ADVERTISEMENT:

 

 
 

Popallin Ranch se laaste drie witleeus, ‘n mannetjie van 10 jaar,  'n dragtige wyfie en een van haar vorige werpsels, is Dinsdagoggend deur stropers vergiftig. Hulle koppe en pote is daarna afgekap, moontlik vir die Sjinese mark wat die tande en naels vir “medisinale” doeleindes gebruik. Foto’s verskaf.

Stropers onthoof Popallin se laaste drie witleeus

Date: 27 July 2019 By: Andries van Zyl

Popallin Ranch noord van die Soutpansberg het nou geen witleeus meer oor nie, nadat stropers hierdie week die laaste drie vergiftig en hulle koppe en pote afgesny het.

“So, ná 10 dae slaan hulle weer toe … die laaste van die witleeus is vergiftig en weer koppe en pote afgesny,” het Tania Bezuidenhout Dinsdagaand gesê. Sy het verwys na hul teelmannetjie, ‘n dragtige wyfie en een van haar vorige werpsel. Op 12 Julie het stropers nog ‘n dragtige wyfie, asook ‘n witleeumannetjie, doodgemaak en hulle koppe en pote afgesny.

Die jongste voorval het tussen 04:00 en 05:00 Dinsdagoggend plaasgevind. Dit het die personeel van Popallin Ranch, ‘n baie gewilde toeriste aantreklikheid juis vanweë hul witleeus, verpletterd gelaat. “Ons almal is bietjie af vandag [Dinsdag]. Dit is ‘n groot verlies vir ons. My pa het daai mannetjie en wyfie met die hand grootgemaak,” het Tania gesê. Die mannetjie was al 10 jaar oud.

Popallin Ranch se stryd teen stropers, veral wat hul leeus betref, is die vorige week op die voorblad van die Zoutpansberger uitgelig. Met die gru-foto’s van dooie, onthoofde leeus nog vars in die geheue, is daar nou nog foto’s waar die leeus, as koning van die oerwoud, kop- en pootloos in hul eie plasse bloed lê. Dat Tania-hulle kwaad is, is om dinge lig te stel. “Eintlik is ek die bliksem in, om dit mooi te stel,” het ‘n uiters ontstoke Tania gesê.

Buiten vir Dinsdag se drie leeus en 12 Julie se twee, het stropers oor Desember verlede jaar nog twee ander leeus vergiftig en hulle koppe en pote afgesny. Kort vantevore is drie ander leeus met gif doodgemaak, maar die booswigte moes deur iets of iemand gehinder geword het, want die leeus se koppe en pote is nie afgesny nie.

Die Malaladrift-grondpad loop deur Popallin Ranch. Dit is juis vanaf hierdie grondpad wat stropers toegang tot die leeukampe verkry. Die leeus word doodgemaak deur vleis wat met ‘n plaagdoder besmet is vir hulle te gooi. Dit is ‘n uiters wrede manier om iets dood te maak. Die vermoede bestaan dat die koppe en pote vir die Sjinese mark bestem is, wat die tande en naels blykbaar vir “medisinale” doeleindes gebruik.

Wat egter die bestuur van Popallin Ranch versteur, is die gebrek aan arrestasies in dié verband. Sedert Desember verlede jaar het hulle geen terugvoer gekry van die plaaslike polisie daar by wie die saak aanhangig gemaak is nie. Dit het hulle genoop om intussen hulp van die provinsiale polisie in te kry, met ‘n persoon wat help met die ondersoek. “Daar is baie leidrade wat hulle opvolg, maar mense moet gevang word en gou ook,” het Tania gesê.

Nuus van die wrede en onmenslike slagting van Popallin Ranch se leeus het talle inwoners die afgelope week erg ontstel. Die jongste slagting sal eweneens nie goeie nuus vir hulle wees nie. Intussen het senior inspekteur Lawrence Khodobo van die Dierebeskermingsvereniging in Louis Trichardt ook gereageer. Hy het aangeraai dat die bestuur van Popallin Ranch die saak direk aanmeld by die NSPCA (National Society for the Prevention of Cruelty to Animals) se wildlewe-eenheid. “Hulle kan klaers behulpsaam wees, want baie keer neem die polisie nie klagtes soos hierdie ernstig op nie. Die eenheid sal dan van hulle kant af die saak opvolg met die polisie,” het Khodobo gesê.

 

 
 
 

Viewed: 3422

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Popallin Ranch se laaste drie witleeus, ‘n mannetjie van 10 jaar,  'n dragtige wyfie en een van haar vorige werpsels, is Dinsdagoggend deur stropers vergiftig. Hulle koppe en pote is daarna afgekap, moontlik vir die Sjinese mark wat die tande en naels vir “medisinale” doeleindes gebruik. Foto’s verskaf.

Popallin Ranch se laaste drie witleeus, ‘n mannetjie van 10 jaar,  'n dragtige wyfie en een van haar vorige werpsels, is Dinsdagoggend deur stropers vergiftig. Hulle koppe en pote is daarna afgekap, moontlik vir die Sjinese mark wat die tande en naels vir “medisinale” doeleindes gebruik. Foto’s verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT