ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die prentjiemooi De Wet’s Kamp by Popallin Ranch is verlede week deur vloedwater oorstroom, nadat meer as 400 mm reën in sowat 10 ure geval het. Foto verskaf.

Vloedwater angs

Date: 24 February 2019 By: Andries van Zyl

“Dit was soos by die see as die water terugtrek en die golf dan skielik oor jou slaan. Een oomblik was die lodge enkeldiep onder water en toe skielik was die water skouerdiep!” So vertel die 36-jarige Monique Bezuidenhout van die vloedwater wat verlede Woensdagaand groot dele van die gewilde Popallin Range in puin gelê het.

Die prentjiemooi 10 000 ha Popallin Ranch is geleë op die oewers van die Nwanedzirivier sowat 40 km vanaf die Kruger Nasionale pad se Pafuri-hek. Monique en haar man, De Wet, is as eienaars van dié wegbreekplaas welbekend.

“Dit het omtrent so 21:30 hard begin reën,” het Monique gesê. Dit was die aand van 13 Februarie. “Dit het so hard gereën dat, teen 22:30, toe loop ons reënmeter oor. Ons het toe besluit dat as dit teen 23:30 weer 100 mm gereën het [200 mm in totaal], dan moet ons gaan kyk of alles reg is by De Wet’s Kamp.”

De Wet’s Kamp is die hoofkamp by Popallin Ranch, met die Bezuidenhouts wat sowat 900 m hoër op van die kamp af bly. “Toe ons by die kamp aankom, was die lodge reeds enkeldiep onder water. Ons het almal geskarrel om die meubels vanaf die houtdek te kry … So 45 minute later trek die water skielik terug en kom toe weer terug met een groot slag,” het Monique gesê en juis die opmerking gemaak oor hoe vreemd hulle dit gevind het, amper soos by die see as die water terugtrek. Skielik was die enkeldiep water skouerdiep.

“Dit was toe dat De Wet vir ons skreeu om uit te kom!” In daardie stadium was hulle 13 mense wat geskarrel het om meubelment en toerusting te probeer red. Daar was een gas die aand by die lodge, maar dié kon Monique-hulle betyds waarsku en na hoër terrein skuif. Met die vloedwater op hulle, het die groep alles gelos en na veiligheid gevlug.

“Ons wou eers in die parkeerterrein skuiling soek, maar in daardie stadium was die waterstroom reeds te sterk. De Wet het toe gesê ons moet tussen die kamers [chalets] gaan skuiling soek waar die water stiller is,” het Monique gesê.

Volgens Monique het dit hulle nie minder nie as drie-en-‘n-half ure geneem om vanaf Kamer 2 tot Kamer 4 te vorder, met elk van die kamers wat sowat 60 m uitmekaar is. “Tussen kamer 3 en 4 was daar ‘n stroom vloedwater. Ons het aan takke en bome geklou soos ons deur die water na veiligheid gespook het. Eers toe ons in die diep water was, het van ons personeel vir ons gesê hulle kan nie swem nie. Ons moes hulle toe een vir een op hulle rûe uitswem,” het Monique gesê.

Monique het gesê dat sy in haar lewe nooit weer so iets wil beleef nie. “Dit is net soveel water en so sterk … Jy worry oor almal behalwe jouself … my kind het begin bid en gevra ‘Here, dit is nou genoeg, asseblief’, net dat ons almal veilig kon uitkom.”

Buiten vir die skade aan De Wet’s Kamp, het hulle ook skade aan infrastruktuur gehad by hul Sigonde Kamp. “Dit is moeilik om ‘n skadeberaming in hierdie stadium te maak. Baie van ons houtmeubels kon ons terugkry,” het Monique gesê.

Maar te midde van die nagmerrie-ervaring en skade gaan dinge normaalweg voort by Popallin Ranch. “Alles is nou weer droog wat bo die grond moes wees. Ons ander kampe is oop. De Wet’s Kamp sal oor so drie weke weer ten volle funksioneel wees,” het Monique hierdie Woensdag gesê. Sy het bygevoeg dat, ten spyte van die skade, hulle baie dankbaar is vir die reën. In totaal, het sy gesê, het hulle daardie aand in ‘n kwessie van 10 ure meer as 400 mm reën gemeet. “Die vloedvlak was hoër as die van die vloede van 2 000,” het Monique gesê. Intussen is berig ontvang van vloedskade ook in omliggende gebiede, tot so ‘n mate dat die DA verlede week gevra het dat die Masisi, Thohoyandou, Madimbo, Tshilamba en Folovhodwe areas tot rampgebied verklaar word.

 
 
 

Viewed: 1716

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die kroeg- en restaurantgedeelte van die lodge by De Wet’s Kamp het groot skade gehad, nadat die Nwanedzirivier sy walle tydens die stortreën oorstroom het. Foto verskaf.

Die jong Ettienne Bezuidenhout (8) wys tot waar die vloedwater by die lodge opgestoot het. Ma Monique het gesê die vloedvlak was hoër as dié van die 2 000 vloede. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT