Die Zoutpansberger het vir 'n paar van ons lesers gaan vra of hulle dink die grendeltyd dien nog enige doel.

Dien grendeltyd nog ‘n doel?

Date: 17 May 2020 By: Pétria de Vaal

Viewed: 987

Word grootmense soos kinders hanteer? Dien die grendeltydperk enige verdere doel? Of is dit ‘n goeie ding om tuis te bly? Die Zoutpansberger het ‘n paar van sy lesers hieroor gepols.

“Ek het verstaan dat die eerste drie weke van inperking bedoel was om hospitale en mediese toerusting gereed te kry. Hoekom dan nog langer ingeperk wees en niemand weet tot wanneer nie?” Só vra Inalize Burger. Die inperking hou steeds nie mense tuis nie – die dorp het besig gebly. Volgens haar is dit maar soos ‘n griep, as jy dit moet kry, sal jy dit kry. Sy is van mening dat die inperking moet eindig – almal moet weer aangaan met hulle lewens. “Mense het lankal genoeg hiervan gehad.” Inalize sê dat die inperkingstyd ‘n mors van tyd en “geld” is. “Daar is baie wat geen inkomste het nie, en as daar nie gewerk mag word nie, kan dit maande of jare neem om weer op die voete te kom. Die gebrek aan inkomste, asook die onsekerheid, DIT is wat spanning veroorsaak en ‘n mens siek maak,” sê Inalize.

Dirk Meissenheimer sê dat die inperking maar gestaak kan word. Mense kom en gaan nes hul wil, sê hy, en voeg by dat die swartmark nou baie besigheid doen en geregistreerdes ly verliese en staan ‘n kans om toe te maak. “Maak maar al die besighede oop met die nodige voorsorgmaatreëls,” sê Dirk. Volgens hom plaas die uitwerking van die bykans sewe weke se grendeltydperk onnodig ekonomiese druk op die land en staar burgers meer werkloosheid in die gesig. Hoewel hy dink dat mense nou genoeg gehad het, is sy raad: “Moenie onnodig in die dorp rondloop nie, handel dinge vinnig af en gaan huis toe”. Hy sou graag wou sien dat kerke weer oopgestel word.

Volgens Kimmy Harris het die inperking reg van die begin af nie sin gemaak nie. Die skade wat aan die land en sy mense berokken is, is veel erger as die verliese wat deur Covid-19 teweeggebring word. Met ‘n projeksie van -6,4% in ekonomiese groei en ‘n beraamde verlies van 3 tot 7 miljoen poste, het dit die reeds wankelende ekonomie verder benadeel. Sy sal graag wil sien dat inperkingregulasies verslap word, dat mense toegelaat word om terug te gaan werk toe en dat skole heropen. “Baie besighede sal liewer wil heropen en voortgaan met werk. Slegs diegene met bestaande mediese kondisies, asook ouer mense, moet ingeperk bly,” sê Kimmy.

Pieter en Annelle Pieterse is van mening dat daar beslis verdere sin aan die grendeltydperk vir mense bo 60 en diegene met onderliggende risikofaktore is. Die grendeltydperk verseker enersyds mense in die risikogroepe se lewens, maar dit weerhou jonger mense daarvan om 'n inkomste te verdien. Volgens Pieter en Annelle is die huidige maatreëls nie volhoubaar nie en ‘n groot probleem in die land is dat baie bejaarde mense saam met jonger mense in dieselfde huise leef - tot 'n baie groter mate as wat die geval in ontwikkelde lande is. “Die opheffing van die grendeltyd in ons land sal 'n meer spesifieke benadering vereis. 'n Voorstel is dat werkgewers  byvoorbeeld kan help met alternatiewe behuising of addisionele verlof vir mense wat deel is van sulke huishoudings. Die lang inperking laat ‘n mens besef dat daar vroeër ‘buite die boks’ gedink moes gewees het aan maniere om jonger mense terug te kry by die werk.  Mense wat reeds hulle werk verloor het of besig is om hulle werk te verloor, het beslis genoeg gehad!” sê die egpaar.

Dr. Philip Venter voel van die begin af dat daar 'n verskuilde agenda oor die virus en die reaksie daarop is. “Ek dink die inperking dien absoluut geen doel om die verspreiding te keer nie, daar is hopeloos te veel skuiwergate. Die grendeltyd moet opgeskort word en dit wat oor is van die ekonomie so gou as moontlik heropgebou word. Ons gaan meer mense verloor aan armoede en honger (tot 29 keer meer) as aan die virus,” sê Philip.

Schalk Corbett se opinie is dat daar geen verdere doel aan die grendeltydperk is nie. Die doel van die 21 dae plus twee weke grendeltyd was om die nodige voorbereidings te tref, wat nou afgehandel moes wees. Ware hoë-risiko areas soos bejaardes en skole moet geïdentifiseer word en die nodige maatreëls daar gehandhaaf word. Besighede, munisipaliteite en staatsdepartemente moet toegelaat word om te werk met die nodige voorsorgmaatreëls. “Dit help nie almal word nou gedwing om al hulle reserwes op te gebruik en eers as die pandemie ons gebied tref dit dan te trotseer sonder enige reserwes nie. As die syfers reg is, het Vhembe nog net ses gevalle gehad en al ses is weer gesond,” het Schalk gesê.

Peter Mundel is dit eens dat die ekonomie en besighede dit eenvoudig nie sal oorleef nie. Dit is uiters noodsaaklik om die verspreiding van COVID-19 teë te werk, maar nie ten koste van die ekonomie en die bevolking nie. “COVID-19 is niemand se maat nie en ek dink dit is die gevaarlikste verskynsel sedert die atoombom. Dit het nét soveel verwoestingskrag. Sosiale dissiplinering is van kardinale belang. As ons die ‘oop’ ekonomie’ nie binnegaan met al die reëls en wette van die grendeltydperk nie, gaan daar baie sterftes wees. Hierdie is 'n ‘catch-22’ situasie: as jy tuis bly, sterf die ekonomie. Gaan werk jy sonder dissipline, dan sterf baie mense,” sê Mundel.

“Een of ander tyd gaan ons uit ons wegkruipplekke moet uitkom. Die virus gaan nie verdwyn of wegvlieg nie. Die pandemie word net uitgestel,” sê Rina de Swardt. Haar raad is dat elkeen maar net vir sy eie gesondheid moet sorg (dra jou masker en bly weg van samedrommings).  Moenie onnodig blootgestel word nie. Rina sê ook dat die ekonomie nie langer die grendeltydperk kan bekostig nie en dat daar al klaar te veel skade aangerig is. Sy meen dit is prysenswaardig dat mense oor die land aan die behoeftiges uitdeel, maar dis nie volhoubaar nie. Rina voel die werksmag moet weer aan die gang kom  en opbou wat afgebreek is. Terwyl daar nie ‘n teenmiddel is nie, het COVID-19 het gekom om te bly. Mense gaan sterf as gevolg van die virus én van honger. “Ons gaan die skade hiervan vir jare  voel,” sê Rina.

Baie lesers mag met Stephen en Lana Hoffmann saamstem. Hulle sê dat daar sin is aan die grendeltydperk, maar dit moet meer oordeelkundig toegepas word. Volgens hulle weet almal presies waar die episentrums van die besmetting is en in daardie areas moet inperkingsmaatreëls toegepas word ooreenkomstig die graad van besmetting. Hulle voel dit is sinneloos om voort te gaan om aktiwiteite in te perk en die ekonomie aan bande te lê in areas waar geen aanmeldings nog gedoen is nie.

Stephen en Lana voel stelselmatige bewegingsvryheid kan in lae-risiko gebiede toegelaat word en meen die outoritêre beheer wat tans op lewenskeuses uitgeoefen word, grens aan despotisme soos net die ou kommunistiese state dit geken het. Hulle sê die verbod op verkope van drank en tabakprodukte is die idee van enkele individue wat nou op ‘n hele nasie afgedwing word.

Volgens Stephen en Lana gaan meer gevalle van Covid-19 aangemeld word met die opheffing van beperkings, maar die lewe moet voortgaan. “Die natuur het ons met immuunstelsels toegerus wat hierdie aanslae kan verwerk en ons kan beskerm. Die virus kan nie weggewens word nie. Ons kan ook nie onbepaald daarvoor wegkruip nie. Ons gaan meer mense verloor aan sekondêre gevolge as wat die virus ooit sal eis bv. werkloosheid, armoede, hongersnood, bankrotskappe, sielkundige probleme, gesinsgeweld en selfmoord,” sê die egpaar.

 
 

 
 
 
 
 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

 
 

More photos...