Meegaande grafiek wys duidelik wat die aantal respiratoriese virusse is waarvoor positief getoets is in Mei 2020 en vergelyk word met 2019 en 2018 se statistieke. Grafiek: Lancet Laboratoriums.

Suig die verkoue- en griepvirus vanjaar aan die agterspeen?

Date: 10 July 2020 By: Pétria de Vaal

Viewed: 773

Wintertyd is sinoniem met griep en verkoues, maar is daar vanweë al die handewas, maskers dra en sosiale afstand minder gevalle hiervan in omloop vanjaar? Uit gesprekke met plaaslike medici wil dit voorkom asof die gewone verkoue- en griepvirus vanjaar wel aan die spreekwoordelike agterspeen suig te midde van die Covid-19 pandemie.

“Altesaam sewe coronavirusse veroorsaak siektes in mense,” aldus Dr. Casper Venter van die Prognos Mediese Sentrum. Volgens die webblad https://www.cdc.gov/coronavirus/types.html is die heel eerste van hierdie virusse in die mid-1960’s geïdentifiseer. Die sewe is 229E (alfacoronavirus), NL63 (alfacoronavirus), OC43 (betacoronavirus), HKU1 (betacoronavirus), MERS-CoV (die betacoronavirus wat Middle East Respiratory Syndrome of MERS veroorsaak), SARS-CoV (die betacoronavirus wat Severe Acute Respiratory Syndrome of SARS veroorsaak) en natuurlik die SARS-CoV-2 (die nuwe coronavirus wat Coronavirussiekte 2019, of Covid-19, veroorsaak.) Die eerste vier is diegene wat wêreldwyd algemeen voorkom en meestal verkoues veroorsaak. Die laaste drie is die ernstiger siektes.

“Respiratoriese virusse versprei via druppels wat vorm wanneer ons asemhaal, sing, hoes, nies, of praat. Die maatreëls wat tans in plek is, byvoorbeeld die dra van maskers, sosiale afstand, deur nie te reis nie, kleuterskole wat toe is, ensovoorts, het definitief ‘n invloed op die verspreiding van ‘gewone’ verkouevirusse,” sê Venter. Gedurende die streng inperkingstyd was die spreekkamer stil, maar dit word nou al hoe besiger. Die Covid-19 gevalle in die dorp word ook daagliks meer. Venter en sy kollegas het wel al mense vir byvoorbeeld verkoues, brongitis en selfs Covid-19 behandel, maar griep (influensa) begin nou eers.

Venter sê verder dat mense in die algemeen al effe moeg is vir die inperking. Hulle ly aan sogenaamde “virusuitputting”. Dit veroorsaak dat almal nou wil kuier en braai. Hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om juis nou, in hierdie tyd, alle maatreëls op te skerp. Mense moet ‘n gesindheid hê van “omgee vir ander”. Té veel lede van die publiek maak dinge nou moeilik vir diegene wat wél die regte ding doen. Voorts wil hy mense waarsku teen die baie fopnuus wat wêreldwyd versprei word. “Daar is egter geen rede tot paniek nie,” verseker Venter.

Die Coronavirusse is egter nie al wat verkoues veroorsaak nie.  ‘n Hele klompie ander doen dit ook, aldus https://www.healthline.com/health/common-cold-causes. Hulle sluit in menslike rinovirusse, para-influensavirusse en adenovirusse.

Dr. Emil Gaigher verwys na statistieke wat deur dr. L. Maree van Lancet Laboratoriums opgestel is. Meegaande grafiek wys duidelik wat die aantal respiratoriese virusse is waarvoor positief getoets is in Mei 2020 en vergelyk word met 2019 en 2018 se statistieke. “Dit sluit griep- en verkouevirusse, asook ander, in. Dit is duidelik op hierdie grafiek dat daar ‘n treffende verskil is met 2020 se pandemie-maatreëls in plek,” sê Gaigher. “Dit is ‘n bewys dat maskers, handewas, ensovoorts, ‘n groot verskil gemaak het aan die patroon van gewone griep en verkoue in Suid-Afrika. Dit word ook duidelik so ervaar in ons en ander dokters se praktyk-ervaring,” sê hy. Dr. Fred Badenhorst van dieselfde praktyk stem heelhartig saam. “Die feit dat daar nou protokolle in plek is, dat daar min kinders in skole is, veroorsaak tans min gevalle van verkoues en griep. Die winter het egter nou eers begin!” sê Badenhorst.

“Ons sien definitief minder gewone verkoues en griep. Ek dink dis basies te danke aan drie dinge: die maskers, skoon hande en die afstand tussen mense. Die feit dat die jong kinders nie in skole en kleuterskole kieme uitruil nie, het ook ‘n groot uitwerking. Ek dink ook meer mense as gewoonlik het voorsorg getref teen griep deur griepinspuitings te kry,” sê dr. Anneke Malan, ook van Prognos.

Landswyd word daagliks tussen 30 000 en 40 000 toetse uitgevoer. Plaaslike dokterspreekkamers, gesondheidswerkers en hospitale is ingerig – so goed as wat hulle kan. Indien ‘n persoon vermoed dat hy of sy Covid-19 onder lede het, moet hulle beslis eers ‘n professionele persoon soos ‘n geneesheer of gesondheidswerker sien.  Eers dan word so ‘n pasiënt moontlik verwys na ‘n laboratorium vir toetse. Tans kry sekere pasiënte voorkeur vir toetsing – afhangend van die omstandighede.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

 
 

More photos...