ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Paar van ons lesers het hierdie week vertel wat hulle die meeste mis tydens die grendeltydperk. Foto's verskaf. 

Wat mis ons lesers die meeste tydens grendeltyd?

Date: 25 April 2020 By: Pétria de Vaal

Wat mis mense die meeste gedurende die grendelperiode? Die Zoutpansberger het bietjie gaan uitvind by ‘n paar inwoners van Louis Trichardt.

Annaline Smit, senior Afrikaans en Verbruikerstudies onderwyseres by CVO Zoutpansberg, sê: “Die  inperking het definitief baie uitdagings, maar die grootste een vir my is om nie elke dag my leerlinge te sien nie. Alhoewel ons voluit met aanlynlesse aan die gang is, mis ek die direkte interaksie met die senior leerlinge, asook al die spontane drukkies van die kleiner kindertjies in die junior grade. Ons is ‘n laer-en hoërskool op een perseel en die hele skool is soos een groot familie. Ek mis ook my kollegas verskriklik, want ons is ‘n hegte personeel. Daar is niks so lekker soos om mekaar elke dag te sien nie.”

Ansie Bothma is ‘n ou bekende in die dorp wat voorheen by Pitstop drankwinkel gewerk het en tans werksaam is by die Hanglip biltongwinkel in Makhado Crossing. Vandat die deure gesluit is, hou sy haarself besig met haar plante en skoonmaak van haar woonstel. Sy mis dit egter om by die winkel te werk en tussen mense te wees. “Die alleenheid in die woonstel begin my nou vang,” sê sy. Sy kan nie wag om weer te kan kerk toe te gaan nie en om haar kinders en kleinkinders weer te kan sien nie.

Vir die Swanepoel-gesin is die grendeltyd ‘n uitdaging om verskillende redes: Pa Hein mis dit om saam met pêlle gholf te speel en te braai. Vir Heidi (17 jaar) en Anje (14 jaar) is hulle vriende baie belangrik en mis hulle hulle vreeslik. Albert (13 jaar) mis dit om balle by die gholfbaan se oefenbof te slaan. Ma Jeanne kan nie uitgepraat raak oor hoeveel sy dit mis om in die omgewing rond te ry nie.  “Ons is rondkerjakkers”. As gesin doen hulle dikwels sulke dinge, en nou is dit taboe. Dit is vir hulle sleg dat hulle nie by Hanglip bosbougebied kan uitkom nie, nie by Entabeni kan gaan piekniek hou nie, geen ander uitstappies kan onderneem nie. Besoeke aan die Sitrusspens, aan die Albasinidam, ‘n rit om die berg en die ontdekking van nuwe paadjies is nou ‘n groot gemis vir die gesin. Jeanne wil self net “uit” berg toe – sy het ‘n uitsig nodig om weer na die groter prentjie te kan kyk, om alles net weer in perspektief te kan sien. Sy noem dat die ingeperktheid veroorsaak dat dit voel of ‘n mens se wêreld klein geword het. Selfs met die toegang tot nuus, internet en video’s wat ‘n mens op hoogte hou met wêreldgebeure, is dit vir haar nodig om op ‘n berg te staan en net te sien dat alles “OK” is – om rustigheid te bring.

‘n Jong getroude paartjie van ons omgewing, Peres en Ninah Prinsloo, mis die vriendelikheid van mense en die familietyd wat verlore gaan. Mense besef nie hoe belangrik die klein dinge in die lewe is nie, totdat jy nie vinnig in jou kar mag klim en gou na ouma toe mag gaan, of gou ‘n drukkie by jou medemens wil gaan kry wat die dag sommer beter maak nie. Hulle voel dat daar op die positiewe in plaas van op die negatiewe gefokus moet word. As die tydperk verby is,  gaan hulle beslis ‘n groot familiebraai hou!

Vir Marina Venter, onderwyseres by Ridgeway Independent, is die grootste gemis haar leerlinge, hulle glimlaggies en drukkies, soggens se gehardloop na haar motor wanneer sy by die skool aankom. Sy mis haar koor se engelstemme, leerders se briefies en prentjies, asook die interaksie met kollegas. Die gewone daaglikse roetine van “opstaan en werk toe gaan” verskaf aan ‘n mens ‘n doel in die lewe – ‘n groot gemis. Selfs al is hulle bedrywig met aanlyn-klasse, is dit tog nie dieselfde nie. Sy ervaar ‘n leemte ten opsigte van ‘n persoonlike aanslag met die kinders.

Die inwoners van Ons Tuiste is besonder bedrywig in hierdie tyd! Oom Bobby Eyssell en sy vrou Johanna vertel gretig dat dit wel baie sleg is dat hulle geen kuiermense mag ontvang nie, maar dat daar baie gedoen word om almal by aktiwiteite te betrek. Hiervoor wil hulle graag vir Kittie de Bruin en haar personeel bedank wat baie ekstra moeite doen. Spesiale kuier-middae binne die ouetehuis word georganiseer. Voorlesings deur tannie Johanna, asook Sonja Scheepers, is deel van die program. Kerke doen baie moeite met dienste en YouTube-boodskappe. Boere wat vars produkte aflewer word baie waardeer. Inwoners is ook baie dankbaar teenoor Spar wat elke Woensdag hulle inkopielysies ontvang en op Donderdae kruideniersware aflewer.

Hoewel oom Bobby en tannie Johanna hulleself besig hou met agterstallige leeswerk (oom Bobby is besig met “Unlocking the Bible” – ‘n boek met meer as 2 000 bladsye) en ander stokperdjies soos kralewerk, mis hulle hulle kinders wat in die dorp bly wat normaalweg gereeld kon kom kuier. Oom Bobby gebruik die baie mooi uitdrukking “gesig-geselskap” (byvoorbeeld video-oproepe) wat vergoed vir kuiers – ook met diegene wat ver woon.

‘n Hele aantal mense wou anoniem bly en het opmerkings gemaak soos “ek mis my huishulp”; “ek mis dit om verder as die winkel te mag ry”; “ek mis dit om te gaan stap”; en “ek mis dit om te mag fietsry/sport te beoefen”. Een persoon het tong in die kies gesê dat as die inperking eers verby is, hy dan sy daaglikse knoffelhappie gaan mis!

 

 
 
 

Viewed: 1123

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT