ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 45-jarige mnr. Tony Strydom, wat in Julie 2016 op ‘n kleinhoewe buite Louis Trichardt doodgeskiet is. Sy tweede vrou en eie twee seuns verskyn tans in die hof op Louis Trichardt op aanklag dat hulle betrokke was by sy moord.

Jongste seun ook in hof oor pa se moord

Date: 04 May 2019 By: Andries van Zyl

Die Staat het nog ‘n persoon in die beskuldigde bank geplaas vir die moord op die 45-jarige mnr. Tony Strydom in 2016, dié keer sy jongste seun, die 23-jarige Pieter Strydom.

Tony het saam met sy tweede vrou, Rieta Strydom (née Brown), en sy seuns, Hendrik en Pieter, in ‘n huurhuis op een van die Ridgeway-plotte (aangrensend tot Leeustraat) net buite Louis Trichardt gebly. Sy liggaam is Saterdag, 2 Julie 2016, in die veld nie ver van sy huis af nie, gevind deur sy twee seuns. Hulle het volgens hulle verklaring aan die polisie destyds gesê hulle het na hom gaan soek toe dit begin donker word en hy nie huis toe gekom het nie. In daardie stadium het die familie aangevoer dat Tony vroeër die dag alleen op die plot se skietbaan sou gaan teiken skiet het.

Sedert sy liggaam gevind is, was die omstandighede wat gelei het tot sy dood ‘n raaisel. Die nadoodse ondersoek sou aan die lig bring dat hy dood is vanweë ‘n enkele koeëlwond in sy rug. Dit het die moontlikheid van ‘n skietongeluk uitgeskakel. Dan was daar die moontlikheid dat hy geskiet is tydens ‘n rooftog. Al wat egter vermis was vanaf die toneel was sy vuurwapen. Sy persoonlike besittings en beursie was nog in sy bakkie. Weens die bevindinge van die nadoodse ondersoek het die polisie ‘n moordsaak geopen. Die saak is later na ‘n geregtelik doodsondersoek verander en toe later gesluit vanweë ‘n gebrek aan leidrade en inligting.

Die saak sou egter ‘n paar weke gelede ‘n dramatiese wending neem nadat Tony se vrou Rieta (66) en seun Hendrik (25) op 5 April in die hof op Louis Trichardt sou verskyn het op klagte van die moord op Strydom. Hulle is elk op R1 000 borg vrygelaat. In daardie stadium het die Staat aangedui dat hulle nog arrestasies in verband met die moord verwag.

Dit het Maandag aan die lig gekom dat die 23-jarige Pieter Strydom hom aan die polisie in Standerton oorgegee het, waarna ook hy Maandag in die hof op Louis Trichardt verskyn het op klagte van die moord op sy pa. Hy is nie gevra om te pleit nie, maar is as beskuldigde drie op die klagstaat bygevoeg saam met sy stiefma en broer. Ook Pieter is op R1 000 borg vrygelaat en sal op 24 Mei weer saam met sy stiefma en broer in die beskuldigdebank staan.

Wat presies dié noodlottige dag gebeur het en wat aanleiding gegee het tot Tony se dood sal hopelik in die hofsaak uitkom. Wat wel blyk ‘n feit te wees is dat die drie beskuldigdes almal by die huis op die kleinhoewe was toe Tony geskiet is. Rieta sou klaarblyklik weens ‘n skuldige gewete aan ‘n familielid erken het wat gebeur het. Volgens inligting tot die koerant se beskikking is die verklaring wat sy oor die gebeure die dag afgelê het egter nie aanvaarbaar as bewysstuk in die hof nie, aangesien sy dit nie voor ‘n landdros afgelê het nie.

Tony se ma, die 69-jarige Magda Strydom, het na Rieta en Hendrik se verskyning gesê sy wou nog altyd weet wat daardie noodlottige dag gelei het tot haar seun se wrede dood.

 

 
 
 

Viewed: 1072

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT