Die Minister van Polisie, generaal Bheki Cele, wat verlede Vrydag die hersiene Nasionale Landelike Veiligheidstrategie op Louis Trichardt kom loods het. Sy toespraak is voorafgegaan met ‘n besoek aan Limpopo Melkery en die Vhumatshelo Projek buite die dorp. 

“Los die verskonings en werk saam”

Date: 19 October 2019 By: Andries van Zyl

Viewed: 922

Louis Trichardt was verlede Vrydag ‘n miernes van blou uniforms met die Minister van Polisie, generaal Bheki Cele, wat die hersiene Nasionale Landelike Veiligheidstrategie hier kom loods het. Maar wat maak hierdie plan anders as die regering se vorige twee probeerslae om dié strategie in werking te stel en hoe kan die gewone man op straat ‘n verskil maak?

“Ek glo hierdie plan kan werk as almal saamwerk,” het mnr. Christo Snyman, hoof koördineerder van Soutpansberg Landelike Veiligheid, gesê.

Die strategie is die eerste keer in opdrag van oud-President Nelson Mandela op 10 Oktober 1998 geloods en daarna weer op 10 Oktober 2011. “Die rede hoekom die vorige planne nie van die grond af kon kom nie, was onder andere omdat almal nie ingekoop het in die idee nie,” het Snyman gesê.

Minister Cele het in sy toespraak herhaaldelik genoem dat die sukses van die plan in mense se samewerking geanker is. “Daar is uitdagings waaraan ons almal moet aandag gee. Eerstens, daar moet eenheid tussen mense wees,” het Cele gesê. Hy het die belangrikheid van landelike veiligheid beklemtoon, veral ten opsigte van voedselsekerheid. Hy het genoem dat misdaad in landelike gebiede, veral op plase waar veediefstal ‘n groot probleem is, voedselsekerheid in gedrang bring en kan lei tot armoede en hongersnood.

Die rede waarom juis Louis Trichardt gekies is vir die loods van hierdie Nasionale Veiligheidstrategie dien weliswaar as ‘n pluimpie in die hoed van die Soutpansberg-gemeenskap. Dit was te danke aan die feit dat baie goeie samewerking reeds bestaan tussen die polisie en landelike veiligheidstrukture soos die plaaswagte en Soutpansberg Dorpswag en kleiner groeperings van Veiligheidsgroepe. “Die Soutpansberg het reeds gewys dat die plan kan werk, maar daar is nog baie harde werk wat voorlê,” het Snyman gesê.

Die spesifieke detail van die plan is nog nie beskikbaar nie, aangesien die hersiene plan nog nie amptelik in werking gestel is nie. Verskeie aspekte van die plan is egter reeds bekend.

Wat rolspelers betref, sluit dit in dat alle georganiseerde landboustrukture moet saamwerk in ‘n vennootskap om ‘n veilige landbou-omgewing daar te stel tot bevordering van voedselsekuriteit. Van die polisie se kant af is daar ‘n onderneming om hulpbronne en toerusting beskikbaar te stel vir die doel. Dat die minister erns het met die saak, was onder meer duidelik uit sy versoek dat die polisie met dieselfde ywer moet reageer ten opsigte van misdade op plase as wat hulle reageer ten opsigte van transito rooftogte.

“Die verskil tussen die ou Landelike Veiligheidsplan en die nuwe Landelike Veiligheidsplan is daar was aanvanklik baie gekonsentreer op plaasboere en plaasarbeiders en die aanvalle op hulle. Maar die nuwe Landelike Veiligheidsplan gaan nie net oor boere en hul werkers se veiligheid nie. Dit gaan oor die hele landelike gemeenskap, wat dorpe insluit,” het Snyman gesê.

Op plaaslike vlak skakel die bestaande landelike veiligheidstrukture reeds maandeliks op stasie-, streeks- en provinsiale vlak met die polisie. “Dit is hoekom ons Soutpansberg Veiligheidsbestuur die landelike veiligheidsplan so dryf. Ons het ‘n landelike veiligheidsbestuur in Louis Trichardt en ook ‘n Soutpansberg Landelike Veiligheidstruktuur wat met die top struktuur van die polisie skakel … Dit gee vir ons direkte toegang tot die polisie se topbestuur op provinsiale vlak. Die hele idee van die landelike veiligheidsplan gaan daaroor dat ons ‘n oop deur het om ons probleme te gaan bespreek met die polisie tot op provinsiale vlak en verder, sou dit nodig wees,” het Snyman gesê en bygevoeg dat samewerking tussen hulle en die polisie in hierdie stadium baie goed is. “Die nuwe Landelike Veiligheidstrategie versterk net ons hand met wat reeds in plek is om vir die instansies wat voorheen nie hulle werk gedoen het nie en nie so betrokke was nie, te kan sê: Luister hier, sien julle dit is die stelsel wat selfs die regering goedkeur en wil hê ons moet dit implementeer? Los nou die verskoning en kom ons werk almal saam,” het Snyman gesê. Volgens hom is die tyd verby om op die kantlyn te staan en skreeu. “Elke lid van die publiek moet betrokke wees,” het Snyman gesê.

Maar waar pas Jan Alleman in? “Dit is hoekom ons plaaswagte [en die dorpswag] stig. Want ons is erkende strukture binne die landelik veiligheidsgemeenskap,” het Snyman gesê. Die plaaswagte en dorpswag is nog altyd ‘n vrywillige struktuur waar mense betrokke kan raak ten einde eie gemeenskapsveiligheid te bevorder in ‘n poging om na mekaar om te sien.

“Hulle [die publiek] moet die bestaande strukture wat daar is ondersteun. Dit gaan nie net oor ledegeld nie. Daar is kwytskelding vir mense wat dit nie kan bekostig nie, so die mense moet nie kom met ‘n verskoning van die mense gebruik dit net as ‘n geldmaakskema nie. Daar is vaste kostes betrokke, soos die onderhou van inventaris items, telefoonkoste, die bedryf van die dorpswagkantoor en die aankoop van toerusting/uniform en skryfbehoeftes. As jy kyk na toerusting, praat jy van radio’s, koeëlvaste baadjies, kameras en ons sal bitter graag in die toekoms die lede wat patrollie ry wil help met brandstoftoelaes,” het Snyman gesê.

Snyman het mense aangespoor om betrokke te raak en te help om die landelike veiligheidstrategie te laat werk. “Gaan maak ‘n draai by die dorpswagkantoor en vind uit hoe jy kan help, of skakel jou plaaswagvoorsitter,” het Snyman gesê.

Verskeie instansies het Vrydag hul steun aan die hersiene Nasionale Veiligheidsplan toegesê, insluitend die TLU SA en Agri SA. Mnr. Henk van de Graaff van TLU SA het tydens die geleentheid gesê dat al wat hulle lede wil doen is om kos op mense se tafels te sit. “Elke aanval op ‘n boer of ‘n plaaswerker is ‘n bedreiging ten opsigte van voedselsekuriteit. Elke keer as ‘n bees, skaap of hoender gesteel word, is dit ‘n bedreiging vir voedselsekuriteit. As die oes gesteel word, is dit ‘n bedreiging vir voedselsekuriteit en ons wil nie ‘n revolusie sien weens leë kosborde op die tafel omdat daar nie kos is nie. Dit is hoekom ons wil boer, en ons wil dit in veiligheid doen,” het Van de Graaff gesê. Hy het bygevoeg dat die minister se teenwoordigheid verlede Vrydag die landbougemeenskap hoop gee dat daar ‘n politieke wil is om landelike veiligheid te handhaaf.

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...