Streekhofaanklaer Hilke Janse van Rensburg het hierdie week die Soutpansberg vaarwel toegeroep en begin op 1 November 'n nuwe loopbaan as streekhofaanklaer in Pretoria.

Hilke verruil rustige Bosveld vir die besige stad

Date: 03 November 2019 By: Andries van Zyl

Viewed: 949

Ná bykans twee dekades het streekhofaanklaer Hilke Janse van Rensburg van Louis Trichardt besluit om die Soutpansberg vaarwel te roep en die Bosveld se rustigheid te verruil vir die stadslewe om nader aan haar bejaarde ouers te wees.

“Die Soutpansberg was vir my goed gewees. Ek is hier getroud en het my kinders hier gehad. Hulle is deur ‘n skool en ek dink dit is ‘n ongelooflike voorreg om in ‘n plattelandse skool te kan grootword. Stephan het nou nog vriende van kleuterskool. Die slegte ding, ja, was my egskeiding. Maar dit is die lewe. Die is nie Louis Trichardt of die Soutpansberg se skuld nie,” het Hilke gesê.

Hilke het in 2000 as distrikhofaanklaer by die hof op Louis Trichardt begin werk. Sewe jaar later is sy bevorder tot streekhofaanklaer.

“Dit was harde werk gewees,” het Hilke gesê. Tog het sy elke dag met ywer aangepak. “Ek wil nie die cliché gebruik van ‘ek leef my droom nie’, maar ek is een van daardie mense wat in die oggend opstaan en geniet om werk toe te gaan. Nie elke dag is lekker nie, maar ek hou van wat ek doen. Ek hou daarvan om die gemeenskap te dien, want dit is wat ek op die einde van die dag doen. Ek staan aan die regte kant van die draad. Ek staan aan die kant waar ek die krimineel wil verantwoordelik hou vir wat hy doen. Ek dink dit is hoekom ek so lief is vir my werk,” het Hilke gesê.

In haar 19 jaar as aanklaer op Louis Trichardt was daar baie hoogtepunte en laagtepunte vir Hilke gewees. Wat hoogtepunte betref, is daar twee sake wat uitstaan.

Die een saak het sy verlede jaar afgehandel waar sy 13 jaar lank in ‘n georganiseerde misdaad saak aangekla het en suksesvolle skuldigbevindings gekry het. “Hy het 13 jaar gevat en ek het al agt beskuldigdes skuldig gekry,” het Hilke gesê. Die saak het gehandel oor ‘n sindikaat wat sigarette smokkel. Die sigarette is oorgrens vanaf Zimbabwe gesmokkel. “Die groot sukses in hierdie ding is dat die groot rampokker, die ontvanger van die sigarette in Boksburg, ook skuldig bevind is aan rampokkery. Tot vandag toe nog is dit die enigste rampokkery saak in Limpopo,” het Hilke gesê.

Haar tweede hoogtepunt bring tot vandag toe nog trane in Hilke se oë.  Dit was ‘n saak waarin sy in die hof op Waterval ‘n man aangekla het van nege klagte van verkragting in 2012. Sy is gevra om die saak te doen en dit was haar eerste reeksverkragter saak. “Wat hierdie ou gedoen het … was om na hierdie magogos wat so in die veld staan en hout kap te gaan en hulle dan te verkrag. Daarna het hy hulle selfone gevat en hulle brutaal aangerand. Met elke verkragting het hy meer brutaal geraak, tot die laaste slagoffer wat ons weet deur sy hande is, ná ‘n maand in die hospitaal oorlede is,” het Hilke gesê.

Die man was uit op parool vir verkragting toe hy die nege gogos verkrag het. Die saak was egter in ‘n ander opsig vir Hilke ‘n moeilike een. “Dan kom ek daar, dan kom al hierdie magogo’tjies in hulle tradisionele Shangaan-klere daar aan. Hulle kan nie vir my kyk en hulle wil nie met my praat nie want ek is die lekgowa [‘n Afrika-woord wat neerhalend na ‘n wit mens verwys]. Uiteindelik kry ek die bliksem skuldig op al nege klagte … Jy moet onthou, die mense in Waterval het nie van my gehou nie, want Rambau is klaar gearresteer en Waterval was sy ‘hot spot”. [Hilke het verwys na senior streekslanddros Ronnie Rambau, wat in 2010 op klagte van korrupsie gearresteer is en eers in 2018 op die klagte skuldig bevind is]. So as ek daar aankom, kry ek net ‘n koue ‘Môre’. Niemand hou van my nie, niemand praat met my nie, ek doen my werk en ek is in en ek is uit,” het Hilke gesê.

Haar skuldigbevinding van die reeksverkragter het egter die mense se sentiment oor haar geswaai. Die man is nege lewenslange vonnisse opgelê, met ‘n bevel van die hof dat die vonnisse nie gesamentlik uitgedien mag word nie. Ná sy skuldigbevinding het die hele galery in die hof hande geklap. Hilke het in die hofsaal agtergebly om haar dossiere af te teken. Die galery was leeg, maar sy het opgemerk dat nie die ondersoekbeampte, die stenograaf of die hoftolk die hofsaal verlaat het nie. Dit gebeur volgens Hilke nooit dat hulle agterbly nie. “Ek sê toe vir die ondersoekbeampte hy kan die dossier Maandag kry en moet dit net afteken. Nee, sê hy vir my, hy wil dit dra. Ek sê toe dit is reg en ek staan op. Soos ek my handsak wil vat, vat die stenograaf my handsak. Toe ek my toga wil vat, toe vat die ondersoekbeampte my toga. Die tolk vat my tas. Ek vra toe vir hulle wat aan die gang is? Nee sê hulle, hulle wil net vir my dankie sê deur die goed vir my kar toe te dra. Ek was baie dankbaar, want dit was nege dossiere, my tas, my toga, handsak – ‘n klomp goed. Ons stap toe uit die hof…” het Hilke vertel.

Dit was wat vir haar buite die hof gewag het wat trane in haar oë gebring het. “Toe ek daar uitkom, staan die hele gemeenskap daar met daardie agt vroue voor en hulle gaan sit soos een massa ... ek begin nou nog huil as ek dink daaroor ... en daar kom ‘n ou na my toe en sê hy wil net namens die gemeenskap vir my dankie sê. Toe begin hulle vir my sing toe ek kar toe stap … ek het gehuil vir ‘n hele naweek…” het Hilke gesê.

Dit was juis hierdie saak wat Hilke laat besef het wat haar werk werklik behels. “Dit is wat ek hier gedoen het. Ek was nie hier vir ‘n salaristjek nie. Ek was nie hier vir die status nie. Ek was nie hier om om ‘n braaivleisvuur te kan vertel wie het nou weer vir wie geroof nie … daar het ek werklik besef wat my werk is. My werk is nie die toga of die status nie. My werk is die mense wat hier inkom,” het Hilke gesê.

Wat laagtepunte betref, was Hilke vinnig om hulle by die naam te noem. Vir die doel van hierdie artikel sal ons nie daarop ingaan nie. “My laagtepunte was die sake wat ek verloor het as gevolg van korrupsie. Dit maak my woedend. Die korrupsie in die sisteem maak my woedend,” het Hilke gesê. Van die sake was sake waarin Rambau die landdros was.

Terug by haar ervaring van die Soutpansberg het Hilke gesê sy sou nooit kon dink dat sy hier sou wortelskiet nie. Dit maak die weggaan soveel hartseerder vir haar. “Ek was maar die city girl wat hiernatoe gekom het. Aan die begin was ek baie ongelukkig. Maar ek is baie lief vir hierdie berg en die mense van die dorp … Ek dink dit wat ek die meeste gaan mis is die verhoudinge wat ek hier opgebou het … daardie fietsry in die berg. Dan kom jy om ‘n hoekie en jy kry vir Robbie [Novella], of vir Mark [Archer] of vir Isabel [Venter]. Ag, ek gaan dit mis,” het Hilke gesê.

Te midde van die hartseer is Hilke egter opgewonde oor die toekoms saam met haar lewensmaat, Dieter Meyer. “Of course gaan Dieter saam,” het Hilke met ‘n groot glimlag gesê. Hy is in die proses om terug te keer polisie toe.

Hilke begin amptelik op 1 November by die landdroskantoor in Francis Baardstraat in Pretoria. Dan sal sy uitvind waar sy as streekhofaanklaer geplaas sal word. “Dit is nog ‘n verassing. Dit moet in Pretoria wees, so ek hoop vir Cullinan of Bronkhorstpruit. Dit is my eerste keuses. Dan miskien Pretoria Noord. Maar ons sal maar kyk. Beggars can’t be choosers,” het Hilke gesê. Haar kinders, Stephan en Natasha, werk albei en bly vir eers in die Soutpansberg aan.

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...