Francoise op sy gelukkigste – saam met sy hondekinders op die plaas. Foto verskaf.

Francoise se dood laat groot leemte in baie se lewens

Date: 12 March 2020 By: Andries van Zyl

Viewed: 2464

Nog ‘n groot hartseer het inwoners van die Soutpansberg die afgelope week oorval met die nuus van die dood van die 46-jarige Francoise Jordaan. Francoise was een van daardie “larger than life” persoonlikhede in die gemeenskap, iemand met ‘n groot hart maar ook iemand wat nie geskroom het om sy sê te sê nie.

“As jy hom nie geken het nie, sou jy moontlik nie van hom gehou het nie. Vrydag het ons ‘n aparte diens vir hom gehad by die menasie waar hy gewerk het op Lugmagbasis Makhado. Gister het die basis vir hom ‘n diens gehou. Op elke diens het almal wat met ons gepraat het vir ons gesê jy moes hom geken het om van hom te hou,” het suster Fransie Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Vlugsersant Francoise het verlede Maandag, 2 Maart, by sy werk op die basis begin siek voel en is in die siekeboeg vir spanning behandel. Teen die volgende oggend (3 Maart) was hy steeds ongesteld en is hy opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar hy met ‘n bloedklont in die long gediagnoseer is. Ten spyte van behandeling en aanvanklike tekens van ‘n vinnige herstel, is Francoise omstreeks 12:30 verlede Woensdag oorlede vanweë ‘n bloedklont deur die hart. “Die dokter het gesê dit was massief. Geen masjiene, niks, sou hom kon red nie,” het Fransie gesê. Volgens haar het nuus van sy dood vir hulle as ‘n groot skok gekom. “Hy het my nog die oggend gebel en vir my gesê, ‘Sussa, jy moet vir my kussings bring, my charger en ‘n bedlampie’. Toe vat ons vir hom alles en ek sê vir Bart [Fransie se vriend] hy is beter, want hy baklei weer,” onthou Fransie met ‘n glimlag.

Francoise was ‘n boorling van die Soutpansberg en het beide sy laer- en hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi. Ná skool het hy aangesluit by die Suid-Afrikaanse Lugmag en was ‘n bekende gesig by Lugmagbasis Makhado, waar hy in die rang van vlugsersant die menasie se aankope hanteer het.  

Baie lesers sal Francoise onthou vir die openhartigheid waarmee hy gepraat het oor sy stryd teen depressie in ‘n artikel in die Zoutpansberger van 24 Januarie vanjaar onder die opskrif “We cannot afford another tragedy in our community”. Dit het gevolg ná ‘n reeks selfmoorde in die gemeenskap, meeste van wie almal vriende van hom was. In die artikel het hy gepoog om inwoners meer attent te maak op wat presies depressie is. Hyself het ook met gedagtes van selfmoord geworstel. Dit was sy ideaal om ‘n verskil te maak en te verhoed dat nog iemand selfmoord pleeg.  Hy het hom beywer vir die vorming van ‘n ondersteuningsgroep wat oor alle kleur-, geloofs- en kerkgrense mense met depressie kon help. “Dit is vir ons onder omstandighede ‘n troos dat hy so dood is, nie op ‘n ander manier nie. Dit wys mens weer: Die mens wik, maar God beskik,” het Fransie gesê.

In lewe was Francoise ‘n baie privaat mens, maar dit het hom nie gestop om vir ander om te gee nie. “Kosmaak en sy vriende was sy alles gewees. Hy was lief uit te haal en baie te bederf. Hy het ‘n verskriklike groot hart gehad wat vir almal gegee het, sonder om ooit erkenning te vra. Hy het meer omgegee vir sy medemens as homself, want hy het altyd ander mense bo homself gestel. Maar vir my sal hy altyd my kleinboetie bly,” het Fransie gesê.

‘n Diens om Francoise se lewe te vier vind Donderdag, 12 Maart, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Jan Pretorius. Wyle Francoise word oorleef deur broers Akker, David en Pieter, susters Fransie en Adri en skoonfamilie. Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal vir hul woorde van vertroosting en bystand ná afloop van Francoise se dood. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gehad aan almal wat ‘n positiewe invloed op Francoise se lewe gehad het.

“Dit was ‘n groot skok, maar ons het daarmee vrede gemaak. Ons onthou net die goeie en lekker tye,” het Fransie gesê.

Ter afsluiting gaan die Zoutpansberger van Francoise se eie woorde aanhaal wat betref die afsterwe van ‘n familielid of vriend, soos dit verskyn het in die 24 Januarie artikel: “Hulle is nie net weg uit die lewe wat hulle met jou gehad het nie, hulle is weg uit die lewe wat nog moet kom. Dit is hoekom dit belangrik is om iemand toe te laat om te treur. Te huil. Te skreeu. Om uitmekaar te val. Laat mense toe om te treur, want daarin vind mens afsluiting en in afsluiting vind mens aanvaarding, wat tot genesing lei.”

 

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...