit baie maklik, want die helfte van jou karakters bly dieselfde. Jy moet net onthou wat hulle gedoen het,” het Heslinga gesê.

Al Heslinga se boeke is beskikbaar vanaf Groep 7 Drukkers en kan bestel word vanaf die webblad https://groep7.co.za/henk-heslinga/.

 

 

 
 
 

Viewed: 1114

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT