ADVERTISEMENT:

 

 
 

Twee van die boere waarmee die Zoutpansberger gesels het, Fanus en Gertien Viviers. Foto verskaf.

Boere praat oor impak van die grendeltyd

Date: 08 May 2020 By: Pétria de Vaal

Die grendeltyd en die impak wat dit op industrieë het, is op almal se lippe en die Soutpansberg se boere het die implikasies nie vrygespring nie. Die Zoutpansberger het met ‘n paar van hulle gaan praat.

Volgens die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, Fanie Havinga, is die tipe produkte wat in die omgewing verbou word, nog relatief “veilig” teenoor ander areas wat baie skade gely het, soos byvoorbeeld saaigewasse.

Koejawelboere was gelukkig in dié sin dat die fabrieke wel kon werk, want arbeid was beskikbaar. Met avokado’s was dit effe anders as gevolg van die onsekerheid. Boere het hulle produkte teruggehou. Latere verskaffing aan markte het dit toe laat saamval met oorsese markte. Met dié dat die rand egter verswak het, wen boere weer.

Volgens Fanie word ‘n redelik normale boerdery-seisoen voorspel. “Boere wat wél swaarkry, is diegene wat kontantgewasse aanplant en dit in landerye moes terugploeg, omdat daar nie ‘n koopkrag is nie,” het Fanie gesê.

Hy het bygevoeg dat wat baie boere egter redelik moedeloos gemaak het, was die implementering van regulasies. Reisdokumente het ‘n tyd lank geneem om in orde te kry. Arbeiders was ook aanvanklik onseker. Fanie het genoem dat daar meestal na klein boere omgesien word, maar kommersiële boere word nooit bedank nie. Hulle is diegene wat die grootste risiko loop. Die goeie nuus is dat die SDLU besig is om ‘n plan saam te stel wat boere gaan help om anderkant uit te kom.

Fritz Ahrens is dankbaar dat die werkloosheidsversekering wat hy kon eis reeds binne 48 uur uitbetaal is. Hulle is reeds sedert 16 April weer aan die werk, met die nodige voorsorgmaatreëls in plek.  Dit sluit in higiëne, wasbare maskers, ensovoorts.

Markte was wel deurentyd oop, maar daar was aanvanklik nie kopers nie. ‘n Produk soos avokado’s is ook afhanklik van restourante as kopers – wat ‘n invloed het op verkope. Avokadoboere het verliese gely en avokado’s moes in seker gevalle vernietig word.

Fritz is dankbaar dat die rand nou swakker is en dat die brandstofprys ook laer is – tot voordeel van die boere. “Duitsland het hulle party-politieke aksies opsygeskuif in hierdie tyd en fokus nou op solidariteit – ‘n jammerte dat dit nie hier moontlik is nie,” het Fritz gesê.

Fanus en Gertien Viviers boer albei. Fanus in die Levubu-area en Gertien saam met haar pa, Doors le Roux, op die plaas Welgevonden. Vir albei is die grendeltyd ‘n aanpassing, maar tog moontlik. Vervoerreëlings van arbeiders het verander en streng higiëne is geïmplementeer. ‘n Groot frustrasie is as toerusting breek en parte nie beskikbaar is nie. Hulle is ook bekommerd oor die feit dat die plaaswag nie aktief is nie. “’n Honger mens is ‘n gevaarlike mens,” het Fanus gesê.

Vragmotors met vars produkte moet nou ook vroeër ry om deur padblokkades te kom, wat veroorsaak dat pluktyd nou minder is. Die mark was aanvanklik baie stil, maar dit gaan nou beter. Koejawels is aan die sapfabriek gelewer, wat wel operasioneel was, maar die prys verskil van die vars produk. Met neute is dinge effe makliker, omdat dit langer geberg kan word. Volgens Fanus en Gertien sal die ekonomie grootliks in die toekoms bepaal of neute as “luukse” steeds in aanvraag sal wees. Albei bly egter positief.

Phillip Potgieter van Potgieter Boerdery het met slegs ‘n derde van hulle arbeidsmag voortgegaan gedurende die eerste vier weke van inperking. Avokado-uitvoere het normaalweg voortgegaan, alhoewel logistieke reëlings, veral op hawens waar hulle van ‘n 24- na ‘n 12-ure werkskof afgeskaal het, ‘n uitdaging was. Die volle werksmag van 250 arbeiders was na vier weke terug op die plaas vir makadamiaverwerking en avokadoverpakking.

‘n Interessante feit is dat makadamia-kern normaalweg hoofsaaklik na Europa en die VSA uitgevoer word en die mark daar nog stillerig is as gevolg van die uitdagings met die Covid-19 virus. Dit behoort nie verkope daar te beïnvloed nie, meen Phillip. Baie kern is reeds vooruit aan groot kopers verkoop. Die grendeltyd in daardie lande het egter steeds ‘n impak op die aanvraag. China ontvang reeds die neut in die dop, wat die uitvoer van makadamias vanaf Suid-Afrika ‘n goeie hupstoot gee.

Die mark vir veral supergraad beesvleis is ook baie swakker – dus word beesboere hierdeur geraak. Hopelik sal die mark ook ‘n hupstoot kry met restourante wat weer wegneemetes kan verskaf.

Bertus Otto van Secrabje Verpakking tussen Waterpoort en Vivo noem dat die formele mark ‘n 30-35% afname in aanvraag van veral babagroente en soortgelyke produkte soos suikermielies ervaar het. Die aanvraag na “waarde-produkte” soos aartappels en uie is hoër. Hulle boer self met groenboontjies, murgpampoentjies, tamaties en soetrissies. Die verwerkingsgedeelte van produkte is ook geaffekteer, omdat hulle normaalweg aan hotelle verskaf, wat steeds gesluit is.

Slegte nuus is dat saadmaatskappye ‘n verhoging van tot 35% op saadpryse gaan plaas. Bertus voorspel dat die landboujaar ‘n moeilike een gaan wees. Baie boere wat normaalweg van lugvrag vir uitvoere gebruik maak, sien nie tans kans vir die groot kosteverhogings nie. Waar normaalweg ongeveer $2.25 per kg betaal is, moet ‘n boer nou sowat $3.75 per kg opdok. Die knellende tydperk maak dat boere nou eers hulle finansies terughou wat vir verdere ontwikkelings aangewend moes word.

Kobus Janse van Rensburg, algemene bestuurder van Royal Macadamia, noem dat “die totale impak van Covid-19 steeds duister is en ons weet ook dat verskeie nuwe geleenthede geskep sal word.  Wat wel bekend is, is dat gesondheidsmaatreëls met ons sal wees in die nabye toekoms en dat ons almal persoonlike aanpassings in ons optrede sal  moet maak.”

Die verwerking van neute by hierdie fasiliteit is in ‘n ligte mate geaffekteer, meestal deur diensverskaffers wat steun lewer.

Volgens Kobus is die Europese lande stadig maar seker besig om maatreëls te verslap, wat na alle verwagting meer deure laat open en die aanvraag meer stimuleer. Vervoer van die produk na die hawens is tans nie ‘n groot probleem nie. Die stand van hawens is, na wat verneem word, goed, met geen opeenhoping van vragte nie. Die afgradering na Vlak 4 het verligting gebring op die hawens se administratiewe funksies. Bestemmings soos Europa en China het bykans geen wesenlike probleme nie. “Volgens ons bron gaan uitvoere steeds voort na die VSA en daar behoort nie ‘n negatiewe effek te wees nie,” het Kobus gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1033

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT