‘n Trotse familie … Ma Riana, Jeanne-Mari en Pa Freek, afgeneem tydens Jeanne-Mari se gradeplegtigheid verlede week. In die voorgrond, ook netjies uitgevat in haar eie toga vir die geleentheid, is Jeanne-Mari se gidshond Ebba. Jeanne-Mari was die eerste volledige blinde persoon met  'n gidshond wat toegelaat is by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Daardeur het sy die universiteit gehelp om die weg te baan vir ander siggestremde persone om tot die universiteit toegelaat te word. Foto verskaf.

Blinde ambisie

Date: 31 March 2019 By: Andries van Zyl

Viewed: 819

Dit is moeilik vir pa Freek en ma Riana Viviers van Louis Trichardt om nie te wys hoe trots hulle op hul dogter, die 27-jarige Jeanne-Mari Viviers, is nie

Jeanne-Mari het plaaslik geen bekendstelling nodig nie. Sy is reeds goed bekend vir haar durf as ‘n blinde meisie in ‘n siende wêreld. Sy is op tweejarige ouderdom gediagnoseer met ‘n seldsame vorm van kanker, retinoplastoom. Ná talle oogoperasies het Jeanne-Mari egter die sig in altwee haar oë verloor.

Op Dinsdag, 19 Maart, het Jeanne-Mari saam met haar gidshond Ebba en pa Freek op die verhoog gestaan om haar LLB-graad vanaf die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU PUKKE) te ontvang. Sy is staande toegejuig tydens die geleentheid deur haar professore en mede-studente.

Min mense besef egter juis hoe merkwaardig hierdie prestasie is. Pa Freek het Dinsdag bietjie lig gewerp op die struikelblokke, maar in Jeanne-Mari se geval was dit eerder uitdagings wat sy met vlieënde vaandels oorkom het.

Net om keuring te kry by ‘n universiteit was vir hierdie oud-leerling van Prinshofskool vir siggestremdes in Pretoria moeilik. “Kyk, sy wou eintlik ‘n aktuaris geword het en ons het haar by Tukkies gehad. Maar die probleem wat hulle gehad het, en hulle was baie gaaf en vriendelik daaroor, was die sig. ‘n Aktuaris moet modelle en grafieke kan lees … Ek dink Jeanne-Mari het toe maar besluit sy gaan dit nie doen nie,” het Freek gesê.

Daar was egter steeds ‘n begeerte in Jeanne-Mari om meer te wees as wat sy is. Dit het haar aangespoor om haar graad in besigheidsbestuur deur Unisa te verwerf in 2014. Tog was dit steeds nie genoeg nie.

Jeanne-Mari het gaan navorsing doen en besluit op 'n rigting in die regte. Sy het aansoek gedoen vir keuring by NWU, maar sy was te laat. “Daar was egter ‘n ou op die Potchefstroom-kampus wat werwings by die skole doen. My broer het met hom kontak gemaak en vir hom gevra of hulle nie vir Jeanne-Mari deur middel van die senaat by die universiteit kan inkry nie. Dit was toe ook so gewees. Ons het nie eers geweet dat sy dit gekry het nie. Die dag van die opening, toe sê hulle vir ons ons moet daar wees,” het Freek gesê.

Maar vir Freek-hulle was dit nie so maklik soos vir ander ouers om hul kind te groet en universiteit toe te stuur nie. Dit is waar Ebba, wat deur die Gidshondvereniging vir Jeanne-Mari opgelei is, op die toneel verskyn het.

Ebba en Jeanne-Mari moes eers teen die einde van 2014 mekaar leer ken. Teen Januarie 2015 moes sy en Ebba vroeg op kampus wees om die roetes van haar koshuiskamer na haar klasse te leer. Dit was lank voordat die res van die studente sou opdaag. “Jy sien, dit werk so: Die blinde persoon moet weet waar die klas is, anders weet die hond nie waarheen om te gaan nie … Mense dink as jy ‘n gidshond het, vat hy jou orals heen. Al wat die hond egter doen is om seker te maak jy loop nie in iets vas nie. Die hond moet weet waarheen sy moet loop, so iemand moet haar lei,” het Freek gesê. Net om vanaf haar koshuiskamer na haar klasse te gaan was nie altyd maklik nie. “As hulle haar klas sou skuif van Kamer 2 na Kamer 4 was albei gestrand, want nie Jeanne-Mari of Ebba het nie die roete daarna toe geken nie,” het Freek gesê.

Jeanne-Mari het ook ‘n geweldige uitdaging gehad as dit gekom het by haar leerwerk. Gelukkig was meeste van haar handboeke in E-boek formaat beskikbaar wat vir haar voorgelees kon word. Dit was egter nie die geval met haar ekstra studiemateriaal nie. Hier het pa Freek en Jeanne-Mari ‘n stelsel gehad waar hy van haar studiemateriaal op rekenaar sou intik en vir haar elektronies aanstuur. Aan die ander kant het Jeanne-Mari sagteware gehad wat die dokument sou omskakel sodat dit vir haar voorgelees kon word.

“Ek het ure en ure en dae en nagte spandeer om PowerPoint aanbiedings vir haar te verwerk en om te skakel. So ‘n week voor eksamen het ek party dae nie eers ingekom kantoor toe nie. Sommige van daardie aanbiedings het my vier ure geneem, net een, om te verwerk. Dit is hoekom ek sê ek weet hoeveel ure Jeanne-Mari daarin gesit het. Sy moes elke een van daardie goed leer,” het Freek gesê.

Volgens Freek het Jeanne-Mari se skerp geheue haar meestal gehelp met haar studies. “Nee kyk, haar geheue is ongelooflik. Sy het ‘n geheue wat skrik vir niks nie. Dit is waar ek en jy tekortskiet. Ons gebruik nie ons geheue nie, want ons kan sien,” het Freek gesê.

Jeanne-Mari doen tans haar klerkskap by die prokureursfirma Du Toit, Smuts en Vennote in Mbombela (Nelspruit). Net om werk te kry as blinde persoon was ook ‘n enorme uitdaging.

“Laat ek jou vertel, sy het seker by 200 plekke aansoek gedoen vir werk. Dit wys jou hoe diskriminerend mense is. Veral met die aanlyn-aansoeke vra hulle jou naam, ID-nommer en die volgende ding wat hulle vir jou vra is of jy ‘n geldige rybewys het? Die oomblik as jy sê nee, gooi die program jou uit en jy kan nie verder gaan nie,” het Freek gesê.

Van al daardie 200 aansoeke het net agt mense na Jeanne-Mari teruggekom. Die firma in Mbombela was een van hulle. “Per toeval het sy klaar eksamen geskryf. Toe sê ek vir haar: Luister, kom ons ry van Potch af Nelspruit toe dat jy vir ‘n onderhoud kan gaan. Ons het toe gegaan vir die onderhoud. Sy moes die oggend agtuur daar gewees het. Ons het die vorige aand deurgery, oorgeslaap en die oggend agtuur was sy daar. Dit was ‘n Maandagoggend. Toe sy klaar was [met die onderhoud] het een van die vennote, saam met drie van die ander direkteure, insluitend die baas, uitgekom en gesê hy sal haar voor Vrydag laat weet. Ons ry toe terug Pretoria toe … toe ek by Pretoria petrol ingooi, het hy al twee keer gebel om te sê sy het die werk gekry,” het Freek gesê.

Volgens Freek verwag Jeanne-Mari geen spesiale behandeling nie. “Die probleem wat sy het, is almal sien haar as ‘n blinde en nie ‘n persoon wat kan werk nie. Ek bedoel, sy kan werk – sy kan werk soos wat ek en jy kan werk. Sy het vir hulle [haar nuwe werkgewer] in ‘n stadium reguit gesê sy is nie ‘n liefdadigheidsgeval nie, sy is daar om te werk,” het Freek gesê.

Harde werk is Jeanne-Mari se lewensfilosofie. “Ek sal vir jou sê, daardie girl het harde werk ingesit … Jy moet onthou sy was van Graad 1 af in die koshuis. Daar was nie ‘n ding van ‘kom sit, laat Pappa jou gou kan help of vra het jy jou werk geleer nie’. As sy nie haar werk geleer het nie, het sy die nagevolge daarvan gedra … Dit is hoekom sy elke liewe ding in haar lewe beplan. Sy beplan vir elke eksamen en elke toets. Sy beplan vir elke vakansie. In Februarie het sy al klaar plek bespreek vir Desember. Sy doen dit self. Ek doen dit nie eers nie … Dit is hoekom sy is waar sy is. Sy sit nie agteroor en wag vir iets om te gebeur nie. Sy laat dit self gebeur. Sy werk daarvoor!” het Freek gesê.

 

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

 
 

More photos...