ADVERTISEMENT:

 

 
 

V.l.n.r. Onward Muchagowa, Niklaas van Deventer en sy broer Deon afgeneem kort ná hul arrestasie in Januarie 2017. Foto's verskaf.

Vermeende stropers vra hof vir borg weens “nuwe feite”

Date: 02 May 2019 By: Andries van Zyl

Twee van die drie mans wat in die distrikshof in Louis Trichardt teregstaan op klagte van renosterstropery het verlede Vrydag, 26 April, ‘n nuwe feite borgaansoek gebring.

Broers Deon (49) en Niklaas van Deventer (52) en medebeskuldigde Onward Muchagowa (42) is in aanhouding, nadat hulle op 6 Januarie 2017 gearresteer is toe hulle glo ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tyde van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hul bakkie se venster uitgegooi het.

Hulle aanvanklike borgaansoek is in Mei 2017 van die hand gewys op grond daarvan dat hulle moontlik verdere oortredings sal pleeg. Tydens hulle borgaansoek het dit aan die lig gekom dat Deon skuldig gepleit het op ses aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters vanaf 14 Desember 2005 tot en met Mei 2006. In een geval het hy twee renosterbulle en een renosterkoei naby Mbabane in die Kruger Nasionale Park doodgemaak en hul horings gestroop. Deon is toe gevang en op 29 Mei 2006 op borg van R10 000 vrygelaat. In die daaropvolgende drie maande het Deon skuld erken op ‘n verdere drie aanklagte wat verband gehou het met die dood van nog ses renosters.

In die saak, wat tans voor die Louis Trichardt Landdroshof dien, word daar vermoed dat die drie mans verbind kan word met twee afsonderlike gevalle waar renosters doodgeskiet en gestroop is van hulle horings.

Sedert hul arrestasies het die broer en hul medebeskuldigde al etlike kere in die hof verskyn. Hulle verskyning het telkens tot ‘n uitstel gelei.

Slegs Deon en Onward het verlede Vrydag ‘n nuwe feite borgaansoek gebring.

Die nuwe feite wat Deon aangevoer het is die feite dat hy nou al vir twee jaar in aanhouding is sonder dat daar ‘n verhoor teen hom begin is. Onward het op sy beurt aangevoer (as nuwe feite) dat hy in 2016 ‘n skool sou gehelp het met krag en watervoorsiening. Hy was ook ongelukkig dat hy vir meer as twee jaar al in aanhouding is sonder verhoor en het gesê die Staat het geen saak teen hom nie. Volgens hom beskik die Staat nie oor genoegsame bewyse wat daartoe sal lei dat hy suksesvol skuldig bevind word nie.

Uitspraak in die nuwe feite borgsaansoek is tot Vrydag, 3 Mei, voorbehou.

 

 
 
 

Viewed: 705

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT